JOIN OUR MAILING LIST


28 Junie 2016

Pragtige musiek onder die bome by Leriba

’n Ideale kans om goeie ligte klassieke klanke en ’n glasie wyn in die pragtige inheemse tuine van Leriba Hotel en Spa in Centurion te geniet, wag op almal wat op Sondag 3 Julie daar gaan saamkuier. Die Pretoria Simfonie-orkes onder leiding van Schalk van der Merwe gaan die musiek in die buitelug verskaf. Die musikale spyskaart bied onder meer ’n paar gewilde opera-arias en musiek uit  musikale blyspele soos Les Misérables. Die tydlose musiek van Mozart en ander gewilde komponiste sal die dag verder inkleur skryf ALITA STEENKAMP

Die soliste wat die verhoog met die simfonie-orkes gaan deel is Christiaan Snyman, ’n bariton wat deesdae in Duitsland werk en woon en vier stemme van Sempre Opera: Deirdré Blignaut-Rautenbach (sopraan), Linette van der Merwe  (mezzosopraan), Chris Mostert (tenoor) en Danie Verster (bariton).

Die toegangsgeld sluit  ’n gratis wynproe van ’n paar uitgesoekte kelders in. Wyn sal ook te koop wees teen kelderprys. Leriba Hotel en Spa spog ook met twee toprestaurante, Chapters en Hemingways wat vanaf 11:00 tot 22:00 oop sal wees en gaste kan voor of na die vertoning heerlik gaan eet.

Kaartjies vir die geleentheid kos R200 per persoon en sluit die wynproe in.

Kinders onder 18 betaal geen toegangsgeld.

Datum: 03 Julie2016

Tyd: 15:00 - 17:00 (Hekke maak 11:00 oop)

Duur van die konsert: 2 uur wat ’n pouse van 30 minute insluit.

Die kaartjies is beskikbaar by Computicket.

//online.computicket.com/web/event/symphony_orchestra_in_the_garden/1036733811

Vir enige navrae skakel (012) 660 3300 of stuur ’n e-pos aan: management@leriba.co.za

 

 

 

 

 

Oppikoppi se stowwerige antiklimaks

Oppikoppi het die naweek van 7 tot 9 Augustus mondig geword. ’n Volle 21 jaar het verloop sedert Afrikaanse musieklegendes Koos Kombuis en Valiant Swart ’n handjievol rockliefhebbers vir die eerste keer op die plaas, net buite die klein myndorp Northam in Limpopo, vermaak het.

In 21 jaar het die fees verander. Gegroei. Tog bly sekere dinge konstant. Die stof, die liefde vir musiek, die partytjie en die soet reuk van dagga oral waar jy gaan. PETRONELL VORSTER was by hierdie jaar se Oppikoppi en vertel hoe sy die fees ervaar het.

Oppikoppi is nie vir sissies nie

 “Terwyl ek vroeg Vrydagoggend staan en rondtrippel in die ry voor die badkamers hoor ek die meisie voor my vir haar vriendin se ‘’Ek het geweet dit gaan rof wees, maar ek het nie besef dat dinge so vinnig so far south sou gaan nie”. Ja, girl. Oppi is nie vir sissies nie.

My Oppikoppi-verslawing het in 2012 met “Sweet/Thing” begin. Ek was ’n tweedejaarstudent op Potchefstroom: arm, onvoorbereid, maar gewillig. Ek sou nooit met myself kon saamleef as ek die geleentheid om Fokofpolisiekar, aKing, Seether en Bullet for my Valentine in een naweek te sien speel, laat verbygaan het.

Oppikoppi 2015: “The Fantastic Mr. Vos-Vos” was my vierde Oppikoppi. Ons kamp het bestaan uit ’n mengsel van Oppikoppi veterane en “virgins”. Gevolglik was ons goed voorberei op die aanslag wat Mordor ons sou bied.

Vrydagoggend

Toe my wekker Vrydagoggend drieuur afgaan, kon ek myself skop. Met die vorige aand se beurtkrag kon die pakkery eers heelwat later as beplan gebeur en ek het nie veel slaap ingekry nie.

Ons het egter fluks in die pad geval en na ’n paar verkeerde draaie in die donker het ons teen negeuur in Northam aangekom en kon ons by ons vriende aansluit wat reeds Donderdag deurgery het.

Met die uitsondering van aKing was daar nie juis Vrydag enige optredes waarin ek belanggestel het nie. As ʼn groot rockliefhebber was ek taamlik teleurgesteld in hierdie jaar se kunstenaars. Ek verstaan dat Oppikoppi moet groei en diversifiseer om meer feesgangers te lok, maar vir my sal Oppikoppi altyd ʼn rockfees bly.

aKing het ʼn fantastiese vertoning gehad. ʼn Uitstekende vermenging van ou en nuwe musiek het die skare behoorlik aan hul lippe laat hang.

Nadat ons ʼn rukkie na Stoker op die James Philips verhoog gekyk het, het ons besluit om te gaan slaap. Oppikoppi was nog twee dae lank en min slaap en die Bosveldson het sy tol begin eis.

Terwyl ek vergeefs in my tent aan die slaap probeer raak het, (Oppikoppi is nie ʼn stil plek nie), het 20 000 stemme wat deur die bosveldnag weergalm het, dit duidelik gemaak dat die Parlotones ʼn groot indruk op die gehoor gemaak het.

