JOIN OUR MAILING LIST

 

25 Desember 2015

KERSFEESHERINNERINGE

So op die aand voor Kersfees deel ALITA STEENKAMP van haar kleintydherinneringe met lesers van Nuuskantoor/News Desk.  Haar gesin was altyd met Kersfees by Oupa en Ouma Wolmarans, haar ma se ouers, op hulle plasie net buite Brits.

 

’n Wit Kersfees

Kleintyd het Kersfees bloot een patroon gehad. Vroegoggend, op die oggend van Ou-Kersfees is ons na De Kroon toe, daar waar Ouma Thys en Oupa Dois op ’n plasie net buite Brits gewoon het. Met ons aankoms is daar na ’n geskikte boomtak gesoek om as Kersboom te versier. Ouma Thys het elke jaar sakke vol Kersversierings gehad. Sy was die bestuurder van die skoenwinkel op die dorp en wanneer die Kersversierings uit die winkelvenster verwyder is, het sy dit gekry en iewers gebêre waarmee ons die volgende Kersfees ons ‘boom’ kon versier.
Natuurlik was daar jaarliks die gebruiklike Kerskonsert. My taak as die oudste niggie, was dan om die kleintjies af te rig vir die groot konsert. Ouma se JanHarm pop was elke jaar die baba Jesus. Laatmiddag het ons vyf, ek, Francois en Heleen, en ons niggies Lerita en Irene, die son byna met klippe gegooi sodat dit net kon donker word want wanneer dit donker is, mag die geskenke uitgedeel word.
Kersoggend is daar kerk toe gegaan, terug huis toe en dan is die Kerstafel onder die groot lukwartboom gedek. Die lekkerste kos is op die sementtafel uitgepak: Varkboud, hoenderpastei, soet patats, te veel om op te noem en natuurlik die poeding propvol een en twee en vyfsentmunte.
So het dit elke jaar verloop. Van jaar tot jaar was die enigste verskil die geskenke wat ons gekry het, en die hoeveelheid buit wat jy uit die Kerspoeding gemaak het.
Tog is daar een Kersfees wat helder bo die ander uitstaan. ’n Wit Kersfees in die middel van Suid-Afrika se warm somer.
Aanvanklik het alles volgens dieselfde patroon verloop. Ons het ou Kersdag op die plaas aangekom, die geskenke afgedra en gou-gou verdwyn voordat daar te veel werk aan ons uitgedeel word.
“Haai, wie gooi my met ys?”, wou ek boos weet en toe val die volgende blokkie ys. Maar wag so ’n bietjie, dit was nie ys nie. Die volgende oomblik het ’n dreuning soos ’n trop migrerende blouwildebeeste aangekom. ’n Vernietigende haelstorm was op pad. Almal wat Brits ken sal weet hoe berug die plek is vir haelstorms wat maklik ’n hele tabak-oes kon platslaan.
My ma het benoud geskree dat ons in die huis moet kom. Die motors was buitekant op die gras geparkeer. Ouma Thys en Oom Byl het paniekerig uitgehardloop, erdeskottels oor hulle koppe, en met komberse die motors toegegooi. My oom se Pers Variant stasiewa was immers splinternuut. My pa het gelate staan en kyk na die pandemonium. Daar is min dinge wat sy rustige aard kan versteur. Oukei, ek gee toe, sy kar was ook al ’n hele paar jaar oud.
En toe bars alle hel los. Binnekant het ons platneus teen die ruit met opgehoue asems gekyk na die verwoesting wat in een wit stroom aarde toe geplof het. Binne minute was die grasperk spier spierwit. As ek sê haelwit, klink dit dalk of ek sarkasties is. Steeds het die hael in een stroom na onder geval. Glo my of nie, die haelkorrels wat daardie middag op De Kroon neergestort het, was gemiddeld die grootte van ’n krieketbal.
Nodeloos om te sê, die komberse het weinig bedekking vir die motors gebied. Die voorruite was fyn en flenters. Voor die sitplekke op die vloer van die motor het van die groot wit haelballe gelê. Dit was immers nie haelkorrels nie.
Van Ouma Thys se tuin het nie veel oorgebly nie, daar was nêrens ’n boom se tak wat blare aangehad het om ons kersversierings aan te drapeer nie. Tog was ons verdriet maar gering gemeet aan die swart mamma wat iewers in die ooptes was toe die haelstorm losgebars het. Haar tweejarige wat veilig op haar rug vasgemaak was, is juis daar op die plek waar hy die heel veiligste moes wees, doodgeslaan.
My oumagrootjie was die dag daar om die haelstorm gade te slaan. Sy was toe so by die tagtigjaar oud. “In my leeftyd het ek nog nooit so iets gesien nie, ek het gedink die oordeelsdag het aangebreek,” het sy verbouereerd gesê tussen die trane wat gevloei het.
Agterna het ons na buite gegaan en gesoek vir die grootste haelballe om in die vrieskas te sit. Niemand sou ons anders geglo het oor die grootte van die haelkorrels nie! My pa het ywerig foto’s geneem van die vernietiging en van sy wit Variant se verwoeste voorruit.
Dekades later raak ek steeds paniekerig wanneer dit begin hael. Angstig hou ek die grootte van die korrels dop. Eers wanneer ek sien dit is kleiner as ’n albaster, kry ek dit reg om te ontspan. Ek het nog nooit weer so iets beleef nie.
Daardie aand was die uitdeel van die geskenke, sonder ’n vrolike Kersboom, taamlik gedemp. Maar dit was nie al wat anders was nie.
Deel van elke jaar se ritueel was ons vertrek na Scottburgh, die aand van die 25ste, vir ons jaarlikse seevakansie. Hierdie keer sou ons eers moes wag tot die dag na Welwillendheidsdag om ons Variant se voorruit te vervang.
Ons was eintlik te klein om te dink aan die skade wat almal gely het. Van baie oeste het daar min oorgebly. Diere is doodgeslaan, dakke het ineengestort. Vir ons was dit bloot ’n opwindende gebeurtenis wat van daardie Kersfees iets besonders gemaak het. Iets anders as elke jaar se patroon.
En nou, baie jare later, noudat ek ook eerstehands met die pyn van verlies en dood kennis gemaak het, dink ek weer aan die swart mamma wat daardie middag, met haar baba op haar rug, paniekerig probeer vlug het om uit die haelstorm te kom. Sou sy dalk, bo die gedreun van die vernietigende haelstorm, die sang van ʼn engelekoor gehoor het?

’n Poeding vol munte

As ek ooit my memoires moet skryf, sal ’n groot deel van my kindertyd gewy word aan die herinneringe aan De Kroon. My ma se ma en pa, oupa Dois en ouma Thys Wolmarans, het daar op ’n kleinerige plasie gebly. Sondae het ons getrou De Kroon toe gery om daar te gaan kuier. Alhoewel my oupa in Brits gewerk het, het hy kleinskaals ’n hele boerdery aan die gang gehad. Daar was mielies, ertjies, patats, boontjies, pampoen... Heerlike plaasgroente gekweek in Brits se ryk turfgrond. In ’n hok was daar plaashoenders en daar is gereeld onder hulle geslag vir die pot. Sondae het ouma Thys daardie hoendervleis murgsag gekook.

Op die plaas was daar ook ’n varkhok en gereeld is daar vark geslag. Dit was my kleinsus en niggie se grootste pret om my rond te jaag met die arme spiraalstert van die vark wat sy Moses teëgekom het.

Ons het meer as genoeg speelplek op die plaas gehad. Daar was ook ’n leivoor wat water uit die rivier uit na die plaas gestuur het. Elke Sondag is daar bootresies gehou op die voor wat na oupa se plaasdam geloop het. Die bootjies was niks anders as bottelproppies nie en dit was groot pret om die proppie te vang net voordat dit in die dam in spoel en dan weer terug te hardloop na die beginpunt toe.

Jare later, toe ek op universiteit was, het ek vir die eerste keer Blommetjies vir Tant Bella gelees, ’n kortverhaal van Elise Muller. In die verhaal besluit tant Wiesie om met die geld wat Tant Bella aan haar nagelaat het, Bella se graf te versorg en altyd blomme daarop te plaas. Dit het in ’n liefdestaak ontwikkel en spoedig het Tant Wiesie die hele begraafplaas skoongemaak en oral blomme aangedra. ’n Pragtige verhaal. Met tant Wiesie se dood het mense van heinde en verre vir haar blomme gestuur en die hele begraafplaas is daarmee verfraai.

Hierdie verhaal het my besonder na aan die hart gelê want die begraafplaas, wat reg oorkant my ouma-hulle se plasie was, was nog ’n lekker speelplek. Ons het ook die grafte gewas, van my ouma se blomme gepluk en dit dan daar in die grafte gaan druk. Sommige grafte het mos so ’n permanente blomhouer as deel van die grafsteen gehad. Ons was hartseer oor die klein graffies, maar die ergste is die grafte wat jaar in en jaar uit net ’n hopie grond gebly het. In daardie begraafplaas het ons baie ure deurgebring.

Op die werf langs die motorhuis was die ronde sementtafel waar ons altyd Sondae geëet het. Reg langs die tafel was daar ’n lekker skoppelmaai gewees en ons het soms lekker gestry oor wie se beurt dit is om te swaai, maar my pa het later begin om aan elkeen ’n vasgestelde tyd op die swaai te gee en hy was in beheer van die stophorlosie.

Daar is so baie herinneringe aan De Kroon. Aan die begin was daar net plaaslyne en vir ons was dit heerlik om die telefoon op te tel en in te luister. Wanneer ons dan uitgevang is, het ons natuurlik raas gekry, maar dit het ons nie gekeer om dit weer te doen nie. Die dubbelbed in die spaarkamer was die lekkerste trampolien. Tot op ’n dag toe die bed besluit het tot hiertoe en nie verder nie.  Ek onthou nou nog hoe my boude gebrand het oor daardie stoutigheid.

Reg voor my ouma se huis was ’n houtstellasie waarteen daar ’n maanblom gerank het. Later het ek uitgevind die blomme is baie giftig, en dis vandag as onkruid verklaar, maar ek wens steeds ek kan iewers ’n maanblom in die hande kry om in my tuin te plant. Wanneer dit begin skemer word, het die maanblomme oopgegaan. ’n Mens kon letterlik gaan sit en kyk hoe die blom millimeter vir millimeter oopvou. Dit het my geweldig gefassineer.

Oor die Kersfeeste wat ons op die plaas deurgebring het, het ek in ’n ander storie geskryf. Tog was daardie wit Kersfees, met die angswekkende haelstorm, nie die enigste Kersfees wat my helder bybly nie.

Met Kersetes het die sementtafel onder die lukwartboom  behoorlik gekreun van die kos, dis nou indien ’n sementtafel kan kreun. Bruin gebraaide hoender, gebakte aartappels, soet patats, bone met aartappels en uie. O, en ouma Thys se Roly Poly poeding. Soeter as soet. En behalwe vir die skopgraaf vol suiker wat daarin was, was die poeding natuurlik propvol munte gestop. Die is voor die tyd deeglik geskrop en vir ure op die stoof gekook. Die geld wat ek met Kersetes uit daardie poeding gehaal het, was genoeg sakgeld vir die seevakansie wat net na Kersfees begin het.

Een Kersfees bly my glashelder by. Daardie jaar was my ma se broer, Oom Wolfie, vir die eerste keer in jare saam met die familie vir Kerstyd. Hy is Frederik Gerhardus gedoop, maar net my ouma het hom Frederik genoem. Vir die res van die wêreld is hy Wolfie of Wollie, wat natuurlik te danke is aan sy van: Wolmarans. Waar Wolfie is, is daar altyd joligheid en hy is altyd besig met een of ander aapstreek. Terwyl ons nog sit en sif vir vyf en tien sent stukke in die poeding, haal hy opeens ‘n vyftigrandnoot uit sy mond uit. “Kyk wat het ek gekry”, roep hy opgewonde uit en maak asof hy die noot aflek. Vervaard spring ons kinders weer met nuwe ywer in die poeding in. Bakkie na bakkie, maar helaas, dit bly maar by vyf- en tiensentstukke en as jy gelukkig is dalk ’n R1 stuk. Soos ’n wafferse kulkunstenaar het hy dit reggekry om ons te laat glo hy het die rooi R50 noot uit die poeding gehaal. In daardie tyd was R50 geweldig baie geld.

