JOIN OUR MAILING LIST

3 Februarie 2016

DIS HULLE WAT DIE RAND LAAT VAL

Op 15 Augustus 1985 het PW Botha sy berugte Rubicon-toespraak in Durban gelewer wat Suid-Afrika op ʼn pad van stedelike terreur en by tye tot op die afgrond van totale anargie gedryf het.

Vir weke voor die toespraak het die minister van buitelandse sake, Pik Botha, en sy luitenante vir die wêreld begin belowe hier kom ʼn ding. Verwagtinge is geskep dat ’n aankondiging gaan kom van radikale beleidsveranderinge en dat Nelson Mandela moontlik vrygelaat sou word.

Die wêreld het hom begin reg maak vir die totale afskaffing van die apartheidsbeleid, maar die koppige ou man het ander planne gehad en geweier om die spreekwoordelike Rubicon oor te steek. Dit het Suid-Afrika se Westerse bondgenote totaal onkant gevang en hulle teleurgestel.

Die Rand het in sy glorie deur die bodem geval- iets wat nooit weer in Suid-Afrika se geskiedenis gebeur het nie totdat Jacob Zuma onlangs vir Nhlanhla Nene in die pad gesteek het en die onervare en totaal onbekende Des van Rooyen in sy plek as minister van finansies aangestel het.

Die Vaderland was in 1985 die enigste koerant wat reeds vóór die gewraakte toespraak sy lesers ingelig het dat PW se toespraak niks gaan oplewer nie.

HARALD PAKENDORF, destyds hoofredakteur van Die Vaderland, en DRIES VAN HEERDEN, politieke korrespondent, deel met Nuuskantoor-News Desk hul herinneringe van wat agter die skerms gebeur het.

 

The idiom "Crossing the Rubicon" means to pass a point of no return, and refers to Julius Caesar's army's crossing of the Rubicon River in 49 BC, which was considered an act of insurrection and treason.

 

TERUGBLIK- Harald Pakendorf

Verlede Augustus was dit dertig jaar gelede dat ’n ding gebeur het wat Suid-Afrika se internasionale reputasie baie skade aangedoen het en die sukkelende ekonomie nog verder gewurg het. Daar was groot verwagtinge dat PW Botha by die Natalse NP-kongres in Augustus 1985 ’n omwentelende toespraak sou lewer wat Suid-Afrika op ’n nuwe pad sou plaas.

Hy sou die Rubicon oorsteek

Dit het nie gebeur nie, tot die stomme verbasing van almal wat nie Vaderland-lesers was nie. Want die Maandag voor die toespraak waaroor Pik Botha die hele wêreld se verwagtinge opgeblaas het, het ons berig dat van die hervomingsverwagtinge niks sal kom nie.

Dit was Dries van Heerden en sy span in die Parlement, André le Roux, Jean Oosthuizen en Frikkie Odendaal wat die hervomingsballon geprik het. Naspers se koerante het nie ’n woord gerep nie.

Daar is twee dinge daaroor te sê:

● Eerstens dat goeie kontakte, behoorlike kennis en vertroue dat jou  inligting betroubaar is ’n goeie berig tot gevolg het en beklemtoon die sleutelrol wat die media speel.

● Die tweede is polities: PW Botha het lange samesprekings en raad van sy senior ministers op die laaste oomblik afgewys en eenvoudig gemaak net soos hy wou – met baie ernstige gevolge vir die land.

Interessant genoeg kan ons huidige president, Jacob Zuma, dit nie doen  nie. Hy het dit lank reggekry maar toe hy Nhlanhla Nene met Des Van Rooyen vervang het sonder om met enigiemand daaroor te konsulteer, en vertroue in die land ’n ernstige knou toegedien is, het sy eie mense hom in die bek geruk en moes hy haastig vir Pravin Gordhan terugroep.

Dis hulle wat die Rand, dis hulle wat die Rand laat val

 

Daarmee het hy sy posisie ernstig benadeel en is sy magte behoorlik kortgeknip, wat goed is vir die demokrasie en die land.

  • Dat die media heeltemal deur die Van Rooyen-debakel onkant gevang is, is ’n aanduiding dat verslaggewers deesdae nie  kontakte op die regte plekke het nie. Te veel tegnologie dalk, te veel op kantoor en te min rondloop en luister? 

RUBICON-HERINNERINGE- Dries van Heerden

In die verlede het ek altyd gedink die stuk wat Patti Waldmeier in haar boek geskryf het, was die naaste aan my herinneringe – en Hermann Giliomee stem grootliks hiermee ooreen. Mens moet onthou hy was in die tydperk naby Heunis – saam met ander informele raadgewers uit Stellenbosch soos Julius Jeppe, Willie Esterhuyze, en Sampie Terreblanche – wat toe nog in die Kaapse NP was.

My mening was destyds, en steeds vandag, dat Heunis – en veral sy departement – nie die erkenning gekry het wat hulle toekom vir hul bydrae tot hervorming nie. Die inhoud van die oorspronklike Rubicon het hoofsaaklik uit Heunis se departement gekom – want die issues waaroor dit sou handel is grootliks deur die destydse departement van staatkundige ontwikkeling hanteer:

  • ’n aanvaarding van die feit dat die Regering nie swart leiers kon kies met wie hulle moet gesprek voer nie
  • ’n subtiele kode dat die liberation organisations legitimiteit het;
  •  ’n erkenning dat tuislandleiers nie alle swartes verteenwoordig nie;
  • bereidwilligheid om gesprekke met legitimate swart leiers te voer.

In ruil daarvoor is groter betrokkenheid van swart gemeenskappe in stedelike plaaslike bestuur en ’n moontlike “vierde kamer” van die Parlement vir swart mense as ’n oorgangsmaatreël aangebied.

Dit was op daardie stadium nog nie naby gesprekke met exile groepe of  ’n “swart president” nie – soos wat Pik se mense wou voorgee nie. Hoewel dit moontlik binne die denkraamwerk van sekere ouens rondom Heunis – en/of in buitelandse sake was.

Toe ek later die Giliomee stuk lees – sien ek dat van my eie herinneringe op sekere plekke met syne oorvleuel – veral rondom die rol wat PW se gesondheid/gemoed/geestestoestand in die proses gespeel het.

Onthou daar was verskillende faksies binne die “reformiste groepe” in die kabinet wat soms met mekaar meegeding en selfs onderling bedonner het. In die een groep was Pik en die Washington mafia – Neil van Heerden, Derek Auret, Carl von Hirschberg ens. Hulle het uiteraard nou saamgewerk met Amerikaanse en Britse diplomate soos Herman Nickel, Chester Crocker en Robin Renwick.

Dan was daar ’n baie sterk groep wat Chris Heunis in die vorige paar maande versamel het binne die destydse departement van staatkundige ontwikkeling. Ouens soos Joh van Tonder, Fanie Cloete, Kobus Jordaan, Rassie Malherbe ens. – en hulle het weer direkte lyne met Pieter de Lange en die Broederbond-leierskap gehad wat as klankbord vir Heunis gedien het.

Hierby kan jy van die Stellenbosch akademici voeg – veral Julius Jeppe, Willie Esterhuyse en Sampie Terreblanche.

Dan was daar die sekurokrate – Niel Barnard en die spioene, Kobie Coetsee wat sy eie agenda gevolg het – en natuurlik FW. My mening was – en is – dat hulle veral in daardie tyd meer bekommerd was om enige hervorming teen te staan as aan te help – ten spyte van Barnard se pogings om sy aandeel aan die geskiedenis te herskryf.  

