JOIN OUR MAILING LIST

28 Januarie 2016

Wat de moer is fout met ons Proteas?

Kort die skroef net ʼn moer of is dit ʼn moerse skroef? Skryf OUPA RHOODIE

Ek praat nou van die een wat ooglopend los is in Protea-krieket. Dan wil ek vinnig byvoeg dat ons natuurlik uitsluitlik oor toetskrieket praat, want in die korter weergawes, so wil dit lyk, gaan dit nog orraaiterig.

Met ander woorde, ons speel amper-krieket nie te vrot nie en ons speel ware krieket amper nie.

Of so iets.

Dat ons blommetjies kranklik is en erg verwelk het, ly geen twyfel nie en dit word nie bloot gesê aan die hand van die taai (en vernederende) Indiese en Engelse klappe wat onlangs uitgedeel is nie. Kom ons bieg maar: die krake van rampspoed het reeds in Bangladesj soos ’n trotse naat op ’n kraakvars Kookaburra uitgestaan. Tóé reeds was dit vir almal duidelik dat Suid-Afrika nie meer die voorste toetskrieketland ter wêreld is nie, afgesien van wat die ICC se ranglys jou wys gemaak het.

Ons huidige insinking is die gevolg van ʼn mengelslaai, veel eerder as van ʼn enkele vrot tamatie. Daarmee word bedoel dat gehoor aan emosionele beroepe soos “weg met Amla” (toe hy kaptein was), “weg met die keurders” of “weg met Domingo”, enkelvoudig en  eenvoudig nie weer die Protea orent gaan kry nie en maar liefs in die kring van oningeligtes rondom braaivleisvure moet bly.

Toe, net om die slaai verder te vermengel, kom die lekker wen op Centurion; ’n happie poeding na die kasterolie.

En dit laat my toe soos volg dink: uit die nare smart van verloor na verloor is daar ’n paar blinkes om waar te neem en uit die euforie op Centurion is daar waarskuwings wat ons nie mag ignoreer nie.

Ter wille van perspektief, glo ek, moet hierdie waarhede in gedagte gehou word.

Eerstens dan, watse (geldige) verskonings kan ons bied vir die vieslike klomp vernederings in nege agtereenvolgende toetse waarvan vier onbeslis was en vyf verloor is?

● Verlies van die kern

Suid-Afrika se ongekende en onbetwiste heerskappy in die toetsarena was geskoei op ʼn spelerskern wat geen ander span tot sy beskikking gehad het nie: Graeme Smith, Jacques Kallis, Dale Steyn en Vernon Philander. Smith, diepkant ingegooi met die kapteinskap toe hy nog nat agter die ore was (net 22 jaar oud) het hom nie net as kaptein laat geld nie (hieroor later), maar hom ook in hierdie tydperk as die wêreld se voorste aanvangskolwer bewys.

Kallis is die beste krieketspeler wat hierdie landjie van ons ooit opgedis het. Punt. As veelsydige speler sou hy altyd onvervangbaar wees en ons sien dit nou klokhelder. Geen span kan Kallis verloor en dink die bootjie sal op dieselfde maat oor golwe kan glip nie. Vergeet dit.

Sy verdwyning het ʼn verdere onvermydelike tot gevolg gehad: die balans van ons toetsspan was daarmee heen en die keurders moes óf ’n kolwer óf ’n bouler in die proses opoffer.

Dale Steyn was lank die mees gevreesde bouler op die planeet en Vernon Philander was die enigste wat hom in die “goue era” as die wêreld se numero uno onttroon het.  

Voeg daarby dat twee van die beste kolwers in internasionale krieket, AB de Villiers en Hashim Amla, in dieselfde tydperk hul stemme behoorlik begin dik maak het, en jy het met ’n elftal te doene gehad wat net nie sy gelyke kon hê nie.

Daarbenewens is die vyfde lid van die binneste kern – Mark Boucher – voortydig gedwing om die handskoene op te hang. Sy insig, invloed en lees van die spel was veel meer werd as sy bydrae as paaltjiewagter of kolwer. En dit word gemis.