Saterdag

Saterdagoggend het feesgangers stadig maar seker begin ontwaak. Die pas was duidelik stadiger as Vrydag en heelwat Rehidrate en Grandpa’s moes help om die feesgangers aan die gang te kry.  Dinge het meer ernstig geword, die stof was meer, die badkamers baie vuiler en die drank heelwat minder. Die kampterrein het stadig maar seker soos ʼn ashoop begin lyk. Die stof was ook die ergste wat ek dit nog ervaar het. Ek het vir die eerste maal permanent my buff gedra om die stof uit my neus te hou.

Dit was ook die eerste jaar dat daar vir my ʼn element van gevaar aan die fees verbonde was. Polisiemanne was orals; op perde, met honde, te voet. Ons het ook gesien hoe twee dwelmhandelaars gevang word. Twitter en Facebook was vol waarskuwings oor diewe... Ons was so effe onrustig.

Net soos Vrydag het die groot name wat vandag sou speel, my nie beïndruk nie. Black Cat Bones en Desmond and the Tutus was die uitsondering. Nog ʼn baie lekker vertoning was Tweak se reünievertoning. Met ʼn sterk ondertoon van nostalgie het die groep die gehoor op hul voete gehad.

Hoewel baie feesgangers baie opgewende was oor die Hip-Hop groep A.K.A se vertoning, was die musiek nie iets waarna ek sal luister nie.

Sondag

Sondag was die Oppikoppidag waarna ons hele kamp uitgesien het. Dit was die eerste dag van die fees waar ons elke uur, vanaf vyfuur tot middernag, wou kyk. Nadat ons die kaal-naelresies beskou het, het ons ons vuurtjie aangesteek sodat ons vroeg kon braai.

Die Johnny Clegg tribute was fantasties. Die gehoor was enorm en feesgangers het hulself oorgegee aan die musiek.

Karen Zoid het seker die beste vertoning van haar lewe gegee. Sy het die gehoor op hul voete gehad met van haar grootste treffers soos “Afrikaners is plesierig,” en “Engel”. Sy het ook ʼn uitstekende Metallica-cover gedoen en Francois van Coke het ook by haar aangesluit om ʼn liedjie te sing.

Die ander hoogtepunt van die aand was Francois van Coke. Hoewel hy verskeie van sy nuwe solo-album se snitte gesing het en die gehoor nog nie die musiek so lekker geken het nie, kon Francois nogtans daarin slaag om die gehoor te bekoor. Feesgangers was in ekstase oor sy “Smells like teen spirit”-cover van Nirvana. Die Northam Uitgewasde koor vir Mans en Vroue en Karen Zoid het ook by hom aangesluit vir ʼn cover van die Fokofpolisiekar liedjie “Skynheilig”. Die hoogtepunt van die aand en waarskynlik die fees was die “Toe vind ek jou”-duet van Karen en Francois.  ʼn Mens moes mooi luister om die twee bo die samesang van die gehoor te hoor.

Nadat ons op ʼn musiek “high” terug kamp toe is, het ons die skokontdekking gemaak dat diewe ons tente met messe verskeur het om binne te kom. Gelukkig was al ons waardevolle besittings in die kar toegesluit, maar ons bure het duisende rande se kamptoerusting verloor.

By verdere ondersoek het dit geblyk dat talle mense in die omgewing slagoffers van die booswigte was. Verskeie tente is beskadig. Slaapsakke, tente, kamptoerusting en selfone is gesteel. Oppikoppi het my vir die eerste maal in vier jaar in die steek gelaat. Ons Oppikoppi het op ʼn effense antiklimaks geëindig.

Die pad huis toe

In die kar op pad huis toe sit ons almal en praat oor ons gunsteling Koppi-oomblik.

 “Definitief queen Karen se set,” sê Arno beslis.

 “Ja! “ beaam Amanda met ’n heesgeskreeude stem, “of haar en Francois se collaboration, dit was amazing.”

Morné dink ’n oomblik: “Nee man, julle is crazy, dit was toe ek by die heuwel afgerol het”.

 Almal lag en die kar raak stil.

“Weet julle wat het Koppi my geleer?” vra Amanda.

“Nee, wat?” wil ek weet.

“Dankbaarheid,” antwoord sy. “Ek is dankbaar vir die tunes, vir die bra wat wet wipes uitgevind het en vir die skoon badkamer wat vir my by die huis wag!”

 Ons almal lag. “Doen ons dit volgende jaar weer?” vra Danie.

‘’Ek weet nie, ek moet eers ’n bietjie recover voor ek daardie besluit kan neem,” antwoord ek, soos ek elke jaar doen.

● Petronell Vorster is besig met haar Honneursgraad in Kommunikasiekunde aan die Vaalkampus van die Universiteit van Noordwes. Sy is pas aangestel as fotoredakteur vir Aardklop se feeskoerant, Spat, wat weer vanaf 5 tot 10 Oktober in Potchefstroom gehou word.  Andersinds lees sy enigiets wat sy in die hande kan kry en skryf is vir haar ʼn passie. In haar vrye tyd maak sy plantjies en rose bymekaar vir haar nuwe tuin.

Terug Terug na bo