As ek reg onthou het Rubicon ’n lang aanloop gehad – minstens 6-7 maande. Aan die begin van 1985 was daar die kabinet se bosberaad – die sogenaamde “Ou Sterrewag” byeenkoms. By die geleentheid het Heunis ’n lang voorlegging gemaak om te bou op die vooruitgang wat gemaak is na die Driekamerparlement. Daar sou planne wees om swart plaaslike bestuur uit te brei en gesprekke met die legitimate swart leiers ens. aan die gang te kry.

Die algemene gevoel was dat PW sy steun aan hierdie inisiatief gegee het – of minstens op geen stadium aangedui het dat hy daarteen was nie. Heunis se departement het opdrag gekry om planne op die tafel te kry en toesprake te skryf wat sou kulmineer in die NP kongres-seisoen teen die derde kwartaal. Heunis, Pik en Barend was veronderstel om die proses te koördineer.

Sommige skrywers soos Patti Waldmeier en Jan Heunis het later daarop gewys dat die Sterrewag-vergadering plaasgevind het terwyl PW van sy eerste beroerte herstel het – en dat hy waarskynlik nie tred gehou het met die gesprekke of die implikasies daarvan ten volle verstaan het nie. Eers toe die eerste drafts van die Rubicon-toespraak in middel Julie begin sirkuleer het – het hy dit begin besef en ontplof.

Intussen het Pik begin om die internasionale gemeenskap en plaaslike media vertroulik in te lig oor die moontlikheid van ’n groot hervormingstoespraak by die Natalse kongres van die NP wat op 9 Augustus begin het.

Sowat ’n week voor die 15e Augustus het PW reeds laat blyk dat hy nie sal voortgaan met die draft van Heunis se kantoor nie. Pik het egter aangegaan om inligtingsgesprekke te hou en verwagtinge te skep.

Die plaaslike en internasionale media het in groot getalle op die Natalse kongres toegesak – vas onder die indruk dat Pik se voorspellings waar sal word. Ek weet byvoorbeeld dat die SAUK ’n hele span daar gehad het onder leiding van Marius Kleynhans en dat daar ’n direkte uitsending was – iets wat vir daardie tyd redelik ongehoord was vir Suid-Afrika en die SAUK.

Jack Viviers was PW se skakelman en hy het vooraf kopieë van die toespraak vir Marius gegee sodat hulle die kameraskote kon beplan. Dit was eers toe dat die werklikheid deurgedring het dat daar inderdaad niks van waarde in die toespraak was nie – die famous Rubicon quote was van die min dele uit die oorspronklike toespraak wat dit oorleef het.

My inligting – reeds teen die naweek voor die kongres – was dat PW nie sal voortgaan met die hervorming nie – en ons het dit so berig in Die Vaderland.

Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

 

 

9 Januarie 2016

EUROPA SE KOPSEER GROEI

’n Terugblik op die afgelope jaar op Europa is eerstens een van ongeloof. Die beelde van Europa, as bastion van kultuur, demokrasie en, vir vele, verdraagsaamheid - het plek gemaak vir beelde van vermoeide, desperate vlugtelinge wat niks daarvan gedink het om met bootjies oor die Middellandse See ’n heenkome  hier te soek nie. Beelde van vlugtelinge wat op straat en in parke in Athene en die Griekse eilande, slaap, hul kinders versorg en hul wasgoed oor die strandmure hang, het toeriste met verbasing en skok vervul.

In die lig van Oujaarsaand se vreemde vlaag van reeksverkragtings en sinnelose geweld in Köln, neem KAREN DE PRETER die toekoms van Europa  midde die uiters plofbare vlugtelingkrisisvanuit België in oënskou.

In die Europese lidstate waar die Schengen verdrag geld, kan iedereen vrylik beweeg.  Ongelooflik was dit dan om tydens die somervakansie massas mense langs snelweë te sien – stappend onderweg na die volgende land.  Verbasend dan ook om te sien hoe polisie oral mense stop en begelei, lang vergete grense ineens paraat dophou en in sommige lande, soos Hongarye, ’n draadheining oprig, want die mensemassa het net té veel geword.  Ongeloof  oor die nood, desperaatheid en gedetermineerdheid om ten koste van alles, letterlik ’n nuwe toekoms op te soek. 

’n Duur prys

Op die oomblik betaal Europa egter ’n duur prys vir die interne afskaffing van grense. Dit is al lank duidelik dat nie nét egte oorlogsvlugtelinge van Sirië arriveer en opgevang moet word, soos bepaal deur die Konvensie van Genève nie (hulle moet in die eerste veilige land van aankoms opgevang word tot die konflik tuis opgelos is).  Dit is ook ekonomiese migrante wat van dié gasvryheid en bewegingsvryheid in Europa gebruik maak om veral hul eie uitsiglose omstandighede tuis te ontvlug en ’n beter toekoms hier te soek.  Europa se buite grense is verwaarloos en tot nou toe slaag Griekeland en Italië, wat albei deel vorm van dié buitegrens, nie daarin om die vlugtelingstroom te beheer nie; nog minder om almal te registreer. Op dié manier word die situasie natuurlik verder misbruik deur organisasies soos Isis, om terroriste ongemerk oor alle landsgrense binne Europa vrylik te laat rondbeweeg en hul geweld uit te voer. 

 Die terroristiese aanslag in Parys het ongeloof ’n nuwe dimensie gegee van skok, angs en die besef dat niks meer dieselfde gaan wees nie:  ons bewegingsvryheid, ons vrye denke, ons grense .....

Die gebeure die afgelope somer in Europa het nie vanself verdwyn nie, maar net nog meer klipharde realiteit geword vir die burger op straat.  Die politieke situasie in Europa is konstant veranderlik, soos op soveel ander plekke in die wêreld. Die vloeibaarheid daarvan maak dit moeilik om die omvang van verandering presies vas te pen.

Wat staan vas en kan wel gepeil word?

 Die vlugtelingestroom het nog nie gestop nie en sal ook nie in die afsienbare toekoms stop nie.  Volgens Eurostat (die statistiekdiens van die EU) het meer as een miljoen na Europa gestroom die afgelope jaar. Volgens hul beramings, het Duitsland tot eind September 353 000 vlugtelinge verwelkom, Hongarye 200 000, Swede 94 000, 80 000 vir Italië en 68 000 in Oostenryk.  Hiervan was 250 000 Siriese vlugtelinge, 110 000 Afgane, 70 000 Irakese en 50 000 Albanese.  Nie bygereken nie is die vlugtelinge van Eritrea, Somalië en die res van Afrika.  Die realiteit is ook dat niemand werklik weet presies hoeveel vlugtelinge tans in Europa is nie, juis omdat soveel met hul aankoms nie geregistreer word nie.  Heelwat vlugtelinge het intussen ook “verdwyn” – baie nadat hul verblyfaansoek afgekeur is.  Engeland het in Desember aangekondig dat 10 000 vlugtelinge “weg” is.  

Hoe langer die oorlogsituasie in Sirië en Irak - waar die grense ook al hoe vaer word – duur,  hoe langer sal die vlugtelingstroom aanhou. Die toestroom na Europa sal miskien ietwat verminder, danksy Turkye wat geld van die EU ontvang het om vlugtelinge in kampe op te vang.  Dit is nog te kort om die effek hiervan werklik te bepaal – die maatreël is maar pas geneem.

