JOIN OUR MAILING LIST

Soek    

Argief Harde Nuus Bladsy 1

WB 2015: ? (LIGTE) KYKIE VORENTOE

Vier jaar se aftel is verby en die tyd het aangebreek vir die derde grootste sportgebeurtenis in die wêreld, die Rugby-Wêreldbeker. Hierdie toernooi vind vanjaar weer in die Noordelike Halfrond plaas, nes die een van 2007 toe ons Springbokspan die kampioene was.  Watter span gaan aan die einde van hierdie toernooi die William Webb Ellis-trofee, wat sowat 4,5 kg weeg, omhoog hou? Watter impak gaan die beseringspook hê? Hoe lyk ons Springbokspan se kanse? JOHAN RHOODIE gee sy kleurvolle mening.

Heyneke, my ou maat van yster en plaat, moenie alleen voel nie (met apologie aan daai warm beskuldigde wat onlangs ? landdros erg ontstoke na sy hartpille laat gryp het): rassisme, provinsialisme, kortsigtigheid, verkramptheid en sommer plein onnoselheid en nog talle ander toevoegsels, selfs minder vleiend as hierdie lotjie, is elke keurder/afrigter van ’n Springbokspan se voorland.

It comes with the territory

Heyneke Meyer kon sweerlik nie verwag het dat dit vanjaar anders sou wees toe hy sy (ons) 31 uitverkorenes vir vanjaar se Wêreldbeker aangekondig het nie. En ek hoop nie hy het groter ondersteuning verwag nie, want dis nou maar een maal ons ou rugbyvolkie daai. Ons kies almal span. En ons kies almal ? ander span;  ? beter span. So glo ons.

Selfs die heer Ehrenreich het span gekies want ook COSATU wis immers beter en meer van ons nasionale spel.

En net perdalks het Meyer vir dié spulletjie geluister ook want hoe anders kon ? koerant, wat die beleërde afrigter teen die klag van rassisme wou beskerm, dit regkry om ons Spanjoelse senter oornag in ? swart speler te omvorm? ’n Gedwonge sportmetamorfose soos dié, kan jy net in onse landjie kry.

Ek dwaal af. De Wet se opdrag was immers dat ek iets kwytraak oor ons kanse by die Wêreldbeker – nie die aanloop daartoe nie.

Vergeef my dan maar ook my ligsinnigheid oor ons heiligdom hierbo, maar dis De Wet se skuld: hy’t gesê ek moet die storietjie “nie te ernstig” maak nie.

Nie te ernstig nie?

Verstaan die man dan glad nie hoe ernstig hierdie saak werklik is en wat die Wêreldbeker beteken nie? Dat dit ’n verdeelde nasie (tydelik) kan verenig of hom (verder) uitmekaar kan skeur nie? Dat dit triestige trane of ongebreidelde baldadigheid tot gevolg sal hê nie? En dan soek hy ? “ligte” storie.

Nooit!

Maar wag, kom laat ons ons kanse beskou. Ons kon nie vir ? “makliker” groep vir die kwalifiserende wedstryde gevra het nie: een wedstryd elk teen Japan, Samoa, Skotland en die VSA, in daardie volgorde. Ons begin in die verste suide, in Brighton, dan trek die Springbokke noordweswaarts na Aston Villa se tuisveld in Birmingham, dan na Newcastle op die Skotse grens (die naaste wat die Skotte aan hul geliefde Murrayfield in Edinburgh gaan kom) en dan Londen toe vir die wedstryd teen die VSA in die Queen Elizabeth Olympic Park – ? ultramoderne stadion met sitplek vir 54 000 wat bestem is om West Ham United se tuiste te word.

Suid-Afrika behoort al vier hierdie wedstryde te wen, maar ons sal katvoet moet loop vir die Skotse piesangskil: ? glibberige riller teen hierdie befoeterde nasie kan die Bokke ? onherstelbare kopknou toedien met die oog op die pad vorentoe. En daarvan gepraat, wees maar gereed vir die fisieke knoue in daardie rigting teen Samoa. Hulle verkies koppe bo enkels.

Die tweede fase

Kom ons onoorwonne deur ons groep, en verloop ander uitslae na verwagting, behoort ons teen Engeland in die kwarteindronde te staan te kom. Twickenham sal gons, met die druk op die Rose om hul plaaslike ondersteuners tevrede te stel dalk Suid-Afrika se grootste bondgenoot.