Vandag dink ek met groot vreugde terug aan hierdie wonderlike grootwordjare.

Ek sal nooit weer ’n Krismispoeding vol munte eet sonder om aan De Kroon, my ouma en oupa, en natuurlik Wolfie te  dink nie. Dit was salige kinderdae waar die rykdom veel meer was as die hopie munte langs jou bord.

 

 

 

MOENIE GEE NIE

Dit was winter en dit was koud. Hulle het op strepe langs die strate en in die bosse van Suid-Afrika gesterf. Dis julle, die goedhartige motoriste wat hulle daagliks op straathoeke geldjies deur die half-afgedraaide vensters aangee, wat verantwoordelikheid moet vat. Dis julle skuld dat hulle op straat doodgaan, skryf DE WET POTGIETER na aanleiding van navorsing wat hy in opdrag van Solidariteit se Helpende Hand Fonds gedoen het.

 

Dié skokkende verslag oor jong haweloses wat landwyd by verkeersligte staan en bedel, is verlede week tydens die organisasie se jaarkongres bekend gestel. In die verslag skryf Nicolien Welthagen, senior navorser by Solidariteit: “Die Suid-Afrikaanse konteks waarbinne hierdie ondersoek plaasgevind het, is een van hoë vlakke van wit werkloosheid en toenemende armoede binne ʼn verswakkende ekonomie, min of geen regeringshulp aan wit armes nie en min welsyns- of spesialiseringsinstansies wat die probleem ondersoek en beslissend aanpak.”

NUUSKANTOOR se berig is gegrond op die reeks onderhoude wat De Wet met van die straatbedelaars, wat tans in rehabilitasie by Moeggesukkel in Centurion en House Regenaration naby Rodeplaatdam behandel word, gedoen. Die Helpende Hand se volledige verslag kan hier gelees word. //helpendehand.co.za/wp-content/uploads/2015/09/HH_Navorsingsverslag_AFR.pdf

ʼn Kwessie van oorlewing

Daardie leë afgematte oë sal elke moederhart roer, maar julle goedhartigheid maak daardie verwese, verwoeste mense dood. “Ag siestog, ʼn paar randjies kan hom net help.” “Kyk hoe kruppel loop hy.” “Hy’t seker sy werk verloor...”

Hulle koop nie kos of doeke vir hulle verlore en verlate gesinne, soos wat hulle op die plakkate belowe nie. Hulle koop dwelms om die ondraaglike pyn in hulle ledemate te verdoof. Hierdie verligting is tydelik en hulle word deur die gewoonte gedwing om daardie bose sirkel dag na dag te herhaal.

Die motoriste en jammerhartiges wat so maklik op straat en in winkelsentrums geld gee vir daardie “arme verlore siele” sorg inderwaarheid dat daardie dwelmslawe met elke rand in sy hand ʼn stappie nader aan sy dood kom. ʼn Dood, eensaam en alleen en inderdaad verlore iewers onder ʼn brug of in ʼn yskoue verlate huis sonder krag of water.

Hulle wil gehelp word

Nicolien Welthagen, senior navorser van Solidariteit en Isabel Faurie, maatskaplike werker by Helpende Hand

Die ondersoek het aan die lig gebring dat die meeste van daardie “verlore siele” op straat- daardie jongmans en vroue met die leë, dowwe oë en afgematte liggame- baie graag gehelp wil word.

Maar saam met daardie hunkering om uit hierdie hel van die heroïne, wat so deur hul are vreet, te ontsnap, skuil daar ook die ontsettende vrees van die onttrekking. Hulle wil, maar hulle is bang, hulle wil so graag. Gaan luister gerus na die woorde van Alice Cooper se rock-lied, Poison. Dit beskryf daardie hel in grafiese detail.

Gaan vra maar vir Jacques Papenfus wat Moeggesukkel in Centurion begin het. Hy kan jou presies vertel hoe om hierdie mense te help. Gaan praat met die mense wat daar was en die kopskuif gemaak het om daardie hel van dwelms uit hul afgeremde liggame te sweet.

Hulle is deur daardie hel en sal vir julle kan vertel dat daardie mense op straat smeek om gehelp te word, maar terselfdertyd wegskram van redding omdat hulle nie kans sien om deur daardie uitmergelende onttrekking- of soos die Engelse sal sê “cold turkey”- te gaan nie.

“Ek dink daar is nie ʼn erger gevoel as die onttrekking van heroïne nie. Jy kan nie eet nie, jy kan nie slaap nie. Jou joints is seer, jou rug is seer. Jy kry koud, jy kry warm, jy’s naar, jy gooi op.

“Dit voel fisies of jy doodgaan. Ek het al ouens in die tronk gekry. Groot manne wat huil van die onttrekking. Daar is nie genade in die tronk vir onttrekking nie.”

So verduidelik ene Roland daardie soort van hel.

“Baie van hulle is baie bang vir daardie hel van onttrekking wat mens moet deurgaan. Hulle sal eerder aanhou gebruik as om daardie onttrekkingsimptome van drie weke te verduur.

“Dis baie erg. Daar gaan baie van hulle dood op straat. Veral nou in die winter. Koue, honger. Kyk, jou lyf kan net soveel vat. Jou hart kan net soveel vat en die probleem is as jy spuit vergiftig die heroïne jou hele lyf. Jou bene, jou spiere, jou hart tot in jou bene se murg.

“Mense gaan net dood. Toe ek begin het om te spuit was ons 22 mense gewees. Vandag is daar net drie van ons groep oor.” Roland se vrou het in sy arms aan ʼn oordosis heroïne gesterf terwyl hul vyfjarige seuntjie staan en kyk het.

“Die mense besef nie hulle support dwelms nie. Dis die grootste probleem want jy help nie die ou nie. Jy trek hom net dieper af.”

Moenie geld gee nie

Dit het duidelik uit Helpende Hand se ondersoek geblyk dat die publiek se wanpersepsie van die bedelaars by die verkeersligte  besig is om die sosiale krisis rondom hierdie probleem eenvoudig net verder te vererger . Geld wat aan hierdie bedelaars gegee word, word nie gebruik om kos of lewensmiddele te koop nie. Dit word wel gebruik vir dwelms. Selfs die kos wat jy aan ’n bedelaar uitdeel kan verkwansel word om geld te hê vir dwelms.

Mense is geneig om te dink dat die bedelaars ’n sekere apatie uitstraal. Dit is egter nie so nie. Hierdie “afwesigheid” is die vernietigende gevolg van dwelms. Die dwelms stomp hulle af en dit word uiteindelik onmoontlik om iets te voel en dan is dit veel makliker om ’n skans van verlorenheid voor te hou.

Uit gesprekke met diesulkes kon Helpende Hand goed en duidelik tot die besef kom dat dié mense werklik en inderdaad om hulp roep. Dit is ʼn desperate, maar wanhopige wekroep terwyl die verskriklike vrees van die onttrekking gedurig soos ʼn drogbeeld in die agtergrond oor die wekroep hang.

“Toe begin ons onttrek en van daar af sê jy altyd ek sal more vakansie vat. Vakansie is tyd om reg te kom. Ek sal more, ek sal more, want jy weet nou jy gaan seer hê. Dis elke dag, dis my laaste hit, dis more, more, more, more,” so verduidelik Jacques Papenfus die situasie. “Almal wat al probeer het om die gewoonte te breek, ken die pyn van onttrekking.”

Jacques sal weet want hy was daar en hy is deur dit alles.

Richard de Bruin weet ook wat dwelms soos heroïne aan ’n mens doen. Hy het in sy benewelde toestand vroeër weldoeners in die oë gekyk en tranerige stories opgedis om geld vir dwelms in die hande te kry. Hy het hartseerstories van sy honger ouma en sussie vertel en as hy geld kry net daar omgedraai om dwelms te gaan koop, sy ouma en sussie dadelik uit sy gedagtes.

“As mens verslaaf is aan heroïne dink baie mense ons is selfsugtig en dat ons nie aan ons families dink nie, ons dink nie aan mense om ons nie. Dis glad nie die geval nie en jy het eintlik geen beheer daaroor nie. As jy heroïne gebruik gaan die emosies weg, jou trots gaan weg, jy verloor jou persoonlikheid. Jy is permanent hartseer, teleurgesteld. Jy wil net doodgaan. Jy wil nie meer lewe nie,” het Richard dié lewe beskryf.

“As jy op drugs is het jy nie ʼn eetlus nie. Jy wil nie eet nie. Dis hoekom die ouens so maer word. Hulle eet nie. Dis die grootste probleem. Die ding is jou lyf raak so swak en dan is dit nog die onttrekking. Jy eet nie en jy slaap nie.”

Uiteindelik het dit tyd geword om ernstig te besin oor die bedelaars by die robotte. Hoeveel van hulle bedel werklik vir kos, en hoeveel bedel eintlik vir dwelms. Volgende keer, wanneer jy geld deur jou vensterruit aangee en vinnig wegkyk om nie die bedelaar se lewelose oë raak te sien nie, dink weer. Jy het hom dalk net een trappie nader aan sy dood gebring.

ALLEEN OP STRAAT

Die artikel is dalk totaal te lank, maar ek voel tog dat NUUSKANTOOR die volledige hartseerverhale van hiedie hawelose mense met sy lesers moet deel. Nie een van hulle met wie ek gepraat het, het dieselfe soort van hel deurgegaan nie. Elkeen het sy unieke wêreld van hel gehad in die omstandighede waar hy groot geword het--De Wet Potgieter

Richard de Bruin (27)

Richard se hartseerverhaal het begin met die grusame voorval toe sy stiefpa sy oog op eenjarige ouderdom met ʼn potlood uitgesteek het. Hy was bitterklein, maar tog het daardie verskriklike ondervinding in later jare in sy gemoed begin manifesteer en die rebelsheid in hom tot uitbarsting gebring.

Ondanks die feit dat sy huishouding uiteindelik stabiele en goed was, het die nagmerries van die verlede die oorhand gekry en het hy teen alles in opstand gekom en sy rug gedraai op die mense wat hom liefgehad het, en hom met agting behandel het.

Vandag het Richard die volle sirkel in sy lewe byna voltooi. Hy was letterlik deur hel gewees, en soos baie ander mense wat verlore op die straat was, het hy ook nog altyd gedroom om eendag terug te kom en probeer regmaak wat hy verbrou het. In sy geval is hy op pad terug om die ouboet te wees vir sy jonger halfbroer en halfsuster en om sy oorlede pa se rol in hul lewens te vul.

Richard se verhaal in sy eie woorde:

“Ek was op ʼn baie jong ouderdom aangerand. Ek was twaalf maande oud toe steek my stiefpa, my oog uit met ʼn potlood. Ons het in Tuine in Pretoria gebly. My ma het ook gedrink, dwelms gebruik en sulke dinge en hulle het maar hul frustrasies op my uitgehaal omdat ek die eerste kind was.

My pa en my ma het geskei, my regte pa, juis omdat my ma nie wou regkom nie. My eie pa het uitgevind wat my stiefpa aan my gedoen het.

Hy het gesorg dat my stiefpa lewenslank tronk toe gaan. My ma was deur die hof verbied om my ooit weer in haar lewe te sien. Ek is toe op tydelike basis kinderhuis toe. Was vyf maande daar toe het mense my tydelik aangeneem.

Ek het by hulle gebly vir agt maande  Ek was toe twee jaar en drie maande oud, My pa het hulle toe laat weet dat hy stabiliteit in sy lewe bereik het en hy kan nou na my kyk. Hy gaan my kom haal. Hy het intussen ook weer getrou.

My ma (stiefma) het my soos haar eie kind groot gemaak. My ma en pa het nog twee kinders, ʼn boetie en ʼn sussie gehad.