Nog ’n realiteit is dat die druk op elke land en sy bevolking om te voorsien in die vlugtelinge se behoeftes, vir die een land swaarder word as vir ’n ander. Druk op infrastruktuur, behuising, onderwys en gesondheid moet opgeneem word in die daaglikse realiteite byvoorbeeld dat daar voorsiening gemaak moet word vir meer kinders in ’n klas, asook hul vlak van onderwys en taalkennis wat in ag geneem en opgelos moet word. Die koste plaas bykomende druk op die streek- en landbegroting wat nog die gevolge van die finansiële krisis ondervind. Hierdie realiteite is nie net hard voelbaar in stede nie, maar ook op die platteland van alle lande wat vlugtelinge opneem.  Suksesvolle inburgering stel eise aan hoe die samelewing  funksioneer, kommunikeer en sy kultuur uitleef – aspekte wat nie onderskat kan word wanneer soveel nuwe kulture ineens met mekaar moet leer omgaan nie.  Plaaslike burgers wat al geslagte in hul streek of dorp woon, moet ineens anders gaan kommunikeer, want almal word gekonfronteer met kulture wat in die meeste gevalle, geensins Westerse waardes ken nie. 

Isis – ’n toemende bedreiging

 ’n Realiteit waarmee die hele wêreld gekonfronteer word en nie oornag sal verdwyn nie, is die bestaan van Isis. Van uitwissing of bekamping is strategies weinig sprake.  Lugaanvalle lewer wel resultate op, maar verskillende partye beweer dat Rusland nie werklik Isis aanval nie, maar meer rebellegroepe wat Assad teiken. Rusland moet ook sy eie agenda in die streek bedien ten einde ’n internasionale rol te kan speel teenoor die Weste. Die lugaanvalle van die Geallieerde lande bly voortduur, maar nog nie op so ’n vlak dat van ’n oorwinning gepraat kan word nie. Inteendeel, Isis brei verder uit in Libië en onderwerp die plaaslike bevolking daar aan dieselfde lot as in Sirië. ’n Verslag van die Centre on Religion and Geopolitics, wat deel vorm van Tony Blair se Faith Foundation, het aangedui dat die grootste bedreiging nie per se Isis is nie, maar al dié rebellegroepe wat identifiseer met die ideologie van Isis. Volgens dié verslag identifiseer 60% van die verskillende rebellegroepe dus met die gedagtegoed van Isis. Deur net te fokus op die uitskakeling van Isis sal onverstandig wees en niks oplos nie. Die ideologie word net verder internasionaal versprei en sal wêreldwyd opnuut meer jihadi’s oplewer, ’n belangrike punt om in gedagte te hou noudat die VN Veiligheidsraad saamstem oor ’n vredesproses vir Sirië.

’n Gevolg hiervan en ’n realiteit in die lewe van Europeërs, is die terroristiese bedreigings wat nie oornag gaan verdwyn nie. Ná die aanvalle in Parys en klopjagte in Brussel, word gereeld dreigemente gemaak oor moontlike nuwe aanvalle. Die realiteit vir Europese regerings is verskerpte veiligheidsmaatreëls, meer polisie bewaking en die publiek wat konstant hieraan onderwerp word op lughawes, winkelsentrums of op treine. Deeglike samewerking op intelligensievlak word egter nog heeltyd bevraagteken en kom telkens weer op as dit duidelik word polisie-optredes was te laat om te lei tot arrestasies. Duidelik in die geval van die blapse van die Belgiese veiligheidsdienste wat Salah Abdeslam betref.

Die gevolge van die Europese ekonomiese krisis is nog so ’n realiteit wat in die meeste Europese lande duidelik voelbaar is. Ekonomiese herstel is baie stadig en nog nie werklik voelbaar vir die verbruiker nie.  Werkloosheid kan nie met intellektuele diskussies weggepraat word nie.  In een land is dit net erger as in ’n ander. Salarisverhogings is vir die meeste burgers nie ’n realiteit nie. 

Teen dié agtergrond van vaste realiteite waarmee Europa konfronteer word, speel ander gebeure af wat Europa mee rekening moet hou.

Verskillende lande het onlangs streeks of nasionale verkiesings gehad en ander het aan die EU-leiers duidelik gemaak dat dinge moet verander binne die EU-huishouding.  

  • Frankryk

In Frankryk het streeksverkiesings plaasgevind. Daar was groot ongemak toe die “verregse” party van Marie le Pen, die Front National, met die eerste ronde die grootste party geword het. Die Front National is inderdaad verregs wanneer dit oor migrantekwessies gaan, maar sy ekonomiese beleid word deur die meeste waarnemers as links bestempel. Hoewel die Front National ’n toename in kiesers het (6,8 miljoen kiesers), het die party in die tweede ronde nie beheer oor een regio in Frankryk gewen nie. Hulle vorm wel in vier regio’s die amptelike opposisie en hul aanwesigheid op regionale vlak sal sekerlik gevoel word.   Nogtans lyk die kans klein dat Marie le Pen die volgende president van Frankryk sal word.  Die Les Républicans van oud president Sarkozy het beheer oor 7 regio’s en het 10,1 miljoen kiesers – in vergelyking met die Sosialistiese Party van president Hollande wat beheer het oor 5 regio’s, en sterk gedaal het in kiesers. ’n Herhaling van die presidentsverkiesings van 2002, toe Marine le Pen se pa, Jean-Marie, die tweede ronde behaal het en die sosialiste hulle kiesers opgeroep het om vir die konserwatiewe kandidaat Jacques Chirac te stem, het hom by die regionale verkiesing afgespeel en is baie realisties vir die volgende presidentsverkiesing in 2017.

  • Spanje

In Desember het nasionale verkiesings in Spanje plaasgevind. Die Partido Popular (PP) van premier Mariano Rajoy het die verkiesing gewen, maar nie die meerderheid behaal nie.  Hulle het wel 123 setels van die 350 in die parlement. Die Sosiaal Demokrate (PSOE) het 90 setels en vorm nog die tweede grootste party in Spanje. Die belangrikste verandering is dat die klassieke patroon van ’n tweeparty stelsel, wat tot nou toe bestaan het, gebreek is. Die jonger kiesers het veral gestem vir twee nuwe partye: Podemos, wat sterk ooreenkomste met die Griekse kommunistiese Syriza party het, en Ciudadanos, ’n liberale party, wat saam 109 setels gewen het. Vir die eerste keer sedert die einde van die militêre bestuur onder generaal Franco sal Spanje ’n koalisieregering kry.  Dit is nou te vroeg om te voorspel in watter rigting die gesprekke sal lei;  indien daar nie binne die twee maande ’n nuwe regering is nie, kom daar opnuut verkiesings.

  • Engeland

Die Britse regering van David Cameron het die afgelope week in ’n ontmoeting met die EU dit duidelik gestel dat laasgenoemde se vlugtelingbeleid, soos dit nou toegepas word (en teen die agtergrond van die ekonomiese krisis) vir die Britse burger onhoudbaar word en gevolglik Britse burgers se vertroue in die EU grondig ondermyn.  ’n Sentiment wat nie net in Brittanje gevoel word nie, maar ook in ander lande. Tot nou toe, is dit egter in konflik met hul binnelandse beleid wat sosiale regte toeken aan elkeen wat ’n verblyfsvergunning het – een van die redes waarom Engeland die ekonomiese paradys is vir soveel migrante en vlugtelinge. Cameron het dit verder duidelik gemaak dat, indien aanpassings binne die EU huishouding nie gedoen word nie, die Britse regering dit ernstig oorweeg om die EU te verlaat - ’n sogenaamde Brexit.

