JOIN OUR MAILING LIST

20 Desember 2015

                                                           Tee met ’n ‘terroris’

Barbara Hogan is iewers in die tagtigs in Heidelberg Polisieselle toegesluit, komplimente van Veiligheidstak, Springs. Ek was destyds die enigste vroulike polisiebeampte in Heidelberg en dus moes ek haar bedags elke twee ure besoek, en twee keer elke nag. Ou herinneringe uit die ontstuimige ou dae het weer vir Elsabè Potgieter opgeduik toe Hogan onlangs die moed van haar oortuiginge gehad het om op te staan en vir Jacob Zuma in die openbaar aan te vat oor sy korrupte vergrype as president van Suid-Afrika.

 

 

Ons het in Rensburg gebly, ver van die Polisiestasie af, maar nagskof se mense het my gereeld kom oplaai om haar in haar sel te besoek. Die selle bestaan uit twee dele, ’n daklose binnehof en ’n kamer agter in waar die bed, wasbak en toilet was. Die stort was voor in die binnehof, met die krane aan die buitekant sodat ’n polisiebeampte dit vir die aangehoudene moes oop- en toedraai. Die mans het haar steeds twee-uurliks besoek, maar mag net die buitedeur oopsluit en deur die tralies van die binnedeur met haar praat. My taak was om by die binnedeur in te gaan tot in die sel self, en fisies die sel te inspekteer vir enige verbode items, en seker te maak sy is gesond, sonder beserings.

Aanvanklik het ek Barbara Hogan net as nog ’n gevangene gesien, maar binne ’n paar dae het ek haar as mens raakgesien. Die meeste gevangenes is vir ’n dag, of hoogstens ’n naweek, in die polisieselle aangehou, maar sy was aangehou vir 90 dae ingevolge die Wet op Staatsveiligheid. (90 dae sonder verhoor vir ondersoekdoeleindes) Sy was ouer as ek, wat toe vlak in my twintigs was, met ’n stil waardigheid aan haar, glad nie soos ek my ’n terroris voorgestel het nie.

Sy het baie beleefd versoek of sy dalk tee kan kry, in plaas van die soet, swart koffie wat al die gevangenes gekry het. Ek het vir haar gaan tee maak en ’n bietjie gesels terwyl sy dit drink. Ek het dit in ’n koppie geneem, nie ’n blikbeker nie, dus moes ek by haar bly om seker te maak dat sy nie haarself daarmee beseer nie. Sy moes ook pap en bruinbrood eet, net soos die ander gevangenes. Ek het die Stasiebevelvoerder daarop attent gemaak dat sy nie net enkele dae in ons sorg was nie, maar ’n paar maande, en dat die gebrekkige dieet tot gesondheidsprobleme kon lei. Hy het toe reëlings getref dat sy in die middae groente en vleis kry om te eet, en saans sop by die brood. Sy het ook meer gereeld tee gekry om te drink.

Sy het ons ’n paar keer bedank vir die voorreg om alleen aangehou te word, want by Veiligheidstak het die selle nie binnemure nie. Alle mure is dik tralies sodat ’n mens nie eens in privaatheid kon stort of die toilet gebruik nie. Rye oop hokke, met ’n wag permanent aan diens. Nogal aaklig indien ’n mens maande aaneen so moes bly, en manlike polisiebeamptes vrylik heen en weer in die gang voor die selle beweeg het.

Ons het mettertyd begin gesels en so het ek verneem dat sy aan die Universiteit van Wits ’n graad verwerf het. Ek mag nie verder uitgevra het oor haar gesin en werk en politieke bedrywighede nie, maar ek kon nie help om te wonder wat ’n mens motiveer om ’n loopbaan, gesin, ’n hele lewe op te offer vir politiek nie.

Ek was seker een van die mees liberale polisiebeamptes in Heidelberg, en het baie kritiek van my kollegas gekry omdat ek nie blindweg ver regs was, soos die meeste van hulle nie. Ek kon net nie neersien op haar nie, sy was beslis nie die deursnee gevangene nie.