Ons het ʼn Nice lewe gehad tot op die ouderdom van so vyftien toe begin ek drome kry oor hierdie gebeurtenis toe my stiefpa my oog uitgesteek het.

Toe neem ek aan dat my pa wat my groot gemaak het is nie my regte pa nie en het gedink daai man was my regte pa gewees.

Ek het toe gedink ek moet maar in sy voetspore begin volg en ʼn rebelse houding begin kry. Ek het op skool begin om dagga te rook en saam met pelle te drink.

Ek het op sewentien begin dwelms gebruik, veral heroïne. Baie gou het ek verslaaf aan dit geraak en dit aanhou gebruik totdat ek 26 jaar oud geword het.

In daardie tyd het ek mense begin manipuleer om vir my geld vir dwelms te gee. Het ʼn goeie storie opgemaak en vir die niksvermoedende mense vertel ek bedel vir my ouma en my sussie.

As hulle vir my kos of goed gee het, het ek dit vir geld gaan verkwansel. Mense het vir my jammer gekry en geld gegee.

Voor ek dit begin doen het, het heroïne my na ander punte toe gedryf en ek was by Nigerians, ek het by hulle gebly.

 Ek het as ʼn pimp vir prostitute gewerk. Hulle opgepas in die aand en seker gemaak die geld kom by my uit. Ek het ook in daardie tyd gesteel om my habit te onderhou en ingebreek by huise. Ek het dit alles gedoen om my dwelms te kon koop.

Ek het tronk toe gegaan. Ek was vir vyf jaar toegesluit in Sentraal in Pretoria. En daar in die tronk... die goed wat die mense in die flieks sien... dis nog erger in Suid-Afrika.

Daar’s nommers in die tronk en ek was ʼn stoneyard in die tronk gewees. Stoneyard is ʼn soldaat wat uitgaan en roof en plunder in die tronk. Hy kry sy opdragte van bo-af in die nommers soos ʼn general, fighting general of wat ook al en wat hy vir jou sê om te doen moet jy in elk geval doen.

Ek moes dit doen want ek het nie ondersteuning van buite af gehad nie. Ek het nie mense gehad wat my kom besoek het en kon help om beskerming daar binne te kry nie.  Anders was ek ook een van die outjies wat verkrag was.

Terwyl ek in die tronk was is my pa dood. Die tronkowerheid wou my nie toelaat om sy begrafnis by te woon nie.

Ek moes seker bly gewees het toe ek die dag vrygelaat is uit die tronk, maar dit was nie ʼn blye dag nie want my hart was nog gebreek oor my pa.

Ek het nooit die moed gehad of die kans gehad om hom om verskoning te gaan vra nie. Ek kon nooit na hom toe gegaan het en sê, “Pa, hoor hierso, ek is jammer,” nie. Ek weet nou pa is my regte pa en die ander dinge wat ek geglo het, was leuens gewees.

As mens verslaaf is aan heroïne dink baie mense ons is selfsugtig en dat ons nie aan ons families dink nie, ons dink nie aan mense om ons nie. Dis glad nie die geval nie. As jy heroïne gebruik gaan die emosies weg, jou trots gaan weg, jy verloor jou persoonlikheid. Jy is permanent hartseer, teleurgesteld. Jy wil net doodgaan. Jy wil nie meer lewe nie.

Ek was altyd beskerm deur die gebede van my pa en die gebede van my ma. Dit is hoekom die Here my nooit verlaat het nie.

Maar naderhand as jy alleen is op straat en jy het nie familie oor nie dan kry jy daardie ouens wat opgegee het. Dit is in die meeste gevalle die ouens wat by die robots staan. Hulle het almal hulp nodig.

Die mense daar buite moet weet hulle moenie dink hulle help deur goed vir hulle by die winkels te koop nie. Gee vir hulle eerder nommers om te bel vir hulp.

Dit is my vierde keer hierso. Elke keer as ek hier weg is het dit my gepla dat ek weer terug is in daardie lewe. Mense moet ingryp en help want ons kan dit nie alleen doen nie.

Die mense op die straat wil gehelp word al sê hulle dit nie altyd nie.

Die helfte van die stad se junkies ken my so as ek daar aankom en ek is gerehabiliteer en ek lyk goed en ek sê vir hulle daar is hoop, ons gaan julle help kry julle oor ʼn week dieselfde plek dan kom haal ons julle.

As die gemeenskap ingryp en ons begin nog so ʼn plek soos Moeggesukkel 2 en Moeggesukkel 3 dan kan ons begin uitsprei en die mense help. Die enigste manier wat ons kan help is as die gemeenskap hande vat met ons. Dan kan ons met hierdie ding hardloop.

As ons gemeenskappe saamstaan kan ons finansies sterker raak om klomp plekke te stig soos waar ek nou is, of hulle kan self plekke gaan stig en ons kom vra hoe om dit te doen.

Want daar is baie talent, ons is nie stupid mense nie. Juis die dinge wat ons deurgegaan het in die lewe het ons baie slim gemaak.

 Ons was in die tronke in en uit, maar as die ouens op straat die veranderinge in mense soos ek en die ander hier kan sien, kan sien hoe goed en gelukkig lyk ons nou, dan gaan hulle meer gretig wees om ons te volg.

Om terug te kom na my persoonlike lewe. Ek het eers agt maande gelede uitgevind dat my pa wat oorlede is, was my regte biologiese pa gewees. Hy was ʼn baie sterk man gewees. Hy het baie hard gewerk sy hele lewe lank. Hy het vir my drie maande oortyd gewerk, dagskof en nagskof  gewerk om vir hierdie glasoog vir my te kan betaal.

Hy was ʼn baie goeie pa gewees. Ek kan nie ʼn woord van hom sleg sê nie. Hy het met ʼn padroller oor ʼn ou se bene gery, een van sy vriende, en die ou is oorlede want die roller het altwee bene heeltemal afgehaal. Vandaar af het hy ʼn knak gekry en homself begin verloor.

Elke mens het ʼn idol in sy lewe nodig. Dit is nie noodwendig ʼn pa nie. Die mense daarbuite het miskien nie familie nie en ons gaan daar wees en kan help as hy besluit hy wil gehelp word.

Partykeer kom hulle hard soos ʼn klip voor, maar as jy eers kontak met hulle gemaak het dan besef hy, hoor hier, daar is hoop om reg te kom.

Ek is nou vyf maande al skoon. My kop is oop. Ek besef dat ek baie verantwoordelikhede het wat ek nie besef het terwyl ek die dwelms gebruik het nie.

Ek is, soos ek voorheen gesê het, my pa se eerste kind. Omdat hy na die anderkant toe beweeg het val sy outoriteit nou op my. So my ma, sussie en boetie val nou onder my. Dit is nou my verantwoordelikheid om na hulle om te sien. En natuurlik na myself ook.

Ek moet by my begin. Ek moet eers myself vind  en my kop regkry sodat ek kan sterk wees vir hulle ook.

Ek moet, ek het nie ʼn keuse nie, ek kan nie weer terug gaan na die dwelms toe nie. Ek weet wat gaan gebeur. As ek dit doen gaan ek my ma, my boetie en my sussie verloor. “

“Roland” (30)

Roland se lewensverhaal is ʼn sprekende voorbeeld van die eensame oorlewingstryd wat jongmense vandag moet veg wanneer die dwelms hul lewens totaal oorneem.  Hy was waar so baie ander verwoeste mense nog vandag weggegooi en vergete by verkeersligte en skelmpies in winkelsentrums staan en bedel vir aalmoese.

Hy vrees vir sy lewe want hy was lid van een van die gevreesde “26”-bendes in die tronk. Hy het ook diep in die grusame rituele van Satanisme betrokke geraak totdat die opperpriester hom beveel het om sy baba na die altaar te bring om vir Satan geoffer te word.

“Ek was nie bereid om dit te doen nie en ek is daar weg, maar hulle los mens nooit en mens kom ook nooit weg van die tronkbendes nie. Soos Satanisme los die tronkbendes jou nooit nie,” vertel Roland (skuilnaam) en wys sy voorarms wat vol Sataniese tekens getatoeëer is.

Hy trek sy hemp uit en wys sy “26” rangtekens getatoeëer op elke skouer. “Ek was ʼn generaal, ʼn fighting general en het baie mense seergemaak. Jy kom nooit weg van hulle af nie. Dis blood in, blood out.”

Roland se regte ma was ʼn prostituut gewees. Sy het hom weggegooi toe hy drie jaar oud was en hy is aangeneem.

“My situasie het baie jonk begin. Ek het gevoel ek was nie bedoel nie en ek het nêrens ingepas nie en ek dink ek het liefde gesoek op die verkeerde plekke. Dit het al op laerskool begin waar ek baie rebels was.”

Hy het begin dagga rook, skool gebank en alles. Eendag het die hoof hom geslaan en hy het hom teruggeslaan.

Hy is toe geskors en vir twee jaar Boys Town toe gestuur. Daarvandaan is hy na ʼn verbeteringskool toe.

Daar het sy dwelmprobleem begin. Aanvanklik het Roland klein goedjies hier en daar begin steel om sy “habit” te kon befonds.

“My aangenome ouers het my goed groot gemaak, maar ek het net gevoel ek was ʼn fout. Daar was so baie dinge waaroor ek nie kon praat nie. Hulle het my al van baie klein af laat verstaan dat hulle nie my eie ouers was nie en ek dink dit het my baie gepla. Ek kon nie verstaan hoekom my ma my weggegooi het nie.”

Op vyftien het hy uitgevind sy ma was ʼn prostituut en het hy begin om heroïne te gebruik. Hoewel hy reeds op dertien kokaïne begin snuif het, het hy toe oorgegaan en homself begin spuit met heroïne.

In dieselfde jaar is hy op drie diefstalklagtes vir vier jaar na Baviaanspoort se jeugtronk gestuur.

“Ek het by die ‘juvenile tronk’ in die houtwerkafdeling gewerk. Ek het betrokke geraak by die tronkbendes. Ek wou iewers inpas. Na twee jaar is ek vrygelaat op parool, maar na twee jaar weer terug verval in my ou gewoontes.”

In die Magalies-oord-rehabilitasiesentrum naby Cullinan het Roland ʼn verhouding begin met ʼn mede-pasiënt daar wat sewe jaar ouer as hy was. Hulle is albei toe uitgeskop omdat verhoudings nie toegelaat word nie.

Sy was ook ʼn heroïneverslaafde en die twee het eenvoudig net aangegaan met hul swerwerslewe. Hulle was drie jaar saam en daar is ʼn seuntjie uit die verhouding gebore en hierna het iets baie sleg gebeur.

“Die probleem is toe my seuntjie vyf maande oud was het sy ma ge-overdose en is sy in my arms dood.

“Haar ma-hulle blameer my vir haar dood. Ek verstaan nie watse invloed ek op haar gehad het nie. Toe ek saam met haar was... omrede sy sewe jaar ouer as ek is het my opinie nie baie by haar getel nie. As ek vir haar sê “Baby, moenie baie gebruik nie,” maar omdat ek jonger as sy is het sy gedink my opinie beteken niks nie.

“Ek het alles moontlik gedoen om haar lewe te red, maar nouja, ek word tot vandag toe vir haar dood geblameer. Dit pla my nog vandag.”

Jaar later word hy weer gearresteer. “Toe is ek tronk toe. Tronk in, tronk uit, tronk in, tronk uit.”

Roland ontmoet toe ʼn nuwe meisie op straat en hulle raak betrokke by Satanisme.

“Ek het nogal diep gegaan. Een aand was ons hier in Johannesburg. Almal was daar en ek het daardie aand my naam in ʼn boek geskryf met my bloed. Paar weke later sê hulle ek moet my dogtertjie offer wat ek by Lynette het. Ek het net besluit ek kan dit nie doen nie.”

Roland sê hy was nie by Sataniese rituele betrokke waar kinders geoffer was nie. Hy was egter daar wanneer diere soos katte geoffer word.

“Ek en sy het ʼn ‘blood bond’ gemaak waar ek myself sny. Ek is nie baie trots daarop nie.”