  • Duitsland

Die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, het erken dat die vlugtelingstroom nie onderhou kan word soos dit tans gebeur nie, maar dat sy nooit sal afsien van die (Schengen) beginsel van vrye beweging binne die EU nie. Sy wil ook nie ’n limiet plaas op die aantal vlugtelinge wat Europa binnekom nie. Uiteindelik, kan geredeneer word, het die toelating van soveel vlugtelinge aan die wêreld getoon dat Duitsland by hul belofte van “nicht wieder” staan: Duitsland was histories lank gesien as die Joodse vervolger wat ’n ongelooflike klad op sy geskiedenis bly. Die huidige vlugtelingproblematiek bied ’n kans om gesien te word as ’n land van geleenthede, oplossings en met ’n hart vir ander in nood. Alom “wir schaffen das”, oftewel, ons los dit op, is die gevoel. Skuldgevoelens oor die Joodse vervolging is nog altyd onwerklik diep in die Duitse psige – iets wat, volgens politieke kenners, nou duidelik afspeel met die onkeerbare toestroming van vlugtelinge. Die probleme wat dit ook meebring word deur politici hard onderskat. Probleme soos huisvesting vir almal, word ’n onmoontlike swaar opdrag. En dis nie net in Duitsland nie. Daarbenewens ook hoe om voldoende werk te verskaf vir soveel vlugtelinge wat, in baie gevalle, baie onrealistiese verwagtinge het van wat Duitsland hulle gaan bied.  Werkloosheid onder die Duitse bevolking is ook nog altyd ’n realiteit. Die nie-nakoming van al hierdie verwagtinge, ook in ander Europese lande, kan lei tot verset in die vlugtelinge se nuwe tuislande. Dit sal nie noodwendig met begrip deur die plaaslike bevolking (wat dit ook moeilik het) ontvang word nie.

In die meeste lande, maar veral in Duitsland, voel burgers aan die een kant baie onseker oor hul eie werksekuriteit, en aan die ander kant – ervaar hulle angs oor die voortbestaan van hul eie waardes en kultuur te midde van ’n situasie waar soveel vlugtelinge ineens toegelaat word.  Vlugtelinge, waarvan die meeste ook Moslems is.  Hierdie waarnemings beteken nie dat alle burgers hulself as polities regs beskou nie, maar skep wel ’n ideale teelaarde vir populistiese bewegings om uit te buit. 

Dit is veral in Dresden, deel van die voormalige Oos-Duitsland, waar so ’n beweging, Pegida, homself bevind. Pegida (die Patriotic Europeans Against Islamisation in the West) het in 2014 ontstaan en het begin met samekomste op Maandae-aande op die Adolf Hitlerplein in Dresden. Pegida is teen die Islamisering van Duitsland en dus ook teen die konstante toename van vlugtelinge.  Die meeste van hul ondersteuners behoort nie tradisioneel aan enige politieke party nie, hoewel baie lede hulself identifiseer met die AfD (Alternatief vir Duitsland) wat in Mei 2014 7,1 % stemme gehaal het. Die AfD is veral Euro-skepties, teen monetêre eenheid in Europa  en multikulturalisme. Daarbinne pas ook hul verset toe teen soveel vlugtelinge in Duitsland. Op die oomblik is hul fokus, sowel as dié van Pegida, om Angela Merkel weg te stem.

Beide groepe probeer binne hul gebiede sorg dat die verset teen haar ook toeneem. Die profiel van die Pegida-ondersteuner verander ook konstant:  waar dit eers meer verontregte mense ingesluit het, is dit nou toenemend meer skollies en neem geweld teen ander ook meer toe.  In ’n kort periode is al verskillende asielsentrums aangeval of afgebrand, waarvoor Pegida die skuld kry.  Intussen is daar ook splintergroepe van Pegida in Kopenhagen, Wene en Newcastle in Engeland.

Oral duik regsgesinde politieke partye op

In alle Europese lande bestaan politieke partye wat regsgesind is en inspeel op die angstigheid wat in die samelewing bestaan. In die meeste lande is hul optredes onder beheer en loop niks uit die hand nie. In Nederland het die gewildste regse politieke leier Geert Wilders, van die PVV (Partij Voor de Vrijheid) homself al skuldig gemaak aan haatspraak.  So ook van die leiers van die Vlaams Belang  in België wat ’n 11,6% aanhang het, maar nie werklik ernstig opgeneem word nie. Die Ukip Party (UK Independence Party) in Engeland van Nigel Farage het 12,6% behaal in die verkiesings in Mei 2015. Dit is nie klassiek ekstreem regs nie, maar is eerder ’n party wat anti-Europa is en Brittanje uit die EU wil hê. In die meeste lande bestaan ’n regse politieke siening en in sommige gevalle, soos in Hongarye, is die regses ook in die regering, soos die Fidesz party van Viktor Orban. Die meeste regse partye wil die vlugtelingstroom stop, wil hê dat grense gesluit word, dat geldelike hulp aan vlugtelinge gestop of verminder word. Hierdie partye sluit byvoorbeeld die Deense Volksparty, die Sweedse Demokrate, die Finse Party van Finland, die Vryheidsparty van Oostenryk (wat 31% van die stemme gehaal het met die verkiesing in September) en die Zwiterse Volksparty (wat ook in September 29,4% van die stemme  in die parlementsverkiesinge behaal het) in.

Die meeste van hierdie partye het ook ’n toename in stemme beleef die vorige jaar en buit  die vlugtelingproblematiek volledig uit in hul veldtogte en retoriek. In Duitsland word dit meer en meer gekenmerk deur aanhangers van Pegida en soortgelyke groepe – en meer gematigde groepe wat teenoor mekaar staan.  Die gevolg is dat dialoog, wat altyd nodig is, grimmiger en meer onverdraagsaam word en dat Duitser teen Duitser begin opstaan. ’n Situasie wat juis vermy moet word. Dit word al belangriker dat die EU se bestuur werk maak van ’n hersiening van wat Europa werklik kan doen en wat nie; wat vorm nou ’n grens en wat nie;  hoe word mense in nood deeglik gehelp, maar ook watter hulp word verleen aan burgers wat nog ly onder die swaar ekonomiese krisis. 

Dit maak regtig nie op die oomblik saak van watter kant en uit watter oogpunt na Europa gekyk word nie – alle scenario’s sal begin by die vlugtelingprobleem en die impak daarvan op die ekonomie, kultuur en toekoms van Europa. ’n Vrou wat as vrywilliger werk in ’n aankomsarea waar vlugtelinge eers aanmeld, het in ’n televisie-onderhoud gesê: “Dit maak nie vir my saak hoe ons politieke leiers hierna kyk nie, of wat kenners hierdie situasie noem nie....ek is ’n gewone mens wat net my hulp aangebied het om hierdie moeë mense te help, maar wat ek hier sien is niks anders as ’n totale humanitêre katastrofe nie...en alles het verander.”

Daar bestaan by die gewone burger op straat,  hetsy in Duitsland, Engeland of Griekeland, die gevoel dat die politieke leiers glad nie luister na hul kiesers nie en totaal uit voeling is met wat mense daagliks ervaar. Dalk sal dit bekend klink vir die meeste Suid-Afrikaners.

  Karen de Preter is `n boorling van KwaZulu-Natal, maar was sedert haar studies gevestig in Johannesburg.  Sy het Staatswetenskappe en nagraads Ontwikkelingstudies aan die RAU studeer.  Daarna het sy by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika gewerk en later as ‘n politieke analis by `n konsultasiebedryf.  Sy woon al meer as 20 jaar in België met haar man, self `n oud joernalis, Stijn,  en drie tieners.  Sy is tans in haar finale jaar van `n BSc Hons (Sielkunde). 

 

 

 

 

 

 

17 November 2015

Waarheen Europa?