My voorgeslagte is maar ’n taamlike mengelmoes, soos die meeste van die blankes in Suid Afrika. My pa se voormense was Iers en Duits en polities taamlik liberaal, anders as die uiterste patriotisme van my ma se voormense. Haar pa was ’n uitgesproke lid van die Konserwatiewe Party en het ure lank met sy Verenigde Party (Sap) skoonseun redekawel oor politiek. My ouers het nie erg aan die stryery gehad nie en dus het ons nie juis politiek gepraat in die huis nie. Ons het Engelse koerante gelees, ons huishulp ordentlik behandel, lank voordat dit in die mode was, en kon vlot aksentlose Engels praat. Ons het in die hart van die Engelse vesting in Pietermaritzburg in Natal gewoon. Ons moes orals Engels praat, behalwe in die kerk en in die skool, en dit moes op een of ander manier ’n invloed op my denkwyse gehad het. Dalk het ek jonk al besef dat die Engelse, teen wie my oupagrootjie in die oorlog geveg het en wat my oupa so vuriglik gehaat het, doodgewone mense net soos ons is.

Ten spyte van die tydsgees van baasspeel oor swartmense, het ek ‘hulle’ respekteer en moeite gedoen om te leer Zoeloe praat soos my pa. Ek het by my ouers gesien dat wetgewers nie onaantasbare gode was nie, want hulle het ons huishulp se man gereelde ‘onwettige’ besoeke toegelaat, en selfs hul baba help grootmaak tot sy moes skool toe gaan en noodgedwonge by haar ouma en oupa in die tuisland gaan bly het.

Daar sit ek toe in Heidelberg met ene Dr. Barbara Hogan op my hande. ’n Geleerde, goed opgevoede blanke ‘tannie’ wat in aanhouding is vir betrokkenheid by terroristiese dade. Dit was so moeilik om die twee met mekaar te versoen: die dame voor my, en die bomplanters wat mense sonder aansiens des persoons vermoor. Of so is ek op daardie stadium vertel.

Die selle was donker en koud, en dit was Aprilmaand, dus het ek soms die stort se warmkraan wyd oopgedraai en daarna langs haar op ’n lae muurtjie in die son gaan sit. Sy was veronderstel om in eensame aanhouding te wees, sonder tydskrifte, koerante, boeke, handwerk of enigiets konstruktief om te doen. Die idee was dat die aangehoudene net moet sit en dink en hopelik begin twyfel aan haar trawante en ideologieë en so tot inkeer kom.  Al wat ek daaroor gedink het is dat ek mal sou word indien ek so moes sit, sonder enigiets om te doen.

Barbara Hogan het my baie laat dink, oor my voormense, die politiek en die konsep van misdaad. My oupagrootjie was ’n Kaapse Rebel, en die familie was trots daarop. Wie is ek nou om haar te veroordeel omdat sy anders as ek gedink het? Sê nou sy was reg en ek en die hele Nasionale Party verkeerd?, was iets wat soms aan my geknaag het.

Vandag kan ek eerlik hier verklaar dat haar aanhouding in Heidelberg polisieselle ’n waterskeiding in die kleine vir my was. Dis daar wat ek besef het dat politiek ’n vuil spel is, dat mens geen, maar geen, politikus ooit kan vertrou nie, dat wolf dikwels skaapsklere aan het, en skape ook soos wolwe kan lyk. Tyd het geleer dat dinge heeltemal kan verander, en vandag is ek bly dat, sou ek Barbara Hogan ooit persoonlik ontmoet, ek nie skaam sal wees om haar in die oë te kyk nie. Ek het haar menswaardig behandel, al was sy op daardie stadium “die vyand”. 

Ek het sedertdien my hele loopbaan in die Polisie diep weggepak om dit nooit weer uit te haal nie, maar die afgelope tyd, toe Barbara Hogan skielik weer in die nuus is weens haar fel kritiek teen Jacob Zuma, het hierdie herinneringe weer opgeduik. Dit is tog vreemd want sy was baie in die nuus ná die 1994 verkiesing en toe sy in Thabo Mbeki se regering gedien het. Waarom het ek nie toe aan ons ‘geskiedenis’ gedink nie?

Dis vreemd hoe ’n mens se kop werk. Ewe skielik skiet ’n nuwe herinnering op elke keer wanneer ek haar naam hoor. En nou, met hierdie geskiedenis weer vars in my geheue kan ek nie anders nie as om te wonder wat sy vandag hieroor sal sê. Was dit alles regtig die moeite en opoffering werd? Word haar persoonlike bydrae werklik waardeer en benut? Ek wens ek en sy kon oor ’n koppie tee daaroor gesels.

● Barbara Hogan het in 1977 na die Soweto-opstande by die African National Congress aangesluit en by die ondergrondse netwerke betrokke geraak. Sy het ʼn sluipmoordaanval vrygespring toe regeringsagente ʼn bom, wat vir haar bestem was, verkeerdelik onder iemand anders se motor geplant het.

