JOIN OUR MAILING LIST

Soek    

Afrikaan se wye wortels

 

Afrikaans se wye wortels

Al gehoor van die Jaloersbokkies? Hulle is ’n eg-Kaapse musiekgroep wat die fokus plaas op Suid-Afrika se diversiteit en dit dan deur musiek uitbeeld. Met pragtige kostuums wat herinner aan die vyftigerjare, twee soliste, ’n kitaar,  trompet, kontrabas, tromme en ’n klavier bekoor die groep gehore met tradisionele musiek. ALITA STEENKAMP het met Nedine Blom, een van die stigterslede van hierdie groep gaan praat.

Die wonderlike skakerings van ons kultuur

Suid-Afrika is ’n allegaartjie van verskillende kulture, en die geskiedenisboeke vertel van mense wat uit allerhande windrigtings na ons land hier aan die suidpunt van Afrika gewaai het. Ten spyte daarvan dat ons kulture aansienlik van mekaar verskil, is daar altyd verrassende ooreenkomste of dinge wat oorvleuel. Nedine Blom het in 2011 die geleentheid gekry om saam met Jawaahier Petersen, die dogter van Taliep Petersen, te werk aan die Burger Pops, ’n fondsinsamelingsgeleentheid van die Kaapse dagblad.

Die twee het dadelik baie van mekaar gehou en toe Nedine later by Jawaahier gaan kers opsteek het oor die beste plek om Maleier-kerrie te eet, het Jawaahier haar gou gehelp. Die twee het nie net oor heerlike Kaapse kos gesels nie, maar gou het die gesprekke ook rondom musiek gedraai en hulle het besluit om saam aan ’n projek te werk. Jawaahier het haar broer, Ashur met sy kitaar genooi, en die drie het lekker gejam. Nedine was verras om te hoor Jawaahier en Ashur ken liedjies soos “Daar kom die Alibama”, “Rietjie in die water“, “Bobbejaan klim die berg” en “Hier’s ek weer.”

“Hoe ken julle ons liedjies?”, wou Nedine by die twee Petersens weet. Hulle het net gelag en gesê: “Maar dis onse liedjies.”

Nedine en Jawaahier het koppe bymekaar gesit en besef daar is ’n wonderlike manier om die diversiteit in ons land, juis deur middel van musiek te ontgin. Taliep Petersen het sy hele lewe daaraan gewy om ’n plekkie in die son vir die Maleiergemeenskap in Suid-Afrika te kry. Met musiekblyspele soos District 6 en Ghoema het Taliep beslis die belangrike invloed van die Maleiers op die Suid-Afrikaanse musiekskat onderstreep

Jaloersbokkies kry lewe

In Maart 2013 is die Jaloersbokkies in die lewe geroep. Nedine vertel sy en Jawaahier is die bokkies, en die jaloersdeel van hul naam dui bloot daarop dat hulle ons pragtige Afrikaanse taal op ’n jaloerse manier koester.  Afgesien van die twee stigterslede Nedine en Jawaahier bestaan die groep tans uit Ashur Petersen (kitaar en stem), Carlton Abrahams (trompet), Rhyno Domingo (klavier), Shaan Wocker (tromme), Yazeed Williams (kontrabas) en Junaid Galant (tradisionele Maleisiese sanger).

As slawe na Suid-Afrika gestuur

“Jawaahier het my op ’n dag gevra of ek weet sy is nie regtig ’n Petersen nie. Haar pa het besluit om sy herkoms na te gaan en het ontdek dat sy voorgeslagte se van Boegharnoodien was. Hulle is as slawe uit Indonesië na Suid-Afrika gebring en is deur ene mnr. Petersen gekoop, en moes toe sy van aanneem. In ons vertoning skerts ek en Jawaahier oor die Alibama wat in Tafelbaaihawe aangedoen het.

Ek vertel hoe my grootgrootouma kamstig met haar breërandhoed vrolik gesing het terwyl sy die skip ingewag het. Dan herinner Jawaahier my daaraan dat haar grootgrootoupa dalk op die skip was, maar hy was ’n slaaf. Ons het besluit om die mooi uit die verlede, die herkoms van die Afrikaanse musiek, in ’n musikale storie te vertel. Ons wou van die begin af ’n gevoel van trots ook daar stel. Ons moet almal trots wees op ons wortels, waar alles vir ons begin het, en ons deel graag hierdie homegrown feeling met ons gehore,” vertel Nedine.