Met die tyd het dinge net erger en erger geraak. Hulle is rehabilitasiesentrum toe en toe dit het nie gewerk nie.

Verlede jaar het Roland se dwelmgebruik buite beheer begin raak. Dit het so erg geraak dat sy ouers se huisdokter gewaarsku het dat sy hart gaan ingee as hy nie ophou met die dwelms nie. In sy lewe het hy al dertien keer oordosisse dwelms gebruik wat hom elke keer by die dood laat omdraai het.

Toe hy destyds begin gebruik het was die heroïne nog baie suiwer gewees.

Hy vertel hy het begin spuit nog voor heroïne beskikbaar was. Dit was nog in die dae van die “Pinks” waar Wellconal opgelos en ingespuit was.

Dit laat gate in jou vleis inval. Daar waar jy dit spuit word jou weefsels vrot en jy kan ledemate verloor van gangreen.

“Baie mense spuit dit in hul lieste in. Ek het bang geraak toe ek sien wat gebeur.”

Roland verduidelik hoekom só baie dwelmslawe so gereeld “OD” (overdose) en sê die probleem lê by die gehalte en suiwerheidsgraad van die middels.

“Die probleem met die dwelms is dat die dealers die heroïne meng met allerhande goed soos Rattex. Die dealers kry ʼn besending drugs en jou lyf raak dan gewoond aan die heroïne. Soos ek. Ek het vier ‘bags’ op ʼn slag gespuit. So bag kos jou tussen R25- R30. So een shot kos jou so R120. Ek het so tien elf shots per dag gesoek,” vertel hy.

“Dit hang af hoe gewoond jou liggaam daaraan raak. Jy raak later nie meer high op die drugs nie. Jy is siek dan spuit jy. Dit maak jou dan net normaal. Eintlik net om jou normaal te kan laat funksioneer.

“Jou lyf raak dan gewoond aan die stock van jou spesifieke dealer. Nou kry hy nuwe stock en hy sê jou nie dis nuwe stock nie. Daai stock is dan sterker as die vorige batch.  So nou gaan spuit jy die gewone vier bags met een shot en dan is dit baie sterker as die voriges. Dis wanneer mens maklik OD.”

Die laaste keer het sy hart vir 32 minute gaan staan. “By my ma se huis nogal. Ek dink dit het hulle baie geskok.”

Sy gebruik het só gevaarlik geraak dat sy ma-hulle ʼn beskermingsbevel teen hom moes kry. Hy was toe agttien maande in die tronk gewees.

In die tronk het Roland as lid van die 26-bende in bendegevegte betrokke geraak en is hy in sy maag en in sy rug met messe gesteek.

Hy en sy meisie het net snags saamgeslaap en bedags hul eie paadjies gevat om geld vir drugs in die hande te kry. Hulle het gaan bedel en steel vir heroïne-geld.

Die lewe het in ʼn bose kringloop ontaard van ʼn ewige soektog na geld om hul dwelmgewoontes te bevredig.

“Ek dink daar is nie ʼn erger gevoel soos die onttrekking van heroïne nie. Jy kan nie eet nie, jy kan nie slaap nie. Jou joints is seer, jou rug is seer. Jy kry koud, jy kry warm, jy’s naar, jy gooi op,” het Roland die hel van “junkies” beskryf.

“Dit voel fisies of jy doodgaan. Ek het al ouens in die tronk gekry. Groot manne wat huil van die onttrekking. Daar is nie genade in die tronk vir onttrekking nie.”

Dit was verskriklik vir hom om uiteindelik op straat te gaan bly.

“Ek het gesukkel omdat ek in ʼn goeie huis groot geword het. My ouers het altyd gesorg dat ek alles gehad het wat ek wou gehad het.

“So dit was erg vir my om op straat te eindig. Nou moet ek in die veld slaap saam met swartes en ek het nie komberse nie, ek het nie klere nie. Dit was moeilik vir my om dit te aanvaar.

“Ek het aan die begin gesukkel om te adapt, maar heroïne maak jou dood. Jy voel vir niks nie. Jy worry nie oor ander mense nie, jy worry nie hoe jy lyk nie. Jy worry nie wat mense van jou sê nie. Solank jy net geld kry.”

 Roland sê die probleem is die mense staan by die robot. Hulle sê hulle het nie werk nie en hulle het nie kos nie. “Outomaties gaan mense vir jou geld gee vir kos. Die mense besef nie hulle support hulle vir dwelms nie.

“Dis die grootste probleem want jy help nie die ou nie. Jy bring hom net meer af.

“As hulle vir jou kos gee... gestel hulle gee jou ʼn box KFC. Daardie ding kos so R160. Daai outjie vat daai box en gaan verkoop dit netso vir R100. As hulle home made kos gee sal ons dit dan maar eet.”

Roland het dit ook benadruk dat kos geen prioriteit in ʼn dwelmslaaf se lewe nie.

“As jy op drugs is het jy nie ʼn eetlus nie. Jy wil nie eet nie. Dis hoekom die ouens so maer word. Hulle eet nie. Dis die grootste probleem. Die ding is jou lyf raak so swak en dan is dit nog die onttrekking. Jy eet nie en jy slaap nie.

“Ek sit nou hierso en my vrou is nog op straat. Ek probeer om haar in ʼn rehabilitasiesentrum in te kry. Sy wil ook gehelp word. Ek moet nou vir haar befondsing en medikasie vir rehabilitasie kry,” vertel Roland

Daardie bekommernis oor haar omstandighede is besig om sy rehabilitasie te benadeel.

“Ek worry oor haar. Ek slaap nie in die aande nie. Ek worry my dood oor haar. Sy bly op straat. Sy is tussen die drug dealer en die straat. Sy slaap op ʼn stuk karton op ʼn sementvloer agter in die dealer se huis.

“Die dealer is ʼn ou swartvrou, Magog, wat die dwelms vir haar dogter smous. Dis winter en ek is bekommerd oor haar. Sy ondersteun my en moedig my aan om aan te hou met rehab,” het Roland desperaat vertel tydens die onderhoud.

“Die probleem met vrouens op heroïne is as sy lank genoeg sukkel om geld vir dwelms in die hande kry gaan sy begin om haar liggaam op straat te verkoop. Dit is my worry. Dis hoekom ek so vinnig as moontlik wil maak.

“Ek is bang sy raak so desperaat dat sy dit begin doen. Daar is baie prostitute in Pretoria-Wes en ek weier dat my vrou sulke dinge doen. Dan gaan steel ek eerder vir haar. Ek sal dit nie toelaat dat sy ’n  prostituut word nie.”

Roland het ʼn nuwe lewe voor hom en daarom is hy so bekommerd oor die welvaart van sy vrou op straat. Hy gaan kerk toe en wil die dinge wat in sy verlede gebeur het regmaak.

“Ek voel daar is net een weg en dit is die Here. Ek moet net bly glo dat Hy my sal help want Hy weet ek het ʼn goeie hart. Ek het baie mense seergemaak in my verlede. Veral in die tronk.”

Volgens hom moet die mense op straat eers self besef hulle het ʼn probleem voordat hulle gehelp kan word. Baie van hulle is baie bang vir daardie hel van onttrekking wat ’n mens moet deurgaan. Hulle sal eerder aanhou gebruik as om daardie onttrekkingsimptome van drie weke te verduur.

“Dis baie erg. Daar gaan baie van hulle dood op straat. Veral nou in die winter. Koue, honger. Kyk, jou lyf kan net soveel vat. Jou hart kan net soveel vat en die probleem is as jy spuit vergiftig die heroïne jou hele lyf. Jou bene, jou spiere, jou hart tot in jou bene se murg.

“Mense gaan net dood. Toe ek begin het om te spuit was ons 22 mense gewees. Vandag is daar net drie van ons groep oor.”

Hy voeg by hy het slegte goed in sy lewe gedoen, maar glo tog dat hy ʼn goeie mens is. Ek het ʼn goeie hart. Ek is goed groot gemaak. Dis nie dat ek regtig mense wil seer maak nie, of dat ek daarvan hou nie.

“Ek het nog baie demons in my wat ek moet uitsort.”

Hy slaap nie, maar sy eetlus kom weer terug want die dwelms is uitgewerk. Soms as mens so depressief raak dan wil jy nie eet nie. Hulle dwing jou hier om te eet.

“My slaappatroon moet nou eers terugkom. As ek slaap en wakker word voel dit of ek babelas is. Ek voel duiselig, ek voel lam, ek voel beneuk. My humeur is kort. Al my emosies is nou alles op een slag besig om terug te kom.

“Ek is kwaad, ek is spyt, ek is hartseer. Al daardie gevoelens kom nou terug en ek sukkel om dit te hanteer.

Roland verduidelik oor die verskillende dwelms op straat en die gehalte daarvan.

“Black tar is jou beste heroïne. Dit lyk soos bruin “putty.” Dan kry jy Thai White. Dis jou vuilste heroïen wat jy kan kry. Dis Nyope, wat baie gewild in die swart gemeenskappe is, en dis baie gesny. As jy die heroïne in die teelepel kook sak die vuil stof af.

“Ek dink die onttrekking is weens die heroïne nie, maar eerder oor die gemors waarmee die dealers dit meng voordat hulle dit op straat smous.”

Die gevare vir Vigs is erg onder dwelmverslaafdes want hulle deel spuitnaalde en dit is baie keer vuil en besmet.

“My ma het later maar altyd vir my nuwe naalde gekoop om seker te maak ek spuit my nie met besmette naalde in nie,” sluit Roland sy gesprek af.

Klein Johny (26)

Mens sal nou nie juis vir Klein Johny in die gees van die ANC-regering se geldmaakfoefies as ʼn tenderpreneur noem nie. Nee, dit sal onregverdig teenoor hom wees. Kom ons beskryf hom eerder as ʼn dwelmpreneur. Hy is ʼn skerp knaap en het ʼn gaping in die mark gesien met die bedelgeld wat die straatmense by verkeersligte bedel vir dwelms.

Klein Johny het goeie vriende gemaak met Pretoria se dwelmbaronne en goeie pryse by hulle beding. Aan die anderkant was hy baie na aan die jongmense wat elke dag staan en bedel het. Johny het ook ʼn dwelmprobleem, maar hy het een voordeel bo sy straatkliënte gehad. Hy het ʼn bakkie waarmee hy die dwelms mee kon skuif. Uit die wins wat hy gemaak het uit die bedelaars, het Klein Johny sy eie dwelmbehoeftes bevredig.

Gebore en groot geword in ʼn biker-familie is Klein Johny van vroeg af gewoond gemaak aan die misbruik van dwelms.

“Ek sal seker sê van laerskooltyd af het dinge verkeerd begin loop. Ek het in Vanderbijlpark groot geword,. My pa is ʼn biker. Hy ry vir die Gypsey Jokers so ek was van kleins af blootgestel aan daai tipe goedjies. Soos byvoorbeeld dagga and what have you.

“Maar my pa het toe later opgehou, maar toe het ek begin. Ek was so twaalf, dertien jaar oud dat ek blootgestel is daaraan en ek het, ja, my pa het dat ek sy dagga-zolletjies vir hom rol. Later aan op hoërskool het ek by my ma gebly want hulle was geskei.”

Klein Johny was toe nie meer blootgestel daaraan nie en sy pa het ook toe al begin afkoel en rustig begin raak met sy lewe.

“Ek het daai mindset gehad en die biker-geit het die saadjie geplant en dit het my interesseer. En, ja, van daar af op laerskool het ek niks dwelms gebruik of gerook nie. Van hoërskool af hier van standerd 9 af toe het was ek toe blootgestel aan ander mense wat dit gebruik het.

“So ja, toe het ek ander goedjies soos heroïne, rocks, acid gebruik. Dit is nou in die latere stadium wat ekke gewerk het, volwasse was toe het ek maar begin. Mens begin maar altyd by, hoe kan ek dit nou sê, die klein babagoedjies, die baba-drugs, en dan sal jy opskuif na iets soos heroïne.

