JOIN OUR MAILING LIST

Soek    

Argief Sport Bladsy 5

Die oorwinning oor Skotland – Kom ons behou perspektief

 

’n Wen is ’n wen ou pel, sê die wat weet.  Sekerlik ja, maar mensig, waaroor die euforie? Waaroor die rugkloppery, gekraai in die koerante en vreugdevure wat hoog brand? Ek weet werklik nie, skryf OUPA RHOODIE.

Kom ons kry perspektief, mense. Dit was Skotland; nie Nieu-Seeland, die Wallabies of selfs die verlepte Rose nie. Dit was die Noordelikes wat soms rok dra en nooit as te nimmer hoër as die vyfde beste span in daardie halfrond gemeet kan word nie, en na Italië se uithaal en wys teen Ierland, het hierdie posisie waarskynlik verswak. En onthou boonop dat die Skotte nie eens lus was om hul beste vyftiental teen die Bokke op die veld te stoot nie.

Iemand weet te vertel dit was ’n stap in die regte rigting. Ja, natuurlik was dit so, want ons beleërde span móés eenvoudig die Skotte uit die pad uit kry; ons had geen keuse nie. In daardie opsig dus, ’n beweging in die “regte” rigting. Maar was daar werklik ’n inlui van ’n opwaartse kurwe in daardie beweging te bespeur?

Ek glo nie.

Teen Samoa was daar bemoedigende tekens van amperse Springbokrugby. Teen Skotland het ons terggeval na Meyer se Blou Bul-resep van 10 jaar gelede, oftewel Ian Mac s’n van nóg ’n dekade tevore.

Voordat ek hierop uitbrei, wil ek net noem dat ek nie ’n klakous van geaardheid is nie. Ek is nie ’n pessimis is nie en ek het ’n kleintjie dood in diegene wat alewig die Bokke uitkryt en in ’n voltydse waan van swartgalligheid gif in ons manne se rigting blaas.

Ek vra net dat ons perspektief behou en ’n paar dinge nie ongesiens laat verbyglip nie.

Maar wag, kom ons begin by die lekker en kyk na die pluspunte:

● Eben en Lood het sekerlik nie hul gelyke as Suid-Afrika se voorste slotpaar nie; ek glo trouens dat die broeke van selfs die Ierse kombinasie van O’Connell en Henderson en die All Blacks se Retallick en Whitelock liggies begin bewe by die noem van hierdie twee se name – en nie sonder rede nie. Ons twee jongelinge was onverbeterlik in die vaste fasette en hul bydraes in die los, hul werkverrigting, hul verdediging en hul passie en toewyding in die algemeen, het geen gelyke nie. Kom ons hoop Meyer behou die kombinasie...of gaan hy terugval op Matfield as dié volkome herstel het? Dit sal dalk ’n fout wees.

● Ons botsings rondom die losbal. Dit was verblydend om te sien hoe ons die Skotte op hierdie gebied boelie, maar hou in gedagte dat dit eerder aan die kragspel en oorheersing van die vaste vyf te danke was as aan ’n “fetcher” se werk op die grond.  Teen die sterker spanne gaan ons steeds ’n Brüssouw mis.

● Handré Pollard se skopwerk pale toe.

● Fourie du Preez se teenwoordigheid, as kaptein, skoonmaker en besluitnemer.

● Ons verdediging was sterk.

Nou vir die lelike kant van die balansstaat:

● Ons sogenaamde taktiese skopwerk. Daar is niks, heeltemal niks, “takties” in ’n doellose geskop na die teenstanders se agterste drie toe nie. Ek het dit tevore gesê en doen dit weer: die All Blacks en die Aussies (die Iere ook en selfs die Walliesers) gaan ons swaar straf en onherstelbaar knou indien ons met hierdie stommiteit volhard. Pollard was in dié opsig uiters swak en hier sal dringend geskaaf moet word. En Willie le Roux staan ook skuldig.