Nedine sê dit was gou vir hulle duidelik dat die Suid-Afrikaanse publiek baat  sal vind by Jaloersbokkies, ’n diverse kultuur- en rassegroep wat dan op ’n deernisvolle manier die verhaal vertel van Afrikaans, die slawekultuur en die ontwikkeling van ons kultuur en musiek. Hulle wil graag Suid-Afrikaners verenig deur Afrikaans en liedjies wat hulle kleintyd gesing het. Daar is ook wonderlike geleenthede om hierdie verhaal deur middel van die Jaloersbokkies aan oorsese gehore bekend te stel, en hulle hoop om binnekort ’n deurbraak in daardie rigting te maak.

’n Splinternuwe CD

Asof Nedine nie besig genoeg is met haar meestersgraad in Internasionale Reg en al haar Supercooloptredes nie, werk sy en die ander lede van die Jaloersbokkies op die oomblik hard aan hulle heel eerste CD wat teen Oktober in die handel beskikbaar sal wees. Hierdie CD word moontlik gemaak deur ’n skenking van die Dagbreektrust en die Afrikaanse Taalraad. Nedine sê hulle is baie opgewonde om binnekort die CD in hulle hande vas te hou.

“Ons het liedjies gekies uit die Piekniekliedjies en die Moppie-skatkis. Sommiges is bekend, en ander is nie heeltemal so bekend nie. Van die musiek is van die tradisionele Maleise Nagtroepe se musiek. Ons sing ook Jan de Wet se “Sarah de Jager” en “Halala Afrika” van Johannes Kerkorrel. Laasgenoemde sing ons in ’n heeltemal ander styl as wat dit nog ooit gedoen is.

Ek sal dit beskryf as ’n Suid-Afrikaanse ghoema-pop-klank. Daar is ’n splinternuwe liedjie van Bruno Andries, “Grietjie van Garies” wat tong-in-die-kies vertel van Namakwaland en sy bekoring. Dis vir my ook kosbaar dat ons die liedjie “Beestepote” opgeneem het. Die liriek hiervan is ’n gedig wat dr. ID du Plessis geskryf het.

Hy het sy hele lewe gewy aan die bestudering van Kaapse kulture, en op een of ander manier het die Maleiers hierdie gedig in die hande gekry en musiek daarby gesit. Dis ’n lekker speelse liedjie maar dis ook wonderlik hoe die Afrikaanse letterkunde en die Maleierkultuur hier hande gevat het. Ons het ook besluit om “Skipskop” op hierdie album op te neem want dit vertel die verhaal van ’n gemeenskap se gedwonge verskuiwing. Hierdie is ook immers die verhaal van Distrik 6 en al die mense wat ontwortel is.”

Wyd en syd oor die Kaap

Nedine en haar gesin woon in Melkbosstrand, maar sy vertel dat die res van die groep oor die hele Kaap versprei is. Dis vir haar heerlik om kunstenaars te betrek wat kom uit gemeenskappe waar bendegeweld onmin saai en die lewe vir al die inwoners besonder moeilik maak. “Dis vir ons baie spesiaal want ons kan sien hoe daar geleenthede oopgaan vir hierdie musikante. Ons wil graag hê dat die Jaloersbokkies toenemend ’n broeikas sal wees vir kunstenaars om in veiligheid te groei en ontwikkel en wonderlike geleenthede te kry. Ek en Jawaahier is mense met harte vir ons medemens en ons doen dit nie net vir ’n inkomste nie. Dis vir ons ’n wonderlike projek en ons geniet dit om ons land se storie op ’n deernisvolle manier te vertel. Jy kan tog nie net jou geskiedenis wegdink nie. Jy kan dit nie net uitvee nie, en baie keer voel dit vir my asof dit in Suid-Afrika net uitgevee word met ’n uitveër. Hierdie kosbare musikale geskiedenis is iets wat ons nie durf uitvee nie. Ons wil dit nie laat uitsterf nie en ons wil dit verder vertel sodat volgende generasies ook hiervan kan weet, en in die wonderlike kultuurskatte kan deel.“

Vir verdere inligting besoek www.jaloersbokkies.com of Facebook: Die Jaloersbokkies

● Alita Steenkamp is ʼn vryskutjoernalis en skrywer van verskeie boeke soos Veronica, die Kleur van Liefde, Steeds Mathys- Mathys Roets,, Loui Fish- Onsinkbaar, My Pyn, My Glorie- Hestrie Cloete-Els en My Bloed is Blou van Wynie Strydom.

 

 

Terug Terug na bo