’n Week gelede wou ek graag ’n blik werp op hoe die massa vlugtelinge vanuit Sirië en die res van Afrika en die Midde-Ooste in Europa ingeneem word. Ek is egter onkant betrap, want waar Europeërs letterlik met welkomsbaniere vlugtelinge begroet het in die somer, word die atmosfeer op die oomblik grimmiger by die dag. Die eerste selfmoordaanval van terroriste in ’n Westerse hoofstad het Vrydagaand in Parys daardie kaartehuis in duie laat stort..Toenemende terrorisme, bedryf vanuit Sirië, is nou die realiteit van die hele Europa, skryf KAREN DE PRETER

Frankryk loop behoorlik deur

Parys, en die Franse bevolking, het die afgelope jaar nie net ’n terroristiese aanval op die nuuskantoor van Charlie Hebdo meegemaak in Januarie nie. In Februarie is drie militêres deur Moussa Coulibaly met ’n mes aangeval in Nice voor ’n Joodse gemeenskapsentrum.  In Junie is ’n Franse Burger in Saint-Quentin-Fallavier onthoof deur `n Islamitiese stryder. Daarna het die terroris met sy auto in ’n gasfabriek ingery in die hoop dat hy ’n ontploffing sou veroorsaak.  In Augustus het `n vermeende aanslag plaasgevind op ’n Thalys trein onderweg van Amsterdam na Parys waarin vier mense beseer is. Die  afgelope Vrydag was dit weer die Franse se beurt. ..

Teen Sondagaand was polisie in Parys volstoom op soek na Salah Abdeslam, een van die vermeende terroriste van die Parys-aanval. Twee motors is gevind wat verbind word met die aanvalle en  sewe verdagtes is tydens klopjagte op huise gearresteer in Molenbeek in Brussel. Een van die gearresteerdes is die broer van Abdeslam, Mohamed. Die derde broer, Ibrahim, was een van die terroriste wat selfmoord gepleeg het toe die polisie in Parys die Bataclan teater aangeval het.  Sondagaand is dit bekend gemaak dat 352 mense beseer is en dat 129 gesterf het.   Al drie broers is egter van Molenbeek.

Die Franse owerheid het die Marokaansgebore Belgiese jihadi, Abdelhamid Abaaoud, nou as die belhamel geïdentifiseer wat die aanvalle beplan en laat uitvoer het. Hy het vermoedelik betyds uitgewyk na Siriê. Die 27-jarige het ook in die Molenbeek-distrik grootgeword wat berug wa vir sy Arabiese immigrante.

Molenbeek die bron van alle kwaad in België

Die res van die Europese lande het hul visier nou op Molenbeek gerig as ʼn probleemgebied. En hier word na dit in die nuus verwys  as die "jihadi capital" - en dat dit sleg lyk vir `n klein landjie om vir so iets bekend te word.

Heel veel Parysenaars het ook bymekaargekom om mekaar te ondersteun en om die dodes te herdenk by die plekke waar die aanvalle plaasgevind het.  ’n Gees van verslaentheid en angs het nog Sondagaand geheers en dit het duidelik geblyk toe ’n skare mense verward begin hardloop het toe skote gehoor is. Agterna het dit geblyk dat dit bloot vuurwerke was.

In tallose onderhoude is die een ding wat die Parysenaars noem, die berekenheid, die nonchalantheid en die koelbloedigheid waarmee die aanvalle uitgevoer is.  Daar was geen behoefte by die terroriste om maskers te dra nie, hul identiteit te verberg of die details van hul vervoer te verbloem nie. Hul enigste doelwit was om te moor en soveel as moontlik slagoffers te dood. Een getuie het vertel hoe verbaas hy was dat hulle nie eens in die kroeë ingegaan het nie. Hulle het sommer vanuit hulle motorkarre op niksvermoedende Parysenaars losgebrand. Die ander tema waarna getuies die heeltyd terugkom, is die ouderdom van die terroriste. In die Paryse kuierarea waar van die aanvalle plaasgevind het, het getuies die aanvallers in die oë gestaar – jongmense wie se leeftyd ooreengestem het met baie mense wat Vrydagaand aangeval is.  Vir dié getuies was die konfrontasie met tydgenote wat net wil moor die een herinnering wat die meeste bly spook.

Die terroriste was seker van hul saak,  gemaklik in hulle bewegings en arrogant in hul uitroep oor hul wêreldbeeld en waarvoor Parysenaars moes boet. Volgens oorlewendes van die aanval in die Bataclan teater, het die terroriste uitgeroep dat dié aanval ’n vergelding was op Frankryk se betrokkenheid in Sirië. In die geval van die Charlie Hebdo aanval was dit oor die bespotting van die profeet Muhammed.  Enigiets gee hul rede  om die Westerse beskouinge en waardes letterlik dood te maak – voldoende vir ’n beweging soos Isis om selfs die Moslemgeloof in die proses te misbruik. Geen wonder nie dat daar in sommige Europese lande, soos Sondag in Engeland,  ’n oproep gedoen is op gematigde Moslems om hierteen op te staan en hulle te skaar by die res van Europa wat Vrydag se aanval as ’n daad van oorlog beskou. Die bewoording van die Franse president Hollande in sy eerste reaksie het die aanval bestempel as ’n gruweldaad en oorlogsverklaring op Frankryk.

’n Dag voor die Paryse aanval was 17 vermeende terroriste gearresteer in verskillende Europese lande nadat inligting van ’n plan verkry is om Westerse diplomate moontlik te ontvoer. Die week vantevore is ’n man in Duitsland gearresteer wat verskillende wapens in sy kar gehad het. Saterdag is ’n Fransman gearresteer op die lughawe in Gatwick, nadat hy probeer ontslae raak het van ’n vuurwapen. Hy wou ook vlug. 

Wat wel duidelik is, is weereens ’n spoor wat teruggaan na België en dan veral na die Brusselse voorstad Molenbeek.  Dit was hier waar verdagtes gevind is wat verbind kon word met die terroristiese sel in Verviers;  hier is verdagtes gearresteer wat verbind kon word met die Charlie Hebdo aanval en nou weer hier waar intussen sewe verdagtes gearresteer is ná die aanval van Parys op Vrydag 13 November. Twee dae later was die polisie nog hard besig met verskillende klopjagte in die woongebied. België word internasionaal al lank gesien as ’n land wat ’n draaiskyf vorm vir onwettige wapenhandel.  Die skakel met terroristiese bedrywighede kan nou nie meer ontken word nie. Saterdag het die Belgiese minister van Binnelandse Veiligheid, Jan Jambon, aangekondig dat dit tyd word om Molenbeek “op te kuis”. Sondag was hy al in gesprek met sy kollega in Frankryk.  Molenbeek bly ’n plek waar verskillende radikale Moslemgroepe en allerhande misdaadbendes vir ’n lang tyd met rus gelaat is. Polities was dit lank ’n voorstad onder beheer van die Brusselse Franstalige Sosialiste en waar ’n mens die indruk gekry het dat iedere groep maar hul gang kon gaan in ruil vir stemme met verkiesings.

Europa se vlugteling-kopseer

Ten spyte van die toenemende terreur, word gewone Europese burgers gekonfronteer met die desperaatheid van vlugtelinge uit veral, Sirië - hul trauma en hul nood.  Dat daar heel moontlik terroriste onder die dekmantel van desperaatheid nou as’t ware misbruik maak van Europese gasvryheid en hulp, is ’n realiteit. Dit los steeds nie die problematiek van die vlugtelinge en die impak op Europese gemeenskappe op nie. Baie Europeërs het die vlugtelinge ontvang met goeie  en opregte bedoelinge, maar die werklikheid van terrorisme bring ineens ook ander emosies na bo wat  nie vir ’n lang tyd, en sekerlik nie sedert die Tweede Wêreldoorlog, by Europeërs opgekom het nie.  Emosies soos angs; die haatuitsprake van Isis op Europese waardes bring slegte herinneringe terug van oorlogstoestande van lank gelede; boosheid – soos baie Parysenaars in onderhoude na verwys het; onsekerheid oor die toekoms van waardes waarin die meeste Europeërs glo - soos vryheid van spraak, van beweging, van assosiasie...

