JOIN OUR MAILING LIST

15 Januarie 2016

Dagsê Mabel Beeslaer van Frik du Preezstraat

’n Pawpaw vir my darling wat tans landswyd in rolprentteaters draai, vaar baie goed by die loket. Hierdie fliek van Koos Roets wat gebaseer is op Jeanne Goosen se roman, word uit alle oorde lof toegeswaai en resensente is dit eens dat hierdie ’n fliek is wat jy nie durf misloop nie. Jana Nortier vertolk die rol van Mabel Beeslaer in hierdie fliek. ALITA STEENKAMP het in ’n Skype-onderhoud by haar in Suid-Korea ingeloer waar sy tans skoolhou.

                      In 2002 het die boek, ’n Pawpaw vir my darling, uit die pen van die bekroonde skrywer Jeanne Goosen verskyn en aan talle lesers oneindig plesier verskaf. Uit die oë van die hond Tsjaka as verteller, leer ken jy die Beeslaer-gesin van Frik du Preezstraat, Damnville. Vleis en Soufie Beeslaer, met hulle kinders wat spook om kop bo water te hou in die Nuwe Suid-Afrika met al sy veranderings, vorm die kern van die gebeure. Hierdie aweregse gesin se bure en vriende sorg natuurlik ook vir onstuimige interaksie in die denkbeeldige woonbuurt anderkant die spoorlyn.

Koos Roets het jare lank geloop met die idee om hierdie boek van Jeanne in ’n draaiboek te omskep, en uiteindelik het dit gebeur en is die wiele aan die rol gesit vir die maak van die gelyknamige rolprent. Die regte spelers vir die verskillende rolle is gesoek, en selfs die ideale hond is gevind om viervoet in die rol van Tsjaka in te klim. Die resultaat is ’n besonderse fliek met kleurvolle karakters, skreeusnaakse, vlymskerp dialoog en situasies waar ’n mens maar net jou kop kan skud in totale ongeloof. Koos Roets en sy span het die land se top akteurs bymekaar gekry om deel te word van die projek: Deon Lotz as Vleis Beeslaer, Deirdre Wolhuter as Soufie. Dan is Lida Botha Ou Sally Caravan, Marcel van Heerden is die swerkater Tango du Toit en Brümilda van Rensburg is die buurvrou met ’n haardos wat Hannon na sy asmapompie sal laat gryp.

 

Bykomend by hierdie lys bedrewe akteurs, kan die naam van Jana Nortier gevoeg word. Jana het kykers se harte verower as Sussie in die sepie Villa Rosa. Nadat sy besluit het om eers vir hierdie karakter totsiens te sê, het die geleentheid opgeduik om deel van hierdie filmproduksie te word. Jana is te sien as Mabel, Souf en Vleis se luigat opgeskote dogter wat kliphard droom om eendag soos haar heldin, Charlize Theron te maak en pad te gee uit haar slegte omstandighede. Die skone Mabel se voorkoms word egter ontsier deur ’n klos moesies hier langs haar linkeroog. Hoe moet die arme ding ooit ’n man kry?, wonder ’n paar van Damnville se inwoners.

Jana gesels uit ’n koue Suid-Korea

Toe ’n Pawpaw vir my darling Vrydag 8 Januarie by teaters landwyd geopen het, kon Jana egter net via Facebook en Twitter in hierdie opwinding deel. Sy is reeds van 24 November af in Suid-Korea waar sy by ’n skool in Cheongna International City aangesluit het as ’n drama-onderwyseres. Gelukkig het Jana voor haar vertrek die geleentheid gehad om die première van ’n Pawpaw vir my darling in Johannesburg by te woon, en boonop kon sy haar ouers saam met haar neem om te deel in die vreugde. Vir die twee was dit ook ’n aand om te onthou, sê sy.

Via Skype gesels Jana met my en dis duidelik dat dit tans daar baie koud is. Jana vertel gou sy het al haar eerste sneeu daar beleef, en sy kry behoorlik koud. Wanneer sy so na almal hier in Suid-Afrika se Facebookfoto’s van strandvakansies loer, verlang sy sommer meer as te vore. Sy is tans nog besig om haar voete te vind, en dis veral die probleem met kommunikasie wat vir haar die heel grootste uitdaging is.

Jana sê dan dat sy nogal spyt is dat sy nie nou saam met haar vriende na die fliek kan gaan kyk nie, maar almal stuur gelukkig goeie terugvoer. Vir haar was die rol van Mabel ’n vreeslike lekker ervaring, veral omdat sy die kans gekry het om met sulke ervare akteurs en regisseur, Koos Roets, saam te werk. Mabel, voeg sy by, het haar soms baie kwaad gemaak omdat sy so vreeslik selfsugtig is. Dan lag sy wanneer sy vertel hoeveel pret sy en die garderobe-meisie gehad het, elke keer wanneer dié vir Mabel in ’n nuwe uitrusting geklee het. “Dis nogal embarrassing om dit nou te sien want ek is behoorlik in ’n paar nommers ingegiet. In die boek beskryf Tsjaka Mabeline as "’n ekstra-ekstra outsize nommer,” en deur vir my klere aan te trek wat heeltemal te klein is, het ons vir Mabel behoorlik belaglik laat lyk.”