● Wat presies is D’Allende se rol? Male sonder tal bars hy oor die voordeellyn, net om grond toe te gaan en ’n volgende fase af te dwing. Niemand beweeg saam met hom aan sy skouer nie – hetsy aan sy binnekant, hetsy buite. Daar is geen poging (of beplanning) om iemand langs hom deur ’n gaping te plaas nie, geen aanduiding dat ’n aflaai oorweeg word nie. En dat stormram die plan is, word duidelik daardeur onderstreep dat Damian self niemand soek om voor uit te gee nie. Hierdie outydse en voorspelbare “taktiek” werk lankal nie meer nie. Ons moet in gate begin hardloop en ons moet uitgee na ’n spanmaat in ’n beter posisie en ons moet dit doen voor daar grond toe geploeg word ten einde in die spel te kan bly. Jy kom nie agter die doellyn as jy op grond lê en spartel nie.

 

● Dan, ewe seer, wat is Pollard se rol behalwe om pale toe te korrel en nou en dan die bal doelloos en in enige rigting weg te skop? Du Preez het die bal Saterdag 91 keer uitgegee en net sowat 50% van daardie balle is na die losskakel laat loop, die res na voorspelers wat tussen die skakelpaar staan en wag om dan (weer) ’n pad vorentoe oop te loop.En wat doen dit vir die jong nr. 10 se selfvertroue?

● Ons afronding is nog nie naastenby op peil nie. Drie drieë in 80 minute teen hierdie teenstanders is eenvoudig nie goed genoeg nie – en dis gebrekkige afronding wat daardie syfer kritiek laag hou.

● Dissipline. Jannie kos ons ’n strafskop of drie in elke wedstryd en Saterdag is hy nog boonop met ’n geel kaart gestraf. Ons kan dit nie bekostig nie. Malherbe is ’n sterker skrumwerker, hy beweeg en hanteer beter en sy verdediging is boonop skerper. Maar ek weet dit is te veel gevra. Meyer sien hom suiwer as impakspeler en basta.

Daarby is ek steeds bekommerd oor ons wisselvalligheid. Vanaand jolyt, môre spyt; gistraand Brad Pitt, vanoggend spierwit. Bok-babelaas. Julle weet wat ek bedoel.

Ons sal seker te veel skietgoed vir die Amerikaners uitstal en dan is dit Wallis (mits die Aussies hulle klop), soos seker verwag kan word.

En tog bly die realiteit onrusbarend: ons het in hierdie toernooi nog net teen Samoa en Skotland gewen. Die pad vorentoe is verdomp steil.

Die toernooi

Niemand het my al betrap dat ek ’n traan wegpink oor ’n Engelse terugslag nie. Ook nie hierdie keer nie. Robshaw het net homself te blameer want met twee punte elk uit die Wallis-stryd, moes hy net vyf punte teen Uruguay bekom en hoop dat die Wallabies met die rooi truie van Cardiff afreken en dan was hulle deur kwarteind toe ten koste van Wallis. Maar, in alle billikheid, moet die organiseerders gevra word wat hulle besiel het met die besluit om Australië, Engeland en Wallis in dieselfde groep in te deel. En dan nog Fidji ook.

Japan het my laat lekker kry toe hulle vir ’n tweede opskudding gesorg het. Die Samoane was verslae, verniel en verlore.

Net toe ek begin dink dat Ierland die span is om dop te hou, het hulle amper lelik in die hek geduik teen ’n omgesukkelde klomp Italianers. Nietemin bly Iain Henderson, die Iere se nr. 4-slot, een van die uithalers van hierdie toernooi. G’n wonder nie: die man lyk soos ’n gevaarlike kruising tussen ons eie Frik du Preez en ons nuwe held, Lood de Jager.

In hierdie stadium lyk Australië na die span wat die beste op stryk is. Hulle is vlymskerp, voor en agter. Michael Cheika se hand is duidelik te sien en die uitgeslape breier se besluit om met twee “fetchers” (Pocock en Hooper) te speel, werp soete vrugte af. En hul skrumwerk? Vergeet maar van die tradisionele “swak” Aussie-skrums. Hierdie manne ken van.

Die All Blacks poer-poer nog net. Hier en daar kom ’n stukkie verbeeldingryke briljantheid na vore, maar duidelik is die kampioene nog nie in hoogste rat nie. Daar was krake in die agttal teen Argentinië en selfs teen Georgië, maar Hansen sal dit kort voor lank regskaaf. Of is hulle, dalk net, kwesbaar daar?

Die Argentyne en die Franse lyk al hoe beter, en wie weet wat gebeur indien Nieu-Seeland dalk teen Frankryk in die kwarteind te staan kom...

Wag, nou droom ek.

Terug Terug na bo