Die afgelope somer het hartseertonele verskyn op ons televisie en in die media. Beelde wat die ganse wêreld intussen ken:  vlugtende, desperate mense wat soms letterlik uitgespoel het op die strande van Griekeland . Moeë, ontredderde mense met kinders, grootouers, swanger vroue,  onbegeleide tieners op soek na ’n “normale lewe” ... een waarin gewerk kan word,  ’n mens veilig voel en ’n mens gewoon ’n mens mag wees...Die aankoms van vlugtelinge per boot was nie nuut nie – ’n hele ruk vantevore al het vlugtelinge herhaaldelik aangekom op die Italiaanse eiland, Lampedusa.  Soms het dit die nuus gehaal.  Wat dit hierdie keer anders gemaak het was nie net die trauma van die vlugtelinge nie, maar veral die volume van mense.   Die soeke en smekinge na  ’n “normale” lewe het weerklank gevind by baie  Europeërs.  In die psige van Europa  leef nog diep herinneringe aan wat ’n oorlog doen aan ’n mens en dit waarin mense glo. Toegegee, die meeste hedendaagse Europeërs was nie deel van die Tweede Wêreldoorlog nie, maar die herinneringe van hul ouers en grootouers, van hoe families moes vlug of uitgemoor is, lê nog diep.  

Suid-Afrikaners het die oorlog meer  op ’n afstand meegemaak – nie die daaglikse angste, soeke na kos, gevlug van vallende bomme, verraad van familie en vriende, dreigemente en honger nie.  Die implikasies van die Tweede Wêreldoorlog en selfs vroeër, leef  in Europa nog in die literatuur, televisiedramas, die vieringe van gebeurtenisse soos Wapenstilstand en in die geskiedenisleerstof op skool.  Soveel plekke is nog te besigtig waar die oorlog afgespeel het – byna net soos ’n mens nog herinner word aan die bestaan van die Romeinse Ryk in ou stadsmure, paaie en plekke, soos die Colosseum in Rome.

Ek wou nog... toe breek die hel los  

Ek wou vertel van hoe die verskillende Europese lande op ’n daaglikse vlak met die instroming van soveel nuwe kulture en agtergronde omgaan, hoeveel bereidwilligheid en goeie wil daar onder die meeste mense is, hoe hard daar gewerk word om te sorg dat elke vlugteling ordentlik, veilig en warm kan slaap – nie haweloos sal wees nie, maar warm gaan wees vir die winter. Mense  wie se kinders verwelkom word op skool en hoeveel moeite leerkragte van elke land doen om met entoesiasme en vriendelikheid elke kind veilig en gelukkig te laat voel op skool. Parys Vrydagaand die 13e bring skielik alles in ’n ander stroomversnelling.

Dit is ongelooflik om te sien hoe hard elke regering probeer om te voorsien in huisvesting, inburgeringspakette om die plaaslike taal aan te leer en gesondheidsorg vir dié wat dit dringend nodig het.  Daar is nuanse verskille in die manier waarop dinge gedoen word, maar Europa staan wel saam in die aanpak hiervan – ’n situasie waarop hulle nie voorbereid was nie, maar wel miskien oor gewaarsku is. Die uitnodiging van Angela Merkel aan vlugtelinge om na Duitsland te kom en dat Duitsland hulle gaan verwelkom - “Wir schaffen das...”- het ’n vloedgolf veroorsaak waarop die res van Europa nie voorbereid was nie.  Nogtans, ten spyte van groot interne verskille en stryd in die Europese  politieke familie, was basiese opvang voorsien en vir ’n lang tyd ook met goeie wil. Wat heeltemal onderskat was, was die geweldige golf en tempo van ’n ongekende mensemassa.  Dit is juis hierdie massa wat nou te veel word vir die draagvlakke van die meeste Europese lande.

Die daaglikse toeloop van mense te voet oor landsgrense heen het nie voldoende tyd gebied om te onderskei wie, volgens die Geneefse Konvensie, voldoen aan die kriteria van ’n vlugteling en wie ’n ekonomiese migrant is nie.  Volgens dié Konvensie is elke persoon wie se lewe bedreig word, geregtig op (tydelike) veiligheid in die eerste veilige land van aankoms.  Tot nou was die eerste veilige land van aankoms die land waar ’n vlugteling asiel kon aanvra en geregistreer moes word, maar aangesien die Schengen akkoord bestaan (dat die grense binne Europa nie kontroleer word nie en mense vrylik binne Europa kan beweeg), het vlugtelinge gewoon vrylik beweeg ná hul aankoms in Griekeland of Italië na die lande van hul eie voorkeur.  Die massale toeloop van mense het dit onmoontlik gemaak vir die Griekse owerhede om die vlugtelinge voldoende te prosesseer – ’n veilige land waar hulle eintlik om asiel aansoek moes doen.

Europa beleef nou ’n situasie van onbekende terrein:  nog nooit sedert die Tweede Wêreldoorlog was daar so ’n migrasie van mense waar vlugtelinge self bepaal waar hulle wil woon.  Die oproep van Merkel was vir baie ’n ongelooflike teken van hoop, met die gevolg dat Duitsland op die oomblik reeds die telling van 900 000 vlugtelinge bereik het. Niemand weet tot op hede presies hoeveel vlugtelinge sedert die afgelope somer in Europa aangekom het nie – minstens een miljoen, is die vermoede van baie.

Toe die daaglikse bootritte volop gebeur het en vir baie te gevaarlik geword het, het ander vlugtelinge selfs via Rusland en die Poolsirkel na Noorweë gereis - per fiets.  Vanuit Rusland mag die grens nie per voet oorgesteek word nie en in Noorweë mag niemand met `n minibus of taxi by die grens afgelaai  word sonder geldige identiteitsdokumente  nie. Die vlugtelinge het op groot skaal fietse (soms gewoon kinderfietse) gekoop in Rusland, oor die grens gefiets na Noorweë en daar gewoon die fietse agtergelaat, omdat dit nie voldoen aan die Nore se fietsveiligheidsvereistes nie.

Septembermaand was die keerpunt

Begin September het die sfeer in Europa weekliks begin verander en nou ’n situasie bereik waar Europese lande óf hul grense sluit, nuwe grenskontroles instel, óf selfs heinings op hul grense oprig.  Hongarye was een van die eerste lande wat geweier het om verder vlugtelinge in te neem of deur te laat om verder te reis en het ’n prikkeldraad heining  opgerig - met baie kritiek tot gevolg. Nie lank daarna nie het Slowenië, Macedonië en nou selfs Oostenryk, gevolg. Denemarke neem ook nie meer vlugtelinge in nie.  Swede het verlede week aangekondig dat geen vlugtelinge meer opgevang kan word nie, want die land het geen plek meer nie en grenskontroles is ingestel op alle trein- en ferryverkeer. Ná Vrydag se aanvalle in Parys, is die noodtoestand aangekondig in Frankryk en is grenskontroles ingestel. 