’n Besige tyd wag op haar

Jana het ’n kontrak van 20 maande met die skool gesluit. Hierdie internasionale skool waar sy klasgee, het weer op die 11e Januarie oopgemaak, en tydens ons gesprek kon Jana nie wag dat die kinders moet opdaag nie. Sy sien baie uit na hierdie ervaring. Jana het ná haar studies skoolgehou by Helpmekaar Kollege in Johannesburg voordat sy voltyds as aktrise begin werk het. Sy het die kinders van die skool reeds in die eerste twee weke van Desember ontmoet, maar toe was daar nog nie genoeg tyd om hulle name te leer ken nie en dit is nou heel eerste op haar prioriteitslys vir die nuwe jaar.

“Ek hou vir al die grade skool, so my skedule is nogal rof, maar dis ook baie opwindend want ek gaan die geleentheid kry om amazing dinge met hulle te doen. Ek word toegelaat om my eie kurrikulum uit te werk en my eie toetse op te stel, so alles gaan teen my tempo en pas gebeur. Die omstandighede hier is fantasties en ek is baie geseënd. Die kamer waarin ek woon is eintlik niks meer as ’n luukse koshuiskamer nie, maar ek het alles wat ek nodig het. By die skool is die heel kleintjies my grootste  uitdaging want hulle is baie besig en jy moet so goed voorbereid wees om hulle die hele tyd besig te hou. Snaaks genoeg is my Graad 11 en Graad 12 groep net seuns. Die kinders kan redelik in Engels kommunikeer, en al die onderwysers by die skool praat Engels so by die werk is die kommunikasie nie so ’n probleem soos wat dit op die ander plekke is nie. Die mense probeer nie eers Engels praat nie, ek sal dus maar so gou as moontlik moet leer om myself in hulle taal te help.”

Jana sê in die vakansie oor Kerstyd was dit geweldig koud, maar sy het tog besluit om vir ’n kort toer na Gapyeong te gaan, ’n dorp, op die platteland. Daar het sy op een van die toeristebusse geklim wat by die verskillende besienswaardighede in die stad stilhou en so die mooiste plekke gesien. Dit was beslis die moeite werd om die koue te trotseer, sê sy. Van hierdie plekke sluit Petit France, Nami-eiland en die Botaniese tuine in.

“Hierdie botaniese tuine staan bekend as The Garden of Morning Calm en is besonder mooi. Al wil ’n mens nie regtig buite wees wanneer dit so koud is nie, was hierdie werklik ’n hoogtepunt, die natuurskoon is onbeskryflik mooi. Alles word so goed in stand gehou en daar is geen rommel wat rondlê nie. Suid-Korea is ook baie veilig en ek kyk nooit om wanneer ek in die strate stap nie. Ek voel altyd veilig hier.”

Vir eers is Jana vir die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf verlore, maar sy glo nadat haar kontrak in Suid-Korea verstryk het, sal sy nie kan wag om weer voltyds daarby in te val nie. Sy was vir ’n tydperk een van Villa Rosa se teksskrywers, en sal dit in die toekoms graag weer wil doen. Dan verklap sy ook dat Sussie hier aan die einde van die sepie se uitsaaitydperk ook weer gaan kom inloer.

Alles is hier, behalwe vriende en familie

In die loop van ons gesprek is dit duidelik dat die verlange hoog loop. “’n Mens kan alles hier kry wat jy in Suid-Afrika kry, maar my vriende en familie is nie hier nie en ek mis almal geweldig baie,” sê sy. Vir eers het sy nog nie vreeslik ge-eksperimenteer met Koreaanse kossoorte nie, maar sy glo sy sal ook mettertyd al hierdie nuwe en vreemde smake wil ervaar. Sy glimlag en sê al klink dit dalk soos ’n cliché, wil sy die tydperk in Suid-Korea gebruik om weer by haarself uit te kom. Soms raak ’n mens so besig met dit wat jy moet doen, dat jy vergeet wie jy is en wat jou waarlik gelukkig maak. Sy het daarom besluit om haarself tyd te gee om dit te kan doen, in ’n omgewing waar sy buite haar gemaksone is.

“Ek is dankbaar dat ek in ’n gelowige huis groot geword het,” sê sy voor ons groet. “Toe my ma my groet het sy vir my gesê: “Onthou, jy is nooit alleen nie. God sal altyd by jou wees.” Hier oor Kerstyd, toe die koshuis verlate was, en dit regtig baie stil was, het ek daaraan vasgehou. Ek beskou hierdie tyd as die ideale geleentheid om te groei en te ontdek. Ek het, om die waarheid te sê reeds gegroei die afgelope maand en ’n half wat ek hier in die vreemde is. My oë het oopgegaan vir ’n klomp dinge en ek waardeer my hartsmense soveel meer. Ek is blessed om sulke spesiale mense in my lewe te hê. Maar vir nou is my fokus op die taak wat hier in Suid-Korea op my wag. Dit kan net lekker wees.”

’n Paar interessante feite oor die fliek

  • Anton Goosen het die temalied, “’n Pawpaw vir my darling” geskryf  met Boy van die Suburbs in gedagte: “oor die zef kant van sake, maar ook met patos en deernis en soos die boek, uit die hond se oogpunt vertel.”
  • Die fliek is in Westdene, Johannesburg geskiet.
  • Zeus is die hond wat die hoofrol, as Tsjaka, speel. Hy is in ’n township gebore en op vier maande het hy by die DBV geland waar hy deur Sandy Cummell aangeneem is. Niemand het kon dink die brandmaer hondjie wat glad nie wil eet nie sal ooit die hoofrol in ’n fliek speel nie.
  • Tobie Cronjé se stem word ingespan as die stem van Tsjaka.
  • Die fliek het op Dinsdag 12 Januarie reeds die R1 000 000-kerf verbygesteek.
Terug Terug na bo