“Jy begin dit te rook of jy snuif hom of jy rook hom met dagga en met tinfoil as hy jou nie meer so skop soos jy wil nie dan gaan jy bietjie harder.”

Klein Johny het die stappe van verslawing verduidelik en gesê heroïne is die einde van die pad. “Hoe sal ek nou sê, jy begin met ʼn Bachelor degree, dan word jy na ʼn doktor verhef. Waar die doktors degree is, is waar jy basies spuit. Dit is die hardste wat hy jou kan skop en die most potentste wat jy hom kan vat in jou liggaam.

“Ek het seker vier, vyf jaar gespuit. Kyk, ek het nie 100% op straat beland nie, maar ek was altyd daar gewees.

“Jy kry jou uppers soos jou cocaine en jou cat. Dit is partie drugs min of meer. So dit is maar meer vir die suksesvolle mense wat geld het en alles.

“Maar heroïne, en veral die mengsel van Nyope, is ʼn dwelm wat veral in jou swart gebiede is. Heroïne is baie volop in die minder bevoorregte areas van die witmense.

“As jy dan die dealers goed ken soos in Mamelodi en in Eersterust dan kan jy altyd ʼn goeie prys beding.

“Ek het daai ouens geken. Ek weet nie hoekom nie, maar ek het altyd ʼn persoonlike verhouding met die, ek sal nie sê die heel grootkoppe nie, maar ek was nie net ʼn gebruiker nie en het ook met die groot outjies gepraat en altyd menslik gewees en onderhandel.”

Sodoende het Klein Johny altyd ʼn goeie prys gekry. “Heroïne  is ʼn baie goedkoop drug. So al die mense wat op straat is, dit is die dwelms wat hulle sal kies because why, hulle kan dit bekostig. Hulle kan hom bekostig en dit is baie maklik om geld bymekaar te kry om dit te gebruik.

“Heroïne is, kan ek vir jou sê, eintlik die gevaarlikste enetjie because hy is so goedkoop en hy is orals beskikbaar.

“Daar is ʼn huis hier in Eersterust. Almal is boemies. Hulle is op straat, what have you,” vertel Klein Johny van sy konneksies met die straatbedelaars.

“Hulle staan by ʼn robot en goedjies en daar is ook ʼn paar vroutjies ook wat hul lyfies en goed verkoop. En hulle staan ook by die robots en what have you. Hulle staan hier in Montana.

“Dit is so maklik en goedkoop en beskikbaar en om te bedel by ʼn robot hulle maak van R700 tot R800 per naweek. En ek meen R700 tot R800 tot ʼn R1000 kry vir jou al klaar ʼn klomp drugs by die dealer.”

Volgens Klein Johny is hy een van daardie ouens wat die mense geken het om die drugs teen kosprys te kry.

“So hulle het basies by die robots gehustle en geld ingesamel en dan het hulle dit oorgegee aan my dat ek die stock kan gaan aankoop want ek het die bargains gekry. Ek het ook nog my bakkie gehad en goedjies want my ma is bevoorreg en die geldjies is alles reg daarso.

“Sy het my altyd geld gegee sodat ek nie op straat moet wees nie en sodat ek kan oorleef en kos koop vir die huis. Hulle het gedink ek werk en ek is suksesvol.

“Meantime was dit nie. en het ek maar ge-hustle en hierdie ouens wat op straat bedel gebruik om as ek hulle stock koop dan sê ek die prys en sny hulle dan obvious uit die storie uit.”

Hulle kry hulle sin, maar hy kry ook sy supply, verduidelik Klein Johny sy sakevernuf. “So het ek maar die outjies van die robots gebruik. Hulle het in elk geval ʼn beter deal gekry as op ander plekke.

Hy verduidelik ook dat dié mense nie juis enige sin van waarde vir geld het nie en dit bestee soos dit van die verkeersligte af in hul sakke beland.

“As hulle geld gemaak het dan sal hulle morsig gewees het en hulle sal KFC of McDonald’s koop terwyl die geld nog daar is. In moeilike tye sal hulle maar tevrede wees om soja mince koop, maar dan sal hulle almal geld saamgooi. Twintig persent van die geld gaan vir kos en die res gaan vir dwelms. Dis elke dag se storie.”

Klein Johny was al in 2013 vir rehabilitasie in ’n inrigting gewees. “Ek het so sewe maande hier gestoot, maar toe sê ek vir hulle ek voel reg, ek voel my lewe staan stil hierso, ek groei geestelik, maar verloor tyd.

“Maar ek meen om ʼn jaar tyd op te gee is nie tyd verloor nie. Ek meen om te kyk vanaf ouderdom van 21 tot hierso aan die einde van 27, 26... kyk waar’s ek. Ek het al daai jare gemors, maar om eintlik ʼn jaar op te gee sou eintlik ʼn investment gewees het.

“Maar toe’s ek slim en ek gaan uit, was agt maande skoon, en toe, nouja, toe val ek al weer. Dieselfde storie oor en nou het my ma my opgegee. Sy wil my ook nie meer help nie en, maar ek het darem nog my nuwe Corsa bakkie.”

Volgens Klein Johny was dit amper of hy het ook “gedraai” daar waar die outjies by die robots staan en bedel.

“Net voordat ek heeltemal beland het waar daardie minder bevoorregte outjies by robots staan, het ek terug gedraai na God toe.”

Hy is nou weer amper drie maande terug in die rehab. Ja, skoon. Nou is dit definitief ʼn jaar, minimum ʼn jaar. “Vorige kere het ek nie klaar gemaak nie en kyk wat het ek gekry want ek het na my self geluister, sê hy.

“Nouja dis nie so lekker soos ek gewoond is aan mamma se geldjies nie, maar daar is nou nie meer ʼn holiday resort nie.

“Nou fisies vat ek die ware pak slae. En ja, die mense hier sien nie die eintlike purpose nie van, hoe kan ek dit nou sê, hulle kyk nie na dit in ʼn spiritual way nie. Kyk in ʼn vleeslike way, maar in ʼn spiritual way... hierdie plek is fantasties.

“Ons moet net volgens God’s law loop. En ons kan nie volgens God’ law loop as ons nog ons rebellious self is nie.”

Jacques Papenfus (33)

Jacques Papenfus (regs) saam met twee manne van Moeggesukkel

Hy was 9 jaar oud toe is sy hele gesin eensklaps uitgewis. Jacques was die enigste een wat destyds die grusame ongeluk oorleef het. Oornag ʼn wesie sonder daardie standvastige dissipline van ʼn pa in die huis, of die liefdevolle aanraking van ʼn ma. Jacques het die ondersteuningsbasis van ooms en tannies gehad, maar dit kon nie werklik instaan vir die gesinsverband waaraan hy tot 9 jaar oud gewoond was nie.

Jacques is ʼn baie intelligente mens. Hy is ʼn fighter wat nie toelaat dat enigiets hom onder kry nie. Selfs nie dwelms nie. Vandag staan sy rehabilitasiesentrum, Moeggesukkel, as die bewys van iemand wat terugveg om sy regmatige plek in die normale samelewing te neem en dan ook nog dubbeld en dwars terugploeg in die gemeenskap om te help met opheffingswerk waar hy vroeër jare self in die moddersloot gelê.

“Ek het groot geword in die Vrystaat. Sterk pa gehad, besigheidsman. My pa het ʼn garage gehad, ʼn kafee en ʼn videowinkel. Ons het see toe gegaan in die Desembervakansie en op pad terug het my pa verongeluk.

“My pa het ’n epileptiese aanval gekry en my ma, pa, boetie en sussie is op slag dood. Ek het gelukkig tussen die voorste en agterste sitplek in geval. Ek was nege jaar oud dit was in 1990.

“My behoud was dat ek daar tussen die voorste en agterste sitplekke daar by die voete in geval het.”

Hy was vir baie lank in Greys hospitaal. Sy been was op drie plekke gebreek en sy milt het gebars. Hy het kopbeserings ook gehad. Hulle wou hom nie daar opereer nie en later van tyd het hulle die klein Jacques Unitas-hospitaal toe gebring en dokters het ʼn pen in sy been gesit.

“So het dit toe reg gekom en ek het by my ma se suster-hulle gaan bly hier in Rooihuiskraal. Dit is hoekom ek nou eintlik ʼn Gautenger is. Was eintlik Vrystater gewees en was goed in sport.”

Op nege jaar het hy al Vrystaat-kampioenskappe landloop gehardloop en toe het hy nie meer lus was om daarmee aan te gaan nie want sy pa was nie meer daar om hom aan te moedig nie.

“En toe maar so deur skool gegaan en in standerd 6 begin ’n ou maar ’n bietjie drink en hier en daar ’n bietjie dagga rook, en daar ʼn bietjie dit. Jy het nie ʼn stabiele agtergrond nie en jy soek oral aandag. Jy doen stupid goed. Jy dink nie.

“Die laaste jare op hoërskool het ek weer bietjie sport gedoen. Eerstespan tennis gehaal, eerste span rugbykaptein en so ʼn ou het nog altyd iets binne-in jou wat ʼn fighter is en jy is net besig om die verkeerde resep aan mekaar te slaan.”

Jacques is toe uit die skool uit. Hier en daar stelselmatig bietjie,bietjie dagga gerook. “Kyk, ek love dagga rook, maar ek kan dit nou nie meer doen nie. Dit was só  dat ek die oggend sal opstaan en dagga rook en die dag sal lekker wees man.

“Maar die ding is jy word beïnvloed deur ander tipe dwelms. Ek en ʼn outjie het ʼn flat gedeel en ek het eendag ingestap toe het hy heroïne gerook en ek het hom gevra wat is dit. Toe sê hy dis “H” en omdat mens koeldrank proe tot jy die regte een het waarvan jy hou, so gaan dit ook met dwelms. Ons het heroïne gerook maar nie geweet dis heroïne nie

“Jy kon dit nie hier gekry het nie. Jy kon heroïne net in Sunnyside gekry het en in Hillbrow. Ons is daai aand toe saam met hom want hy het nie genoeg oor nie. Ons is toe daai aand saam met hom deur Sunnyside toe. Dit was in 2002.

“En die hele excitement van die aand... jy kan gevang word. Dit is soos ʼn stout kind. Ons het daai aand saam met hom gebruik en die volgende oggend het ek en my vriend bietjie oor gehad. En daai aand toe hy terugkom het ons weer saam met hom gery. Die volgende oggend het ons weer oor gehad en ons het weer gaan haal.”

Die volgende dag, na paar dae, toe hulle opstaan toe was hulle siek, vertel Jacques.

“Toe begin ons onttrek en van daar af sê jy altyd ek sal more vakansie vat. Vakansie is tyd om reg te kom. Ek sal more, ek sal more, want jy weet nou jy gaan seer hê. Dis elke dag, dis my laaste hit, dis more, more, more, more.”

Hy het nie gespuit nie. “Ek het die geleentheid gehad om te spuit, maar my ding is dis elke ou se verskillende keuse. Ek het toe begin rocks gebruik in my laaste vier jaar.

“Toe die ouens begin spuit het ek begin rocks gebruik. En die ding is ek het ge-speedball. Dit het beteken ek het my rock gebruik- ek het so R700 ʼn dag gebruik – en ek het vir my ʼn gram heroïne gekoop.

“Ek het dan ge-speedball. Ek het my rock gedrop dan drop ek my heroïen op die rock. Dan vat ek ʼn upper en ʼn downer saam. Dan weet ek nie waar ek traai inkom nie, maar jy traai iewers inkom. Ek was toe 21.”

Jacques sê hy was nog altyd in bemarking gewees en kon altyd ʼn ‘move’ of ʼn ‘scheme’ trek. “Gebruik die ou se deposito om die volgende ou se werk klaar te maak. Dis maar eintlik steel. Jy gebruik geld wat nie eintlik joune is nie.

“Ek het twee keer alles verloor. Ek is ʼn entrepreneur ook so ek kon goed opbou, maar intussen het ek alles verloor en was ek rock bottom. Was twee keer verloof gewees. Twee keer alles verlore en sodra dinge weer goed gaan skop die emosies jou en trap jy weer in die gat.