Op hierdie stadium doen Europese lande vrywilliglik mee aan ’n verspreidingsplan van vlugtelinge.  Nie alle lande doen hieraan mee nie, maar dié wat wel meedoen,voel meer en meer dat die las te swaar word. Daagliks stroom nog vlugtelinge vanuit verskillende roetes, Europa binne.  Die toestroming stop nog geensins nie.  Die impak op alle lande is ook nie te onderskat nie – onvoldoende huisvesting of tog al ’n tydelike onderkome te bied, word meer en meer ’n reuse bron van frustrasie. Die meeste lande se opvangsplekke is al heeltemal vol en daar word nou naarstiglik ekstra plekke ingerig, soos tydelike tentedorpe.  Daarbenewens bly dit ’n daaglikse soektog na meer huisvesting, soos ou kasernes, vakansiekampe, kampeerterreine en sportsale. Die Sweedse outoriteite het aangekondig dat in die ergste gevalle privaat vakansiehuise van Swede gebruik sal moet word.  In Engeland word hotelle ingeskakel om die eerste opvanghulp te verskaf, maar in die meeste lande is dit ’n kombinasie van alles wat moontlik beskikbaar is. In België word spesiaal opgeleide personeel ingeskakel wat sorg dat met die eerste aankoms ’n vlugteling ’n warm stort kan neem, ’n warm maaltyd ontvang  en veilig en warm kan slaap.  Verder word daar daagliks in al die basiese behoeftes van mense voorsien. Baie opvangplekke is mooi geleë in die natuur wat veral vir die kinders ’n welkome kans bied om net weer veilig te kan speel. Oral word klere, speelgoed, fietse en beddegoed ingesamel.

Elke land probeer die aantal vlugtelinge wat ’n dorp en stad ontvang, te verwelkom op sy eie manier.  In Nederland word vlugtelinge op ’n rondleiding in die stad/dorp geneem om minder vreemd te voel. In die meeste lande word vlugtelinge onmiddellik taallesse aangebied en die kinders word opgeneem in die plaaslike skole – vir baie van dié kinders vir die eerste keer in ’n lang ruk, ’n baie aangename gebeurtenis.

 

Daar is ook baie aanpassingsprobleme en  gemeenskappe probeer dit so goed as moontlik op hul eie manier op te los. So byvoorbeeld, het een van die Belgiese dorpies duidelik gekommunikeer dat nie alle vlugtelingmans tegelyk na die bakker kan gaan nie.  Gewone klante het groot geskrik toe hulle vroeg soggens by die bakker opdaag en groepe van 30 mans of meer in die bakkery aantref.  Die gewoonte om in groot groepe op straat te wees en op te daag in winkels (iets wat veral die mans van ’n vlugtelinggemeenskap doen), skrik die plaaslike bevolking enorm af. Dit gebeur in die meeste Europese lande waar toevlugsoorde is – in een land meer in die bakker en in ander lande soms meer in die kroeë. Kommunikasie is meestal al wat nodig is om die plaaslike gewoontes te verduidelik.  In Denemarke is daar begin met seksopvoeding, nadat vroue toenemend aangerand is. In vele gemeenskappe moes verduidelik  word dat dit normaal is dat vroue fiets - `n beeld baie vlugtelinge nog nie voorheen gesien het nie.

Almal is nie so nie

Tegelyk is daar ook baie vlugtelinge wat heel hard hul bes wil doen vir ’n gemeenskap wat hul veiligheid bied. Hulle werk vrywillig mee aan opruiming en buurtaksies en doen moeite om die plaaslike taal so gou as moontlik te leer. Die meeste wil ook heel graag werk en self hul gesinne onderhou. 

Ongelukkig is daar ook baie voorvalle van geweld tussen vlugtelinge in vlugtelingkampe onder mekaar en waar die polisie dan by betrek moet word. Die beleid in België is dat amokmakers summier uit so ’n sentrum uitgeskop word.  Aan die ander kant is daar ook in sommige lande ’n toename van rassistiese aanvalle op opvangsentrums, veral in Duitsland. Die een plaaslike gemeenskap,  wat al eeue sy eie gewoontes uitleef, voel meer angstig as ’n ander met soveel vreemde mense ineens in hul buurt.  Dit bly ’n daaglikse aanpassing om om te gaan met tegelyk die nood van mense en groot kultuurverskille.

 In ’n televisieprogram oor vlugtelinge in Swede, het die plaaslike inwoners van ’n dorpie verwoord wat baie klein dorpies oor die hele Europa ook ervaar:  almal is van goeie wil om mense in nood te help, maar die volume van mense raak die plaaslike bevolking baas.  Daar is ook baie vlugtelinge wat nie op die platteland wil woon nie, maar nader aan ’n groot stad wil wees – wat weer as ondankbaarheid gesien word deur die gasheerdorpe. Elke gemeenskap probeer die problematiek so goed as moontlik op te los en in die meeste gevalle begin alles met kommunikasie.  Dit bly nog `n hele soektog onder gewone mense wat oorrompel is met `n totaal ongekende situasie.

 Intussen word die wetlike prosedures in alle lande gevolg om te bepaal wie voldoen aan vlugtelingstatus en wie nie.  Dit sal veral ekonomiese migrante wees wat vermoedelik gouer uitgeprosedeer sal word, maar dat hulle ekonomiese migrante is, is nie altyd bewysbaar nie. Baie van hulle het hulself juis aangemeld as Siriese vlugtelinge en ondermyn so die hele gees van die Geneefse Konvensie.  Die uitbuiting hiervan is intussen ook al duidelik met een van die terroriste van die Parys aanval by wie daar Siriese dokumente gevind is.  Waar asiel/migrantversoeke nie toegestaan word nie, was die prosedure tot nou toe om dié mense terug te stuur na die land van eerste aankoms in Europa. Dit is op dié punt waar die skoen so hard druk aangesien die meeste vlugtelinge/migrante juis geen asielaanvraag ingedien het in die eerste land van aankoms nie, maar gewoon deurgereis het na hul voorkeurland.

Op soek na uitweg vir die vlugtelingkwessie

Intussen het ’n beraad plaasgevind tussen 60 Europese- en Afrikaleiers in Valletta, Malta verlede week.  Tydens dié beraad het die Afrikalande dit heel duidelik gemaak dat hulle nie uitgeprosedeerde vlugtelinge, wat hul landgenote was, enigsins terug wil ontvang nie, ten spyte van `n fonds van 1,8 biljoen euro om dit moontlik te maak.  Tot nou toe kon Europese lande uitgeprosedeerde vlugtelinge/migrante terugstuur na hul oorspronklike land van herkoms – iets wat veral gebeur het as hulle misdade gepleeg het in die Europese gasheerland.

Die vlugtelingkrisis in Europa het dit ook weer duidelik gemaak  hoe groot die rol van armoede is in die besluit van ekonomiese migrante om na Europa te migreer. Ten spyte van konstante ontwikkelingshulp aan Afrika, bly die ekonomiese groei en werkskepping onvoldoende om te voorsien in die behoeftes van die Afrika bevolkings.  Die verdere politieke onstabiliteit en  burgeroorloë maak oorlewing vir die deursnee Afrikaan net nog moeiliker.  ’n Gat in die ekonomiese mark wat soveel mensesmokkelaars raakgesien het en waarmee ’n  “normale” lewe in Europa as die beste nuus van die dag verkoop word. 

’n Voordeel van ’n lewe in Europa is die finansiële hulp wat expats nou jaarliks lewer aan hul Afrikaland van herkoms.  So word geraam dat 12% van Senegal se BNP bygedra word deur expats wat in Europa werk.  Volgens plaaslike Senegalese word dié geld gebruik om  skole mee te bou en elektrisiteit aan te skaf – dienste wat hul regering nie voorsien nie.  Gesinne wat al lank werkloos is en enorm desperaat is, verkies om hul tienerseuns na Europa te stuur in die hoop op werk en ’n inkomste vir die familie tuis. 