In my beskeie mening is hierdie verlies aan die kern die grootste enkele faktor in die Proteas se agteruitgang.

● Beserings van sleutelspelers

Nadat ons die kern van ’n amper onoorwinlike span verloor het, moes die Proteas boonop sien hoe hy nie een van die tien toetse onder bespreking met sy voorste twee boulers kon aanpak nie. Steyn en Philander se beserings was ’n nekslag waarvan geen span sou kon herstel nie; die Proteas ook nie.

Hierdie tweede faktor dra aansienlike gewig.

● Blootstelling

Toetskrieket brei spelers om toetskrieket te speel. Blootstelling aan die intensiteit van ’n toetsarena maak spelers meer paraat vir die volgende veldslag. Dis onomstootlik waar, en toe Indië minder as twee jaar gelede die leisels in wêreldkrieket eiehandig oorgeneem het en die Britse pond en Ausiese dollar as bondgenote saamgesleep het, moes almal wat wou sien die tekens en die tendens waargeneem het: hierdie drie sou toetsreekse reël (meesal onderling) wat die hekke sou laat kletter en kontantbokse laat kreun.

Die gevolg? Speel jy teen een van hierdie drie oorheersers, kry jy vier toetse – onderling selfs vyf – in ’n reeks. Speel jy teen enige ander nasie, kry jy twee toetse en ons noem dit ’n “reeks”. In 2015 het Suid-Afrika tien toetse gespeel teenoor Engeland se 17 en Australië se 16.

Miskien nie van die heel swaarstes nie, maar weer ’n beduidende faktor.

● Kapteinskap

Hashim Amla is een van my gunstelingspelers van alle tye.

Ongelukkig het sy kortstondige kapteinskap van die Proteas my erg teleurgestel: sy boulveranderings in kritieke stadiums, het my soms stomgeslaan. Sy veldplasings was by tye onbegryplik en sy stief en oorbluffende hantering van Imran Tahir het waarskynlik die doodsklokke vir ons eie Pakistani ingelui.

Dis seker ’n bietjie vroeg om AB de Villiers as kaptein te beoordeel, maar hy sal vinnig moet leer om sy woorde met groter omsigtigheid te kies wanneer hy die media toespreek. Sy  “...dit voel of daar nie meer hoop oor is nie...” na die ineenstorting op die Wanderers, is die lompste kommentaar wat ek nog van ’n toetskaptein gehoor het en die boodskap wat hy hierdeur aan sy opponente, aan sy ondersteuners en, boonop, aan sy eie span, uitgestuur het, was minstens betreurenswaardig.

Ek het my bedenkinge oor sy persoonlike leierseienskappe. AB is duidelik ’n “nice guy” en julle onthou wat John Gainsford oor “nice guys” kwytgeraak het. Daarteenoor was Graeme Smith ’n sterk persoonlikheid wat die agting van sy senior spelers verdien het en hulle agter hom geskaar het. Teen sy opponente was hy ’n boelie wat vrees ingeboesem het en drie agtereenvolgende Engelse kapteins genoop het om die tuig neer te lê, en as taktikus en “leser” van die spel was hy uitmuntend.

Het AB daardie eienskappe? Ek twyfel, maar hoop ek word verkeerd bewys.

Intussen moet die verlies van Smith as leier as nog ’n belangrike bydraende faktor beskou word.

● Ons teenstanders

Kom ons wees erkentlik: beide Indië (veral op sy tuisvelde) en Engeland (onder alle omstandighede) is twee uiters goeie toetsspanne wat die Proteas op net die regte tyd (vir hulle) aangetref het. Die Indiërs spog met minstens vier draaibalboulers wat beter is as die beste in Suid-Afrika en hulle kan met gerustheid drie van hulle op hul tuisvelde inspan, soos hulle teen die Proteas bewys het. Engeland, op sy beurt, het uitstekende balans in sy uitsoekspan bekom met die keuse van Ben Stokes as die “nuwe Botham” (of minstens die nuwe Flintoff) en soek net ’n betroubare aanvangsmaat vir Cook om uiters gedug te wees.

Die krag van ons teenstanders word dus as ’n verdere oorweging ter versagting aangebied.