Wen ons daar – en ons kan, hoor, – staan daar twee wedstryde tussen die Springbokke en glorie. En in die eerste van daardie twee “eindstryde” wag Nieu-Seeland.

Kan Suid-Afrika die onbetwiste wêreldkampioen op Twickenham onttroon en sodoende deurdring tot die eindstryd (weer op Twickenham) teen waarskynlik Australië, moontlik Ierland?

Ons sal moet glo dat ons die “onmoontlike” kan vermag, want die Mighty All Blacks is nie onoorwinlik nie, soos die Aussies onlangs bewys het en die Springbokke so hittete.

Maar dan gaan dit die soort rugby verg waarvan die meeste van ons so min as moontlik wil sien. Dit sal nie sjampanje-lekker wees nie. Dit sal nie bal-onder-die-arm vernuf, vlugvoetigheid, vindingrykheid en vaardigheid uitstal nie. Dit sal wurgrugby vereis. Die resep is eenvoudig genoeg, maar nie maklik om daarmee vir 80 minute lank teen ? superspan te volhard nie.

Die resep vir die volle 80 minute behels die volgende:

? konstante, “in their face” aggressie;

? volgehoue druk wat die All Blacks dwing om om te draai;

? ? skrum wat oorheers;

? die algehele verbanning van selfs ? enkele doellose skop in die rigting van die Nieu-Seelandse agterste driehoek;

? die oorheersing van botsings rondom die bal op die grond;

? dodelike eerste-poging verdediging – voorkom ruimte deur halwe breekslae en halwe gapings te vermy;

? die gebruik van elke moontlike geleentheid om punte op die telbord te kry, met ? stelskopper wat geensins skeef korrel nie – ? skepskop of twee op die koop toe kan hul harte breek;

? kies die beste 23 (vergeet van sentiment en politieke druk) en wees seker dat elkeen 100% fiks is;

? bekwame wedstrydbeamptes; en, helaas,

? ? bietjie geluk.

Nou vasbyt en vorentoe kyk

Niemand is seker of Meyer die regte materiaal tot sy beskikking het om hierdie taak uit te voer nie. Wat erg pla, is die klaarblyklike gebrek aan wedstrydfiksheid onder sleutelspelers soos Vermeulen, De Villiers, Jannie du Plessis, Louw en Du Preez, almal “leiers” in die beoogde uitsoek vyftiental. Van die “ou manne” in die span is dit skynbaar net Matfield, Habana en Burger wat fiks is.

Sal die opwindende kombinasie van Kriel en D’Allende gekelder word om plek te maak vir die terugkeer van ? mank kaptein? Ry John Smit se spook (met die gepaardgaande weglating van Bismarck) van vier jaar gelede ons steeds?

En moet St Victor die kombinasie van Lood de Jager en Eben Etzebeth versteur omdat ons (verkeerdelik) glo dat hy steeds die beste lynstaanslot op die planeet is? As die Aussies en die Kiwi’s jou dit wysmaak, moet jy jou glad nie laat flous deur die heuningkwas nie en eerder die teendeel glo.

Dan wonder ek ook hoekom die beste loskop in die land (Stephen Kitshoff) tuis moes bly terwyl Coenie Oosthuizen ’n soveelste kans gegun word, kwansuis omdat hy aan beide kante kan skrum, terwyl Trevor Nyakane jou reeds dié luukse doeltreffend bied.

Nouja, ondanks al die bedenkinge en vrae hierbo, is dit ons span daardie.

Mense, kom ons staan agter dié 31 manne. Nie een het homself gekies nie. Nie een sal sy lyf spaar in die stryd om glorie nie. En elkeen is ? speler van internasionale gehalte.

Kom ons staan ewe bankvas agter Heyneke Meyer. Hy’s ons “coach” en hy dra ons land se verwagtinge op sy skouers. En kom ons hoop iemand gooi voor elke wedstryd ? kalmeerpil of ses in sy energiedrankie want histerie is die laaste ding wat ek te siene wil kry terwyl ek self my naels sit en kou.

So, Heyneke, my ou maat van yster en plaat: jy’t gedoen en gekies wat jy glo is reg. Jy’t jou beste kaarte gespeel en ons staan skouer aan skouer langs jou.

Bring net daai beker huis toe.

? Johan Rhoodie is ? stoere sportfanatikus, oud-Paarl Gimmie en ? OudMatie. Hy is bowenal ? prokureur wat in sy lewe ook ? draai by koerante gemaak het.

Terug Terug na bo