Die vlugtelingproblematiek, die toename van terrorisme  in Europa en die swak ekonomiese toestande in Afrika is tans so nou verweef met mekaar dat indien jy aan een draad trek, kom die ander ook los.  Europa bevind homself in ’n uiters moeilike situasie wat nou byna weekliks komplekser word. Die meeste Westerse lande is betrokke by die Siriese problematiek, veral op militêre vlak en sal nog meer as tevore Isis se terreur teëgaan. Tegelykertyd is die Weste al dekades betrokke by ontwikkelingshulp in Afrika, ’n kontinent waar die meeste lande al onafhanklikheid in die sestigerjare verkry het, maar waar ekonomiese groei in baie gevalle nie ’n realiteit is nie.

Europa het self  baie situasies al verkeerd ingeskat wat daartoe lei dat die gerommel in die EU huishouding nooit sal stop nie - daarvoor is die Europese familie te groot, te verskillend, maar die familielede bly verbind aan demokratiese waardes soos menseregte en vryheid van spraak en hulpverlening.  So bly hy bydra tot ontwikkelingshulp en ekonomiese groei in Afrika;  om verblyf aan vlugtelinge van oorlogsgebiede en ekonomies agtergeblewe lande te bied , maar nou moet hy bykomend ook dade van terrorisme  teen sy eie mense beveg – die prys word baie hoog.

Karen de Preter is `n boorling van KwaZulu-Natal, maar was sedert haar studies gevestig in Johannesburg.  Sy het Staatswetenskappe en nagraads Ontwikkelingstudies aan die RAU studeer.  Daarna het sy by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika gewerk en later as ‘n politieke analis by `n konsultasiebedryf.  Sy woon al meer as 20 jaar in België met haar man, self `n oud joernalis, Stijn,  en drie tieners.  Sy is tans in haar finale jaar van `n BSc Hons (Sielkunde). 

 

 

 

28 Oktober 2015

Inge Lotz-moord spook weer

Die Mollett-broers is soos bull terriërs. Waar hulle vasbyt los Thomas en Calvin nie. Dit is die geval met hul in-diepteondersoek na die Inge Lotzmoord. Hul jongste navorsingsboek oor die opspraakwekkende Stellenbosch-moord is nog skaars op die boekrakke en hulle het nou pas bekend gemaak dat daar ʼn soortgelyke onthullende boek oor die Oscar Pistorius-saak gepubliseer word. DE WET POTGIETER het met Thomas Mollett gaan gesels.

Broers Thomas en Calvin Mollett se jongste boek oor die opspraakwekkende Inge Lotz-moord, is pas vrygestel. Bloody Lies Too– More Lies exposed in the Inge Lotz murder case- kom so bietjie meer as ’n jaar ná sy voorganger, Bloody Lies – Citizens reopen the Inge Lotz murder case,wat in Mei 2014 by Penguin/Randomhouse vrygestel is.

Die Mollett-broers het ’n opskudding veroorsaak toe hulle in vroeg 2013 op Carte Blanche sterk bewerings gemaak het oor die 2007-strafsaak waarin Fred van der Vyver onskuldig bevind is, onder meer dat dit nie die polisie was wat bewyse gefabriseer het nie, maar eintlik een van die beskuldigde se eie kenners. Terwyl hulle die polisie deurgaans in beide boeke skerp kritiseer voer hulle aan dat die polisie se basiese weergawe oor die bewyse geldig is en behoort te staan.

In die jongste boek word daar meer besonderhede verskaf oor wat hulle beskou as moontlike nuwe bewyse, soos byvoorbeeld bloedmerke wat gevind is op ’nhanddoek en op die rusbank waarop Inge vermoor is – en wat “geometries perfek met die geïmpliseerde hamer verbind kan word”.

“Ons is uit sommige oorde sterk gekritiseer as ‘amateurs’ , maar ek n Calvin is heeltemal bevoeg en opgewasse om die uitsprake op grond van ons wetenskaplike aanslag te maak.” Het Thomas aan Nuuskantoor-News Desk gesê. “Veral ook omdat ons dit deurgaans in die openbare domein plaas om getoets te word.”

Thomas sê hy en Calvin het  in die bykans drie jaar wat hul bevindings in die openbare domein (hulle publiseer byvoorbeeld al hul werk op www.truth4inge.com ), was daar nog geen suksesvolle poging om hul werk as ongeldig of verkeerd te bewys nie.

In die jongste boek maak hul sterk aanspraak op “objektiewe bewyse”, bevindings en gevolgtrekkings “wat nie hul opinie is nie maar  wel onbetwisbare en meetbare feite is”.

Thomas het ’n  B.Sc.-graad maar het  nooit werklik daarmee gepraktiseer nie, en was vir die meeste van die afgelope dekade in teksredigering en -ontleding betrokke. Hy voel dat dit sy oog vir detail geoefen het. Nadat hy in 2012 Antony Altbeker se boek Fruit of a Poisoned Tree gelees het, het “sekere detail daarin hom gepla”.

Hy het toe op die internet gegaan en sy eie navorsing oor die saak begin doen. Volgens Thomas was dit nie ’n doelbewuste of beplande poging nie maar daar het voortdurend goed opgeduik wat hom genoop het om verder te krap. Ná ’n paar maande van navorsing het hy die hulp van sy ouer broer Calvin, wat ’n meestersgraad in siviele ingenieurswese het, ingeroep.

Namate hulle eksterne kenner-insette en -menings ingewin het en hul eie verslae deur onafhanklike kenners hersien is, is hul bevindings in Januarie 2013 vir die eerste keer op Carte Blanche bekend gemaak, in wat een van die langste insetsels nog in die aktuele progra se geskiedenis was.

Bloody Lies Too is maar net nog ’n skakel in die voortdurende ondersoek waar ons die leuens van die afgelope dekade afbreek en die waarheid oor Ine se grusame dood vrystel,” sê Thomas. Hy reken dat hoewel die huidige bevindings reeds baie verdoemend en voldoende is vir ’n suksesvolle vervolging, is dit ‘nog net die oortjies van die seekoei’.

“Daar kom nog nuwe feite en ons glo die waarheid gaan uiteindelik seëvier. Ons gaan en wil Inge Lotz se moordenaar ontmasker.”

Lees meer oor die Molletts se ondersoek en boeke by www.Truth4Inge.com

Die Mollett-broers het intussen bekend gemaak dat hulle binnekort ook ’n boek oor die Oscar Pistorius-saak uitbring. Volgens Thomas, is die boek ook nie blote rapportering van ’n saak nie maar die resultaat van ’n deurtastende en wetenskaplike ondersoek na die hoofareas van bewyse, getuies en getuienisse.

Dié boek wat in Desember beskikbaar sal wees, sal volgens Thomas ’n hele paar nuwe bewyse en perspektiewe vir oorweging op die tafel sit en ook weereens bewys hoe gebrekkig die polisie se vermoëns skynbaar is om moordsake te hanteer.

● SPECIAL OFFER

With 'Oscar vs The Truth' (OVTT) nearly on its way to the printers, to be out early December, we now offer a special on prepaid orders. And you score on the 'Bloody Lies' series.

Pre-order and pre-pay for the Oscar book (R250) and get a signed set of the 'Bloody lies' books (BL and BLT) free of charge now (hard copies by postal mail). So you get both the BL books and OVTT for only R250. Offer valid as long as BL and BLT stock lasts (very few BLs left).

 A limited print-run of OVTT will be printed initially, so ensure you get a copy by using this offer, which will guarantee you one. It is going to be a very interesting book; not a rehashing of the case and trial but a thorough examination of evidence, versions and witnesses, that gets to a very credible conclusion.

If you are interested in this prepaid offer, please email thomasmollett@gmail.com  and we'll make further arrangements with you. (If you have the BL books already and don't want the set, the prepaid amount is R200. You then get the book once it is out in Dec. The recommended retail price for OVTT in shops would be around R250, so you still score with a prepaid order.)

 

 

 

Terug Terug na bo