● Afrigting

Wanneer ’n span gevestig is, met sterk senior spelers in leiersrolle en boonop die beste span ter wêreld is, raak afrigting amper bysaak. Wanneer ’n span in die aanboufase verkeer, soos nou, word sterk afrigting geverg en ek is nie oortuig dat Russell Domingo daarvoor uitgeknip is nie. Waaroor daar geen twyfel bestaan nie, is dat die dienste van ’n kolfspesialis dringend bekom moet word. Domingo erken dit self.

Keurders en kwotas? Nee wat, ek glo nie een van die twee was ’n faktor in die glybaan waarop die Proteas beland het nie. Daar sal altyd gebrom word wanneer ’n toetsspan gekies word, maar oorwegend glo ek dat die keurders hulle redelik tot goed van hul taak gekwyt het.

Kagiso Rabada se ongelooflike vertoning met die bal en die wyse waarop Temba Bavuma hom as Suid-Afrika se beste kolwer op nommer vyf gevestig het, is die sterkste enkele bewys dat “kwotas” geen rol kon gespeel het nie: hierdie twee is onvervangbaar.

Hoe ironies, terloops, dat Suid-Afrika se twee beste boulvertonings in ’n toets deur twee spelers van kleur verwerf is: Ntini en Rabada. Daarbenewens is Amla in hierdie stadium ons beste kolwer en hou Bavuma maar gerus dop...

Die perspektief waarvoor ek vra na afloop van die skitterende oorwinning in Centurion is net die volgende: Engeland het reeds teen daardie tyd die reeks gewen en hulle doelwit bereik. Daarna sou dit vir enige span moeilik wees om homself voldoende te motiveer vir ’n “dooie” toets. Boonop het die Pommies vir my ietwat tam voorgekom – 17 toetse in een jaar was dalk een of twee te veel!

Maar niks, niks ter wêreld, kan afbreuk doen aan die skitterende vertonings van Rabada, Amla, Cook en Bavuma nie.

Nou dat al die denkbare verskonings aangespreek is en ’n ligte demper op die Centurion-euforie geplaas is, kom ons kyk vorentoe.

Mense, hierdie span gaan ’n grote word.

Stel jou voor as beide Steyn en Philander topfiks is, AB sy vorm herwin het en Stiaan van Zyl die styl, die vernuf en die sublieme heerskappy van ’n nommer ses herwin het (hy was nooit ’n aanvangskolwer nie) en jou span lyk so:

● Elgar

● Cook

● Amla

● De Villiers

● Bavuma

● Van Zyl

● De Kock

● Philander

● Rabada

● Steyn

● Morkel/Piedt*

(* Morkel as jy op vier naatboulers besluit, Piedt as jy glo ’n draaier is nodig).

Enige span wat dit kan bekostig om Faf du Plessis, JP Duminy en (moontlik) Morné Morkel uit sy uitsoekspan weg te laat, is ’n bielie.

Terug by die vraag.

Ja, die skroef is los. Maar nee, dis nie ’n moerse skroef nie.

Die skroef kort net ’n moer.

 

 

 

6 Desember 2015

ONS PROTEAS IN INDIË: HOU NET OP KERM!

Wat is dit met onse mense?

Wat is dit wat so knaend aan ons Afrikanerpsige knaag dat ons nie kan ophou kerm en kla nie?

Nou praat ek van die gemor rondom ons nasionale krieketspan wat so pas lelik slae gekry het in Indië met toetsnederlae in Mohali en Nagpur en ‘n laaste toets waar Suid-Afrika tans in Delhi met die rug teen die muur is.  

Ons het die toetsreeks verloor en of dit nou 3-0 of 2-1 is, is werklik nie relevant nie, behalwe dat die een ’n rapsie beter lyk as die ander. Die toetsreeks kan nie gered word nie: Indië het ons verslaan.

En nou word Amla-hulle slae uitgedeel wat nie net onvanpas is nie, maar (meesal) op onkunde, ongevraagde venyn, afsku, en, ja, selfs ’n groot gros lekkerkry-verheerliking berus.