“Ek was sewe jaar verslaaf en ek is nou agt jaar skoon. Ek is getroud. Nog nie kinders nie. Hier is baie kinders hier by Moeggesukkel.”

Gino (24)                    

Hy is nog jonk en is vas van plan om die lewe nou aan te gryp en ʼn sukses daarvan te maak, maar die lewe wat hy van jongs af op straat geleef het was ʼn ander wêreld. Dit was wild, vieslik en gewelddadig.

Hy was nog skaars mondig toe was Gino al ʼn “Stoneyard” en later ʼn “soldaat” vir die gevreesde 26-bende in die tronk. As ʼn “generaal” van die “26’s” opdrag gee om moord te pleeg of iemand aan te rand, dan doen jy dit, vertel Gino.

In Brakpan het hy met geweld besit geneem van ʼn kamer in die vervalle ou Stasie Hotel en daar besope mans aangerand en beroof wat deur prostitute soontoe gelok is vir gunsies. Hy het nie daarin geglo om te bedel nie. Hy het geweld gebruik om sy dwelmgeld in die hande te kry. Hy het selfs nie eers geskroom om die Nigeriese dwelmbase te besteel nie.

Dit was huismoleste wat Gino op sestien strate toe gedwing het. Daar het hy op die harde manier geleer om “street wise” te word en elke soort dwelm op die mark te gebruik.

“Kyk, ek was in Rustenburg. My stiefpa het my ma baie geslaan en ons het nie baie goed oor die weg gekom daaroor nie. Hy het my in ʼn spesiale skool in Potchefstroom gesit. Op sestien is ek uit die skool uit.

“Van toe af was ek op die straat en ek het met vriende gemeng wat met drugs deurmekaar was.”

Sy omswerwinge op straat was orals. Van Potchefstroom tot by Ventersdorp, Boksburg, Witbank en Brakpan.

Die mense wat hom gehelp het, het dwelms gebruik. Hulle het vir hom blyplek gegee, en hy het saam met hulle gebruik.

“Ek het crystal, heroine, acid, E (ecstasy), cocaine, cat gebruik in Boksburg. So het ek my vrou en kind verloor oor cat. Ek het my kop verloor toe los ek haar.”

Sy kind is vier jaar oud. Hy het ʼn vaste werk gehad toe sy kind gebore is, maar moes alles netso los in Boksburg toe sy vrou besluit sy gaan terug na haar ma toe in Witbank.

Hy het in ʼn stadium die hele Suidkus rond op die strande gebly waar hy sy eie mobiele slaapplekkie geprakseer het. Hy is toe daar by die see vir die eerste keer tronk toe en het in die Westville-tronk beland waar hy by die bende aangesluit het.

“ʼn Tannie by KFC het gesien hoe steel ek houtpalette en het die polisie gebel.”

Aanvanklik het hy uit winkels gesteel om aan die lewe te bly. Eendag het Gino ʼn klomp sjokolade gesteel en dit by die taxistaanplek gaan verkwansel.

“Dagga was my eerste ding wat ek gebruik het. Dit was nie my trigger gewees nie. Vriende was my trigger. Verkeerde vriende.

“Eventually het ek so twee jaar gelede in Brakpan opgeëindig. Daar in Brakpan is die Stasie Hotel reg oorkant die taxi rank. Dis ʼn ou afgebreekte hotel. As jy daar kan bed slaan en nommer gebruik kan jy ʼn kamer daar kry,” vertel Gino.

“So ek het daar ingegaan as ʼn 26. Ek het bed geslaan saam met die 26’s. Daar was 27’s Mosholoshes, prostitute. Dit was die 26’s, 27’s en die 28’s, ja.”

ʼn Wit prostituut het oorkant hom gebly. Sy het dronk mans in die donker na die murasie gebring. “Dan het ons hulle nou beroof, hulle geld gevat en so aan.”

Daar was niks krag nie. Niks nie, nie eers toilette nie, Dit was ʼn afgebreekte hotel. “Jy gaan daar in, jy fight vir jou kamer en dit is joune.”

Volgens Gino het hy vir ʼn lang ruk daar gebly. Hy het net mense geroof.

“Want kyk in Brakpan het dinge vir my wild begin raak want ek het begin om crystal te spuit. Ek het dit nie meer gerook nie. Dis ʼn heel ander gevoel. Dit vat jou in ʼn heel ander wêreld in. Ja, crystal meth gespuit, Kaapse tik.

“As jy dit spuit, kom ek sê veral na ʼn week, word jy wakker, kom jy by, dan hoor jy goeters, jy sien nie ʼn normale lewe nie, en dan begin jy te roof, te plunder, huisbrake- al daai tipe van dinge te doen.”

Gino skryf sy probleme toe aan die geweld in sy kinderhuis. Daar was geen standvastigheid by die huis nie, hy weet nie waar sy my pa is nie.

Hy het ʼn nuwe vrou gekry en vir hom en sy broer afgeskryf. “So dit was ʼn groot probleem. Ek kon nie rejection hanteer nie en ek die situasie baie misbruik.”

Gino sê hy het nooit op straat gebedel nie. “Ek kon nie bedel nie. Ek is ʼn trotse mens. Ek sou een of twee mense iets gevra het en daardie houding van “nee wat”, wat hulle my gee, dan los ek dit. Ek gaan probeer eerder dan iets anders. Ek gaan steel scrap iewers of ek roof in die aand.”

Hy het heroine gespuit. “Ek het dit in Witbank leer gebruik. Ek het dit gespuit omdat ek crystal gespuit het. Ek het myself in die aande heroine gespuit sodat ek kan afkom, om te kan slaap. Ek het al heroine en crystal gemix en gespuit. Dis ʼn speed ball. Ek het al baie dinge gedoen. Ek was bereid om met enigiets te eksperimenteer.”

Gino vertel met genoegdoening hoe hy eendag ʼn Nigey (Nigeriese dwelmbaas) in Boksburg geroof het. “So swartsak vol chronic dagga, Springboktassie. Toe ek daardie Springboktassie oopmaak was daar 100 acids in, double coded red hearts- ʼn hele page (blaadjie), 20g coke, 62 e’s- pumas e’s coloured e’s, drie vuurhoutjieboksies vol rocks- sulke stukke.”

Hy en sy meelopers het alles gebruik. So tussendeur die cat en die coke saamgegooi, op die stoof warm gemaak en gesnuif “dat dit jou neus en sinusse vir weke verstop het”.

“Al my stront het begin in Boksburg, my grootste drug probleem het in Boksburg gebeur,” vertel Gino.

Hy het daar aangekom toe het hy nog nie eers sy vrou geken nie. “Ek was sestien jaar oud,” sê hy.

“Ek het saam met mense gebly wat heavy, heavy cat gesnuif en rocks gerook het. Dit het lekker gegaan. Ek was Oujaarsaand reg voor die polisiestasie, toe reën dit, toe slaan ek ʼn rock reg voor die polisiestasie. Die vensters was toegeasem dan gaan ek in en soek ʼn affidavit om by Presleys in te kom. (Dis seker verklaring dat hy 18 jaar oud is en toegelaat mag word by een van Boksburg se berugte nagklubs, Presley’s.)

Sy lewe het ten goede begin draai toe hy en ʼn vriend eendag by ʼn Nigey se huis was in Brakpan. Dit was een van die drug dealers se huise.

“Ek was besig om sy BMX-fiets te steel. Toevallig toe ek op die fiets klim, klop my stupid vriend- ons was almal hoog en hy was ook maar deur die stront, toe klop hy aan die Nigey se deur om ʼn sakkie te koop.

“Toe sien die Nigey my met die BMX uitry. Toe spring hy met so lang mes deur die venster en ʼn klomp Nigeys kom uit die huis gehardloop. Dit het gereën. So toe ek met die fiets wou draai gly dit en die Nigey gryp aan die fiets.

“My vriend het weggehardloop. Hulle het my daar buite geskop, my twee keer gesteek hier agter die kop.

“Die wit prostituut was die Nigey se vrou- dis nou die een by wie ek gebly het nie dit was ʼn heel ander huis. Sy het hulle toe van my af gekry en ek het een van die Nigeys se voet onder hom uit gegryp en die ander een bo-oor die bank geslaan en toe weggehardloop. So het ek toe weggekom.”

Hierna het Gino sy ma gebel en gesmeek vir nog ʼn kans want hy het haar huis leeg verkoop. Sy het laat hy alles vir haar laat stoor en vir maande dit nie gaan haal nie.

“Toe verkoop ek alles. Van die sitkamerstel tot die koppies en gordyne. Daar was niks. Ek het alles onder haar uit verkoop.

“Ek het toe weggehardloop. Gevolg daarvan kry sy toe ʼn stroke en beland in die hospitaal. Ek het ná drie maande eers uitgevind my ma is in die hospitaal.

“Ek kom toe daar by haar aan. Sy gee my ʼn drukkie en sê ek moet nooit weer verdwyn nie. Die goed wat ek verkoop het maak nie saak nie, ek is haar seun en moenie weer wegraak nie.”

Gino se ma het haar oor hom ontferm en gehelp dat hy by Moeggesukkel ingeboek kon word.

Hy is nou vier maande met rehabilitasie besig en is skoon.

“Ek het gewig opgetel en my kop is op die regte plek. Ek gaan nie weer terug val nie.  Ek is vasberade. Wil dit vir my dogtertjie ook doen.”

Hy het nog nie kontak met haar nie en het so maand gelede met die ma gepraat. Sy wil dat Gino sy kind afteken, maar hy weier.

“Ek sal nie my kind afteken nie. Sodra ek nou hier my voete gevind het en my lewe begin uitsort, sal ek vir my kind begin dinge doen. Sal nie die kind by haar wegvat nie. Sy is ʼn goeie ma. Ek was nog net twee jaar van my kind se vier jaar in haar lewe teenwoordig.

“Dit is moeilik, maar ek sal met die hof onderhandel dat ek haar so eenkeer per maand kan sien. Ek sal onderhoud vir haar betaal, maar ek sal eers my voete moet vind voordat ek daardie stap sal kan neem.  Dit is my plan vorentoe en maak my vasberade om dinge ten goede te laat werk vir my.”

Oor sy vorige lewe en sy verlede sê Gino:

“Ja, dit was rof. Ek sal nie sê ek was spyt oor baie van die dinge nie, dit het my lewenswysheid gegee. Ek het al hierdie dinge ervaar terwyl ek jonk is. So nou dat ek ouer word het ek nie nodig om weer deur dit te gaan nie. Van die ouer mense wat hier is. Hulle het dit te laat ervaar.”

Gino glo daar wag ʼn  nuwe lewe met nuwe uitdagings op hom wanneer hy skoon van dwelms en ʼn nuwe mens uit die rehab stap.

“Ek is ʼn qualified electric technician, qualified CCTV technician , aircons. So ek het baie skills, maar die drugs het my weggehou van werk af want jy is nie lus nie.”

Bra’ Jan (48)

Bra’ Jan- dit is soos hy in Alberton se agterstrate bekend staan. Hy het in die hart van die hoer daar in die dwelmmekka van die dorp gebly. Daar was drie dwelmsmouse loopafstand van die straathuis sonder krag en water waar hy geplak het. Hy is nie meer vandag se kind nie en het laat in sy lewe hard geval.

Hy het bolle gerol om geld te maak. As iemand in Alberton uitgesort moet word het hulle vir Bra’ Jan gevra om sy vuiste te gebruik. ʼn Gesiene man in sy dorp met sy eie konstruksiemaatskappy, het Bra’ Jan atlektiek en en hokkie provinsiaal afgerig. Hy het sy eie dogter in atletiek afgerig en hy het haar bygestaan totdat sy aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem het. Vandag wil sy hom nie ken nie.

“Ek is nou vyf maande hier by Ado by House Regeneration. Ek is deur ʼn verskriklike huwelik, vrou verneuk en kon dit nie verwerk nie en uiteindelik is ek drie jaar gelede geskei.

“Dit was te veel vir my. Ek kon nie die egskeiding verwerk nie. Het probeer, het probeer en alles verloor naderhand. Dit het slegter en slegter gegaan en my eie familie het my begin verwerp.