Sy is in 1981 in hegtenis geneem en op 21 Oktober 1982 as die eerste wit vrou wat vir hoogverraad aangekla was, vir tien jaar tronk toe gestuur waar sy haar vonnis in die ou Sentrale Gevangenis in Pretoria uitgedien het. Sy is in 1990 saam met ander politieke gevangenes vrygelaat en het ʼn rol gespeel in die Kodesa-samesprekings

In 1993 is sy aangestel as die hoof van beleidsontwikkeling van die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika. Ná die 1994-verkiesing het sy in verskeie senior poste in die ANC-regering beklee.

In 1998 het Elsabè Potgieter as Kaptein uit die Polisiemag getree na ’n suksesvolle loopbaan van 18 jaar. Deesdae woon sy saam met haar man en seuns op ’n klein plasie buitekant Meyerton. Op die plaas is daar honde, katte, ’n donkie en ’n paar perde, Elsabè se groot liefde. Elsabe is ’n opgeleide Tellington-Touch terapeut. Sy is ook lief vir skryf en boeke en haar verhaal van haar seun se pad na herstel na ’n ernstige motorfietsongeluk, Veilig bo die Storm, verskyn in 2016.

 

 

 

 

 

 

Konstitusieheuwel en my treurproses

Vyf stappe in een dag

Deur PETRONELL VORSTER

My hart het in my keel begin klop.

 ’n Stadige doef...doef...doef...

Ek het na die klein hokkie gekyk waarin iemand, ’n mens nes ek en jy, moes leef.

 Dag in en dag uit.

Somer, winter.

Drie en twintig uur per dag.

Ek het omgedraai, uitgeloop en besef: Ek was naïef. Ek was blind. En in my naïwiteit het ek nooit werklik besef watter gruwels ander mense moes ervaar sodat ek vandag vry kan wees nie.

Onwillekeurig het ek die knop in my keel afgesluk en aan die aanhaling uit Jan van Tonder se boek, Roepman gedink: “Onskuld is iets wat jy eers verstaan die dag as jy dit verloor het...”

Die eerste stap

Braamfontein- ’n Paar weke gelede het ek saam met vyf van my medestudente en ons programkoördineer Konstitusieheuwel besoek.

Konstitusieheuwel. ’n Plek met vele gesigte.

Dit is hier, in die hartjie van Johannesburg, waar ’n kompleks van geboue staan wat se wortels diep in die geskiedenis van Suid-Afrika ingegrawe is.

In 1892 is die Ou Fort deur President Paul Kruger gebou en dit het as ’n tronk gedien vir die groeiende Goudstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Die Fort het ook gedien as ’n militêre verdedigingspos vir die Boerekrygers tydens die Anglo-Boereoorlog.

Die kompleks van geboue het bly groei. In die laat 1900’s en vroeë twintigste eeu is ’n nie-blanke-afdeling en isolasieselle, die sogenaamde Nr. 4 en Nr. 5 gebou, bygevoeg. ’n Vroue-afdeling is in 1907 opgerig, gevolg deur ’n verhoorafwagtende gebou in die 1920’s.

Hier is duisende politieke gevangenes tydens die apartheidsregime in haglike omstandighede aangehou. Iets wat eers tot ’n einde gekom het in die laat 1980’s toe die politieke druk vanuit die internasionale arena te veel geword het.

Dit was ’n plek van vrees, desperaatheid, vernedering en haat.

Dit is hier waar ek vir die eerste keer in my lewe fisies ervaar het hoe ’n bietjie van my onskuld sterf. En ek het begin rou...

Die rouproses

Ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en aanvaarding.

 Hierdie is die vyf stadiums van die rouproses wat Elisabeth Kübler-Ross in 1969 in haar boek, On death and dying geïdentifiseer het. Hierdie teorie sê dat almal deur vyf stadiums gaan om verlies te verwerk.

Dit is presies wat met my gebeur het by Konstitusieheuwel. Ek het in een middag deur al vyf stadiums gegaan. Maar kom ons begin by die begin.

 Ontkenning

Ek weet. Hoe is dit moontlik dat ek nie besef het hoe grusaam die Apartheidsregering se dade regtig was nie? Ek is immers deel van die top 12% van die land wanneer dit by opvoeding kom. (Volgens statistiek van Suid-Afrika se 2011 sensusopname het 12.1% van mense wat 20 jaar of ouer is Hoër Onderwys ontvang) Ek het matriek geslaag, ’n B.A. graad voltooi en is besig met my honneursgraad in Joernalistiek. Ek beskou myself as wel belese, ek weet wat in Suid-Afrika se geskiedenis gebeur het, of so het ek gedink.