En kom ons erken dit nou maar: dis oorwegend uit Afrikaanse oorde waaruit hierdie bitter stortvloed ongebreideld voortwoed. En, ewe meedoenig, plaas Beeld en Rapport hierdie klaagliedere met ‘n reëlmaat wat aan mededadigheid grens. (Ek het Die Burger lanklaas onder oog gehad).

Kyk net bietjie wat raak dié lotjie “kenners” kwyt:

Die Proteas gee die Indiese kolfblaaie die skuld vir hul mislukking.

Wys my net een Protea wat die kolfblaaie die skuld vir hul toetsnederlae gegee het; net een. Dis eenvoudig onwaar. Kommentators, ja, en dit was nie net Suid-Afrikaners nie, het wel gal gebraak oor kolfblaaie wat voor ete op die eerste dag van ’n “toetswedstryd” buitengewone hulp aan draaiers verleen, wat geen regverdige wedywering tussen bal en kolf oor vyf dae kan bied nie (dis waaroor ’n “toets” gaan) en wat die span wat die loot wen en die beste draaibalbouler in sy geledere het ’n oorwinning op ’n skinkbord bied: binne drie dae.

Ons berei ons blaaie voor om ons snelboulers te help wanneer spanne hier toer; daarom moet ons nie kla as die Indiese kolfblaaie hul spelers beter pas nie.

Bog. Die Wanderers het lankal nie meer die gevreesde wip wat aanvangsboulers bevoordeel nie, Durban se “groen mamba” is iets van die verlede, St George’s bly ’n stowwerige affêre en slegs Nuweland het in die jongste tyd ’n bietjie meer “lewe” aan die begin getoon. Ons berei, feitlik uitsluitlik, toetsblaaie voor wat daarop mik dat jy swaai en beweging en selfs wip vroeg in die wedstryd sal ervaar, dat die blad geleidelik sal verweer, dat draai vanaf die derde of vierde dag ’n groter rol sal begin speel, en dat die beste span, nege uit tien keer, voor die einde van die vyfde dag as oorwinnaar uit die stryd sal tree. Dis waaroor toetskrieket gaan.

Australië, terloops, en Engeland, Nieu-Seeland en selfs die swakkerige Windies, doen dieselfde met die voorbereiding van hul kolfblaaie vir toetswedstryde. Pakistan, wat sy toetskrieket in die jongste tyd op neutrale stadions in Abu Dhabi en Dhubai moes speel, doen dieselfde en selfs Sri Lanka los jou nie met ’n graslose bokpaadjie om lopies op aan te teken nie.

As so iets met die Springbokke (rugby, nou) gebeur het, sou Meyer lankal moes padgee

Werklik? Onder Meyer het die Springbokke vyf van sy laaste 11 toetse verloor. Die Proteas het vir die eerste keer in 15 toetsreekse oorsee een verloor! Onder Meyer beklee die Springbokke tans die derde plek op die internasionale ranglys, nadat hulle op ’n kol op nommer 5 rondgedobber het. Selfs na die Indiese pak, bly die Proteas die nommer een toetsland ter wêreld; ’n span wat nie deur Pakistan, Sri Lanka, Indië, Engeland of Australië op die tuisvelde van daardie lande die afgelope nege jaar verslaan is nie. (Sê my bietjie: hoeveel keer het Meyer in Nieu-Seeland gewen? Klink “nul” dalk vir jou reg?)

Mensig, so hartseer soos ek oor die verflouing van die Springbokke onder Meyer is, so trots is ek op ons Proteas op die krieket-toetsveld.

Terloops, nog net Clive Lloyd se beroemde Windies van die 70’s en vroeë 80’s van die vorige eeu kon onoorwonne bly in meer oorsese toetsreekse (17) as die Proteas (14).

As Indië 350 kon aanteken, hoekom kon die Proteas nie?

So waar as padda manel dra, een ou skryf dit – en Beeld pláás die stukkie bedrog. Die hoogste telling, terloops, in die twee toetse wat beslis is, was 215. Ek dra geen kennis van ’n Indiese telling van 350 nie. Punt.

(En van die 22 spelers wat elk twee beurte in Nagpur gekolf het, kon nie een ’n 50-tal in 44 beurte bereik nie...).