“Ek wou nie hoor nie. Ek is strate toe, ja. Ek het gedrink, maar ek het probeer om terug te kom. Ek het by ʼn garage geslaap waar daar ʼn aantrekkamer was. Ek het ʼn stort gehad, ek het probeer werk.”

Bra’ Jan sê hy het probeer reggkom, maar die drank en dagga het hom afgetrek. “Ek het nie ander dwelms gebruik nie, maar ek het altyd met daai mense te doene gehad. Ek is heeltemal vetroud met al daai dinge.

“Ek het toe so reggekom dat ek by mense ingetrek het, maar ek was maar nog op straat. Ek het nie ’n kar gehad nie. Die man het cat gedoen, hy het  crystal meth gedoen. Ja, toe het ek begin steel vir ʼn lewe. Ek het koper gesteel. Dit was laasjaar.

“Ek is nooit gevang vir die stelery nie en op die ou einde is ek toegesluit deur my eks-vrou. Ek het probleme daar gekry. Ek wou terug gaan ek wou dinge opgelos het. My grootste hunkering was dat ek wou terug huis toe, maar ek kon nie. Daar het ’n woordewisseling ontstaan en op die einde van die dag het hulle my toegesluit. Ek het twee weke gesit.

“Ek het nooit by die robots gestaan nie. Nee, ek het maar mense gevra vir geld. Maar daai ‘arme omie’ gesiggie opgesit,” vertel Bra’ Jan.

Hy het verder baklei vir geld. “Ek het vir mense gehelp as hulle probleme het met daai ou, dan het hulle geweet hulle moet Bra’ Jan kom sien.

“En dan het Bra’ Jan gegaan en gesê julle weet ek is nie ʼn ou vol geld nie dan stoot ek maar die geweld,. Gee hom ’n paar klappe.”

Hy het begin saamwerk met die polisie en aan die einde ook met die speurders. “Ek wou geregistreer het  as ʼn informant want ek het in die dwelm-mekka in Alberton gebly. Ek het geweet wat daar binne aangaan.

“Soos ek sê, ek het baie van die dealers geken want waar ek dagga gaan haal het, het hulle my persoonlik geken.”

Maar dit is eers ʼn lelike storie wat mens nie moet aan raak, sê hy Dit is ʼn groot geldmakery. “Daar waar ek gebly het was daar oorkant die pad ʼn groot crystal meth dealer en sy vriendin, of sy suster, het met ʼn polisieman uitgegaan.

“So hy het haar elke oggend daar kom oplaai met die poliesvan, dan het hy haar weggevat waar sy moet wees en die betrokke middag het sy teruggekom en het hy haar weer daar afgelaai.”

En die manne het die dinge bedryf om sy neus, hoor, verduidelik Bra’ Jan hoe die dwelmbase onder die polisie se neuse sake doen.

Toe hy met die mense te doene kry het hy besef  hy gaan sy tyd mors want dit werk so: “Ek gee die inligting vir jou as speurder oor. Hy sê vir hulle dat ʼn klopjag gereël word en kom sê, hoor hier, so en so dag gaan ons jou kom skud.Wat help dit dan?  Die polisie wil nie regtig toesluit nie.

“Ek wou want ek het geld gesoek. As ek nou hier uit gaan, gaan ek voluit om te gaan werk. Ek het later vir daai ou se vrou en kinders gesorg. Ek wou uitreik en help. Aangesien die man al sy geld vir dwelms en sy dingetjies gebruik,” vertel Bra’ Jan van sy lewe in die huis sonder krag en water.

Sy hele inkomste het hy net so gevat en op homself spandeer.  Hulle het krepeer van die ellende. “Ons het nie krag in die huis gehad nie. Niks. Daar was ook nie kos nie.

“Ek het soos mens sê ge-operate want ons moes aan die gang bly. Almal in Alberton ken my as Bra’ Jan. Ook die swart polisiemanne wat my toegesluit het, hulle ken my so.

“Ek was moedeloos. Ek het oorgegee. Ek en die vrou het nie oor die weg gekom toe ek uit die tronk gekom het nie. Sy het gesê ek gee voor dat ek nie die dwelms gebruik nie, maar sy het gedink hulle het my toegesluit oor dwelms. Sy het nie geweet dit was my eks-vrou nie.”

Bra’ Jan is toe daar uit en toe het dit net nog slegter met hom gegaan. “Ek het die dag geloop toe besluit ek nee wag, ek gaan selfmoord pleeg omdat ek ʼn redelike gesiene ou in Alberton was.

“Ek het my eie maatskappy gehad. Alles gehad. Die mense wou my nie meer ken nie. Ek het besluit ek gaan selfmoord pleeg, gaan nie aan met my lewe nie. Ek is moeg.”

En terwyl hy geloop het, het hy gedink hy gaan van ʼn brug afspring. Dis maar die vinnigste. Wag vir ʼn trok, spring en dis klaar. Daar het ʼn vrou langs hom stil gehou, maar daai tyd het hy baie vir die Here begin bid.

“Ja, dronk, gerook ek het gebid vir die Here. Ek het ʼn Bybel gekry en ek het begin te lees.”

Die vrou het langs hom gestop en sy het begin te gesels.Sy het hom gevra of hy rook en hy het baie skaam gekry, vertel Bra’ Jan.

“Ek het nog bietjie pride gehad en ek sê ek rook, maar ek het nie sigarette gehad nie. Ek dog toe sy is daar vir  ʼn ander doel en wraggies daar sê sy vir my: “Hoor hier, hier is vir jou R30. Gaan kry vir jou kos en gaan kry vir jou ’n pakkie sigarette.”

“En ek het die geld gevat om weer by my ma in Krugersdorp uit te kom. Met ʼn trein en ʼn taxi gery en toe is ek terug. Snaaks, my suster-hulle wat nie van my wou weet nie, het my kom kry daar en vir my klere gekoop want ek het niks oor nie. Toe het hulle my hier gesit.”

Hy is nou al vyf maande skoon. Hy sien nou weer uit om die lewe te vat na waar hy was. Dit was ’n groot skok vir hom gewees.

“As ek maar kan sê die mense moet oppas. Jy is aan en alles is mooi, maar jy vergeet die Here.”

Oor die mense wat by die verkeersligte staan en bedel en op motoriste se gevoelens speel, waarsku Bra’ Jan.

“Ek sal jou vat en ek sal vir jou gaan wys hulle sit so drie of vier. Dan staan jy byvoorbeeld met die bord dan sit die ander drie daar en wegkruip onder die brug of so onder die bome.  Dan sal hulle daar sit en wegkruip.

“Dan maak jy nou geld en dan is dit nou jou rustyd. Dan kom daai ou en dan vanmiddag dan gaan koop hulle drank en dwelms. Die jong laaities dwelms... baie. Daar waar ek was het ek die laaste tyd op die stoepe geslaap.

“As ek vir jou kan sê 90% van hulle is verslaaf aan dwelms dan vergroot ek nie. Miskien meer. En hulle geld kom heel net van bedel af. Die ouderdomme wissel van 19 tot veertig.”

“Crystal meth is baie. Waar ek gebly het, byvoorbeeld, was daar drie dealers reg om ons. Loopafstand. Sommer net oor die pad kon ek kry wat ek wil hê. Dis verskriklik dis al wat ek kan sê. Moenie geld by die robots gee nie.”

Ettiene Menso-Horak (29)

Ettiene is ʼn hoogs intelligente man wat in matriek beplan het om ʼn tandarts te word. Tussen die dwelms op skool en sy twee jaar van dwelms en partytjies in Londen, het sy drome soos heroïne-walms weggewaai. Hy het ook ʼn draai by Sol-Tech gemaak waar hy vir twee jaar as vakleerling die topstudent in sy klas was. Dit was totdat die knaende behoefte na dwelms hom weer onder gekry het.

Vandag loop hy met die skuldgevoel rond dat hy ʼn vriend van hom aan dwelms voorgestel het. Riaan was ʼn briljante ingenieur wat uiteindelik sy werk, sy meisie en sy trots verloor het. Riaan het homself toe met ʼn vuurwapen gaan doodskiet wat Ettiene aan hom verkoop het.

“Ek het groot geword in Secunda tot einde standerd 6. Toe het ons Centurion toe getrek waar ek my hoërskoolloopbaan voltooi het. In standerd 7 het ek my Gauteng-Noord kleure vir skyfskiet verwerf. In Standerd 8 weer by Gauteng-Noord kleure gekry sowel as Junior Springbok en in standerd 9 weer en derde beste in die land geëindig.”

Hy het in standerd 8 vir die eerste keer dagga gerook. Dit was in 2002. “Ek het nie baie daarvan gehou nie. Dit het my lui gemaak. Dit was saam met mense op skool, maar hulle was nie saam met my op skool nie. Dit was mense oorkant ons in Rooihuiskraal toe ons daar ingetrek het. Ek het probeer inpas.

“Ek was daai tyd baie ingestel op akademie en ek wou bietjie meer populêr gewees het. Nie lank daarna nie het hulle by ons skool kom praat oor dwelms, maar in plaas van om te doen wat hulle sê om weg te bly van die goete af het ek groot belangstelling gevind in die goed en hoe dit werk.

“Ek het toe ʼn ou in ons klas ontmoet en hulle het al gebruik en het ons toe deur hulle daai tyd ecstasy gekoop. Ons het baie ecstasy gebruik op skool, maar net oor naweke as ons geld gehad het. Dit was nie ʼn ding wat ons by die skool gedoen het nie.”

In standerd 9 het Ettiene vir die eerste keer begin om CAT te gebruik , maar omdat geld nie ʼn probleem was nie, het hy kokaïne verkies. Die kwaliteit van die goed was daardie tyd ongelooflik gewees, beskryf hy die dwelm.

“Dit was ook eers net ʼn naweekding gewees. Niks deur die week nie, miskien net hier en daar. Ek het my matriek klaar gemaak in Zwartkop en ek wou ʼn tandarts word.”

Toe besluit Ettiene in 2004 om Londen toe te gaan en daar het hy vir amper twee jaar by die Rothchild Corporate Banking gewerk.

“Ek het baie goed vir myself gedoen, baie goeie geld verdien. Ek het in ʼn baie nice plek in Londen gebly en was so twee maande skoon toe die belangstelling vir dwelms my weer getakel het.

“Toe kom ek agter hoe goedkoop is dit daar en hoe maklik dit verkrygbaar is. Ek het daar toe sommer by die werk en naweke gebruik.”

Sy verskaffer in Londen was Corné. Hy was ook van Suid-Afrika af. Hy het ook Londen toe gegaan om te gaan spaar, maar hy het ʼn geleentheid gesien om dwelms te verkoop daar en met dié het hy besluit om na sy twee jaar daarso nog langer te bly.

Corné was só op die bol daai tyd gewees dat jy deur die Internet by hom kon bestel, vertel Ettiene. “So jy kon deur die Internet bestel het, jou kredietkaartnommer gee en as jy by die huis kom het hy die goed sommer vir jou deur die voordeur se poshokkie afgelaai.

“Dis baie goedkoop gewees ons praat nou van drie pond vir ʼn LSD-blaadjie was maar dit, en ecstasy die goeters wat ons daar gebruik het. CAT het nie daar bestaan nie, dis maar ʼn Suid-Afirkaanse ding.”

Hy het toe nie sy hele twee jaar klaargemaak nie omdat hy baie erg verval het in die dwelms en het teruggekom Suid-Afrika toe.

“Na my pa-hulle toe. Hulle het so half en half hulp vir my gekry en ek het na ʼn dokter toe gegaan vir medikasie, maar ek was nie baie lank skoon gewees nie”

Volgens Ettiene het die gehalte van die kokaïne in Suid-Afrika  baie agteruit gegaan oor die polisie se klopjagte op handelaars en invoere.

“Baie van die goed het die Nigeriërs self probeer maak, maar hulle het nie die vermoë gehad nie en die kwaliteit was swak.