Ons toer het in die verlate binnehof van die vrouetronk begin, die lowergroen grasperke en statige Gotiese geboue laat die tronk met die eerste oogopslag soos ’n koshuisgebou lyk.

Na die toergids ’n paar bekende vryheidsvegters se name op ’n marmermonument uitgewys het, beduie hy na ’n piepklein ysterstruktuurtjie wat eenkant staan. Groot is my skok toe hy vertel dat drie vrouens op ’n slag in sulke sinkhutte moes bly. 23 uur per dag. En al wat ek kan dink is “Nee!”

Binne die tronkgebou verdiep my ontkenning  verder.

Die gemeenskaplike selle is in ’n sirkelvormige atrium gerangskik.

Terwyl die toergids vertel van die haglike toestande waarin die vroue moes leef, staan ek stil en luister. Geen sanitasie nie, sonder enige onderklere, geforseerde aborsies, vernederende kaaldanse in die binnehof en die haglike stank wat oor alles hang.

 Hou jou asem op, luister mooi en jy kan die desperate fluisterstemme van duisende vroue hoor. En ek word kwaad!

Woede en Onderhandeling

By die blanke afdeling lyk sake effe beter, met houtvloere en groter selle vir minder vroue. Dit is ook hier waar Daisy de Melker, een van Suid-Afrika se berugste vroulike misdadigers, eens op ’n tyd aangehou is.

Terwyl ons toergroep afstap na die berugte nr. 5 deel van die tronk waar die nie-blanke mans aangehou is, probeer ek minder skuldig voel oor my wit vel. Ek probeer myself troos dat my ouers van die was wat in 1992 Ja, gestem het. Ek dink aan al die swart vriendskappe wat ek op universiteit gesmee het en hoe hard ek probeer om nie in dieselfde Afrikanerstrik van Calvinisme, rassisme en die “Boerevolk Bo!” te trap nie.

Tog kon hierdie klein onderhandelinkies wat ek met myself gemaak het my glad nie voorberei op die afgryse wat in nr.5 vir my gelê en wag het nie.

By die ingang na die mansafdeling, bo-op  die deurkosyn van die tonnel waarmee ’n mens afloop, is ’n aanhaling van Nelson Mandela, “Die ware maatstaf van enige samelewing kan gevind word in die manier hoe sy kwesbare lede behandel word en Suid-Afrika het syne soos diere behandel”.

Gaan jy die gemeenskaplike selle binne wat gebou is vir 30 gevangenes, maar wat somtyds selfs soveel as 80 moes huisves, verstaan jy Mandela se woorde maar al te goed

Depressie

Dit help nie om te vertel van die een toilet, hopeloos te veel asems in een sel, bendegeweld of moordenaars en verkragters wat 23 uur per dag in dieselfde selle as iemand wat sonder sy dompas gevang is, toegesluit is nie. Dit maak jou net te depressief.

En indien jy dink die vroue se enkelselle was wreed, moet jy liefs ’n draai by die mans s’n, vermy. Wat vir my nog meer ontstellend was, was die nonchalante wyse waarop die toergids vertel het van gevangenes wat miere bevriend het sodat hul nie mal word nie.

Aanvaarding

Na ’n vinnige draai in die Ghandi saal (Ja, hy is ook hier aangehou) wat eens op ’n tyd as besoekerkwartiere gedien het, kom ons uiteindelik by die hof uit.

Suid-Afrika se konstitusionele hof is wêreldwyd bekend (nes ons dosent ons bly herinner). Hierdie pragtige gebou met sy imposante houtdeure wat al 27 van ons menseregte uitbeeld, was uiteindelik verantwoordelik vir my aanvaardingsproses.

Die hof is gebou met die bakstene van die afgebreekte selle wat die manlike blankes en verhoorafwagtendes gehuisves het. Vir my is dit toepaslik want hoe kan ’n mens ooit vorentoe beweeg indien jy vergeet wat in jou verlede gebeur het?

Ek wil nie te veel skryf oor die pragtige kunswerke of hoe mooi die hofsaal self is nie, ek wil eerder elkeen van julle wat hier lees aanmoedig om dit self te besoek. Miskien is julle ook so gelukkig soos ek om julle onskuld en naïwiteit hier te verloor.

Onskuld help my immers niks nie. Gewapen met die waarheid lê die wêreld wawyd oop.

Petronell Vorster is ʼn Honneursstudent aan die Noordwes Universiteit se Vaaldriehoekkampus



Terug Terug na bo