“Dit is toe CAT die dwelmmark oorgevat het. Dis gevaarlik om te maak, maar nie te moeilik om te maak nie en dit is soos die arm man se kokaïne,” sê Ettiene

“Ek het toe baie CAT begin gebruik en ek het ʼn werk gekry in Centurion en daar met my vakleerlingskap as as elektro-meganikus begin.”

So een ʼn half jaar nadat hy daar begin werk het, het Ettiene sy vriend, Riaan ontmoet.

“Wat baie mense nie weet nie is dat ek in daardie tyd begin vuurwapens verkoop het. Nie vir die geld daarvan nie, maar vir die adrenalien en oor my voorliefde vir vuurwapens.

“Ek het nie geworry waar die vuurwapens vandaan kom nie, dit was gesteelde vuurwapens, maar dit het my nie veel gepla daai tyd nie. Ek het ook ʼn paar noue ontkomings gehad waar daar ʼn skietery uitgebreek het.

“Ek weet nie of ek iemand raakgeskiet het nie, maar dit het maar net gebeur. Dit was ook mense wat soos ons vuurwapens wou gekoop het en daar het twis tussen ons uitgebreek.

“Terwyl ons na die kar toe geloop het, het die skote geklap en een van die projektiele het so voor ons in die grond vasgeslaan. Ons het teruggeskiet.”

“Riaan was ʼn robotics ingenieur gewees. Hy het toe saam met my kokaïne vir die eerste keer probeer. Uiteindelik het hy sy werk verloor oor sy dwelmgebruik. Hy het alles verloor, sy meisie... baie depressief geraak en hy het toe een aand ʼn vuurwapen wat ek aan hom verkoop het, gebruik om homself mee dood te skiet.

“Dit was ʼn baie tragiese gebeurtenis, ek het gesien hoe het die kar gelyk het waarin hy hom geskiet het. Dit was nie baie lekker gewees nie. Ek is tot vandag toe nog nie in hegtenis geneem oor daardie wapen nie en ek het toe besef as ek so aanhou gaan ek in die tronk beland.

“Ek het nog so drie, vier wapens gehad wat ek onder my wendyhuis weggesteek het. Dit was in ghries-sakkies agter bakstene gewees. Ek het dit gevat en met handskoene die wapens met spiritus skoongemaak.

“Ek het ontslae geraak van die patrone en die vuurwapens uitmekaar gehaal en in ʼn quarry-dam daar naby Rooihuiskraal gaan gooi. Hulle lê seker nou nog daarso.”

Na Riaan se dood het hy gegaan vir ʼn neusoperasie omdat die kokaïne sy neus weggevreet het. “Ek kan vandag ʼn lepel, ʼn dun teelepel, in albei neusgate indruk dat dit regdeur druk tot dit my nekwerwels raak sonder dat ek enigiets voel.

“Ek het ook nie meer baie reuk oor nie. Die reuk wat ek oor het is baie skerp reuke. Dit het my smaak ook weggeneem.”

Drie, vier weke na sy operasie het Ettiene weer begin om saam met ʼn vriend te snuif. Dit was klaarblyklik in oordaad gebruik want by Centurion Tiger Wheel and Tyres het hy inmekaar gesak en is na Unitas toe gejaag waar hy ge-OD het.

Hy het groot geskrik en vir drie jaar weggebly van dwelms af. Toe ontmoet hy vir Izelle. Sy was die liefde van sy lewe, beskryf hy haar.

Ettiene het toe ook intussen aansoek gedoen vir sy vakleerlingskap by Soltech, Soldariteit se kollege in Pretoria-Wes.

Hy het die toelatingstoets geskryf en het besluit om sy vakleerlingskap van voor af oor te doen. “Ek het baie van die goed geken, maar ek wou alles van vooraf oor begin.

“Ek het daar begin swot en ek was vir baie lank in die klas, ek dink uit 42 studente, was ek eerste in die klas en toe tweede in my klas. Ek het baie goed gedoen met net onderskeidings en 90% in my vakke.

“Terwyl ek met Izelle uiitgegaan het, het sy my ondersteun. Sy was baie goed vir my gewees. Haar broer het self ʼn probleem gehad so haar familie was baie teen drugs wat baie goed was vir my in daardie stadium, want sy was my alles wat ek gesoek het in ʼn vrou. Sy was pragtig, mooi, blou oë. Sy was net eenvoudig ongelooflik vir my.”

Met sy pa se dood het Ettiene weer ingegee en dwelms begin gebruik.

“Ek en my pa was baie na aanmekaar gewees. Ek het toe baie lelik geval en Izelle het my nog ʼn kans daarna gegee, maar ek kon sien sy wou my help maar ek het daar teen geskop. Ek het toe vir Izelle verloor en toe ek haar verloor toe trek dit  dimat heeltemal onder my uit.”

Hy begin toe crystal meth gebruik. “Dit was laasjaar. Ek het crystal meth begin doen ek het baie slaappille gedrink- skedule 5 slaappille.

“Jy kort ʼn voorskrif daarvoor. Ek is toe na so baie dokters gewees en hulle gee jou dertig pilletjies vir dertig dae en nie meer nie. Ek het voorskrifte begin vervals en ek het weggekom daarmee by baie apteke.

“Ek is toe eventueel later gevang waar ek ʼn voorskrif by Dis-Chem ingegee het vir ʼn tweede keer in een week want ek kon nie onthou dat ek voor dit ook daar was nie.”

Hulle het hom gevang en al die apteke en dokters in Centurion gewaarsku en sy naam oral op rekord geplaas.

“So toe het ek maar van die slaappille af na die heroïne toe gegaan en dit gerook. Jy sit dit op foelie en brand dit van onder-af en suig die rook in. Was Chinese white en bruin Thai en toe besluit ek, ek moet hulp kry maar eintlik dit was meer deur die druk van familie en vriende se kant af.”

Ná drie maande in ʼn rehab in Randburg stap Ettiene in ʼn  baie goeie betrekking met ʼn groot salaris in.

“Ek het ʼn massiewe groot salaris verdien en in die tweede maand toe ek salaris gekry het, het ek gevou. Ek het dadelik weer crystal meth gedoen en dinge het daarna weer baie vinnig geval.”

Hy is terugverplaas na die hoofkantoor in Pretoria en het nog ʼn kans gekry en rekenaarwerk gedoen.

Een aand by ʼn vriend se huis het Ettiene weer dwelms gebruik en soek toe nog iets meer vir ʼn verdere “kick”.

Sy vriend se meisie gee hom toe ʼn Seroquel-pil om te drink. (Seroquel XR (quetiapine) is an oral antipsychotic drug prescribed for the treatment of schizophrenia).

Volgens Ettiene word die pil voorgeskryf vir mense wat ingaan vir ʼn operasie. Jy is veronderstel om ʼn halwe pil voor agtuur die vorige aand te drink.

“Ek het die oggend tweeuur ʼn hele een gedrink en toe ek by die werk kom kon ek nie reguit loop nie en hulle sien dit. Dis hoe ek my werk verloor het.

“Ek het my werk verloor en dit was na my derde maand daar. Ek was gelukkig want ek het my salaris gekry. Ek het toe in ʼn hotel in Centurion gaan bly en dwelms gebruik. Dit was een groot vet partytjie. Ek het nie geworry oor die mense wat ek seergemaak het nie.”

Intussen het hy weer kontak met Izelle gemaak en vir haar vertel hy is skoon van dwelms.

“Ek het vir haar gelieg. Ek het vir haar gesê ek is skoon want ek wou haar baie graag teruggehad het en ek het geweet ek het haar baie seer gemaak.”

Toe sy geld opraak moes hy uit die hotel en sonder enige heenkome moes hy op straat slaap. “Ek was vir twee aande op straat gewees. Dit was so Mei vanjaar gewees.”

Ná twee nagte op straat het Izelle hom die Donderdag by die garage oorkant die hotel gaan oplaai waar hy snags geslaap het. Sy het geweier om vir hom geld in sy rekening oor te plaas want sy het nie hom vertrou nie, vertel Ettiene.

Die Donderdagaand het hy by haar familie oornag, maar moes die volgende dag weer terug garage toe aangesien hulle vir die naweek sou weggaan. Hulle het hom nie alleen by die huis vertrou nie.

“Ek kon dit verstaan want ek het nie gelyk soos ek nou lyk nie. Ek was vuil en het ook nie eintlik lekker geruik nadat ek twee dae nie gebad het nie.

“Ek het gedink ek gaan weer op straat slaap die aand. Ek het my ma in Kaapstad gebel en sy was in trane. Sy was altyd daar vir my gewees. Toe ek die eerste keer in rehab was het ek nog by my ma gebly. Sy het toe Kaapstad toe getrek en toe ek die tweede keer uit rehab kom was sy nie daar vir blyplek nie.”

Ettiene vertel toe Izelle-hulle hom die oggend by die garage aflaai het sy vir hom sigarette, ʼn koeldrank en sjokolade gegee en gery. Sy het gesê dis die beste wat sy kan doen en sy kan nou nie meer doen nie.

Ettiene bel die aand sy vriend, Willem, saam met wie hy CAT gebruik het. Hy het by hulle gebly vir so drie weke en toe sê Willem dat dit tyd is dat hy moet gaan. “Ek het toe gegaan.”

So te sê weer op straat bel hy ʼn neef van hom wat baie ouer as hy is.

Hy het probeer om Ettiene by ʼn rehab in te kry, maar die waglys was ses weke. “Ek het nie ses weke gehad om te wag nie. Dit was in die stad gewees.”

Ettiene stap toe reguit van die rehab af na Steve Biko-hospitaal toe. Daar maak hy of hy mal is. “Want ek wou nie weer op straat slaap nie. Ek maak toe asof ek depressief is en my eie lewe gaan neem. Dan moet hulle jou opneem. Ek het weggekom daarmee en hulle het my toe opgeneem in die hospitaal vir 72 uur observasie.”

Toe hulle hom wou ontslaan besef hy as hulle hom hier ontslaan dan is dit weer terug strate toe en hy het nie kans gesien daarvoor nie.

“Ek sit en dink ek is nou besig om my lewe reg te kry en ek kan nie nou strate toe gaan nie.

“Toe vat ek dinge tot op die extreme en begin my tong met ʼn naelknipper te knip.

“Ek was drie weke in Weskoppies toe kom hulle agter ek is nie so depressief nie en hulle sê ek word die Maandag ontslaan. Jy kan nie vir hulle sê jy wil bly nie.”

Volgens Ettiene het hulle in Weskoppies self baie dwelms gekry. Die dwelmhandelaar het in Weskoppies ingery en hy het crystal meth vir hulle afgelaai.

Hy het toe uiteindelik vir agt dae by ʼn vriend van hom gebly totdat hy plek in Moeggesukkel gekry het.

“In daardie agt dae het ek my dinge met die Here reggemaak. Vir die eerste keer het ek ʼn intieme verhouding met God gekry en besef tot hier en nie verder nie. Ek het met my vriend gaan praat en gesê: Luister hier my vriend, ek wil nie meer wees soos ek nou is nie en ek kort hulp want dit is nie iets wat ek op my eie kan doen nie.”

“Dit was vir my ongelooflik toe ek by Moeggesukkel ingeboek was. Ek het nog heroïne gebruik voordat ek daar aangekom het. is. Ek het dit gerook om van die crystal meth te kon afkom.

“Twaalf ure nadat ek die laaste keer heroïne gerook het, het ek by Moeggesukkel ingestap. Toe begin ek al klaar onttrek van die heroïne. Dit was aaklig gewees want dit was die eerste keer dat ek so erg onttrek het.

“Voorheen het ek nooit heeltemal afgekom nie. As dit erg word met die onttrekking het ek voorheen altyd gesorg om iets te kry daarvoor.

“Die tweede dag was die eerste keer wat ek heeltemal skoon was. Daardie aand was erg gewees. Vandag is dit 33 dae wat ek skoon is.

“Ek is hierdie keer reg. Ek weet ek gaan nie weer ʼn kans kry nie. Ek gaan hier bly totdat ek heeltemal reg is.

Terug Terug na bo