Albei spanne het op dieselfde blad gekolf en geboul.

Dis gedeeltelik waar, maar ook nie. Kolfblaaie verander; selfs die stofhope van Indië, en die span wat eerste slag bied, sal die gunstigste stadium van die blad benut. In albei die besliste toetse het die tuisspan die loot gewen en, nie onverwags nie, eerste gekolf.

En só gaan dit aan. Leë blikke. Groot geraas. Groot onkunde. En ’n stink dosis verheerliking in ’n Suid-Afrikaanse nederlaag.

Is dit nog steeds ’n “Engelse” spel in diegene se oë? Is daar te veel (goeie) spelers van kleur? Is dit ondenkbaar dat ’n Moslem die kaptein is?  Moet ’n skelm boerseun liewer die span lei al sou die duiwel hom konsuis oorreed om ’n leerbaadjie in ruil vir ’n foppery te aanvaar? Die haatdraendheid jeens Graeme Smith (uit dieselfde oorde) terwyl daardie uitmuntende krieketspeler die Proteas aangevoer het, gaan steeds my verstand te bowe.

Wat hét dan verkeerd gegaan om die Proteas se trotse toetsrekord te vertroebel?

Daar is etlike faktore wat as kombinasie hiertoe bygedra het:

• Die reeds verkrummelde en feitlik onspeelbare kolfblaaie was ’n groot faktor. Daaroor is genoeg geskryf, maar onthou ook dat jong Indiese krieketspelers (letterlik miljoene van hulle) gesout word om draaiballe te trotseer, dat hulle wegskram van blaaie wat hulp aan naatboulers verleen en dat die Indiese gebrek aan oorsese sukses juis aan hierdie psigose toe te skryf is – hulle ken net die soort krieket waarmee hulle grootword en daarom sal hulle nooit die toppunt van die krieketranglys in toetskrieket bereik nie.

• Die wen van die loot was kardinaal en Amla het albei keer verkeerd geroep. Sou Suid-Afrika eerste kon kolf, kon die uitslag dalk net anders gelyk het. Wie weet? In hierdie verband net dit: ek het jare gelede ’n artikel geskryf waarin ek dit bepleit het dat die opskiet van ’n muntstuk ’n onding in krieket is. Maak dit eenvoudig: die besoekende span kan kies of hy eerste of tweede wil kolf en, siedaar, dis die einde van blaaie wat voorberei word om die tuisspan te bevoordeel! (Ek is afgeskiet omdat ek die “tradisie” van krieket sou misken). Ironies genoeg, lees ek nou die dag, is die Engelse krieketbase besig om na hierdie moontlike verbreking van die “tradisie” te kyk.

• Suid-Afrikaanse toestande het tot gevolg dat ons nie draaiers van werklike gehalte kweek nie. Dis geen toeval nie dat ons beste draaier ’n Pakistani (Imran Tahir) is.  Ons het nie die gelyke van Ashwin of Jadeja of Mishra nie. Op daardie gebied het die Indiërs ons eenvoudig ore aangesit, want Harmer kan eenvoudig net nie met Ravi Ashwin vergelyk word nie – Elgar ook nie met Mishra of Duminy met Jadeja nie.

• Stiaan van Zyl is opgeoffer as aanvangskolwer in omstandighede wat die spanbestuur moes besef het vir hom ’n absolute nagmerrie sou wees. De Kock moes daar wees, met Van Zyl op ses en Villas by die huis.

• Ons het Dale Steyn erg gemis.

• Gebrekkige tegniek van ons voorste kolwers (Amla, Du Plesses, De Villiers) het Ashwin en kie, beter laat lyk as wat hulle is.

Tog is daar ligpunte. Kagiso Rabada het homself ook in toetskrieket bewys nadat hy groot indruk in die eendagwedstryde gemaak het. Sy paaltjie-oes was skraal, maar sy temperament, sy beheer en sy vloeiende, gemaklike aksie, het groot indruk gemaak. Hou hom maar dop. Hier kom ’n grote.

Dean Elgar het in moeilike omstandighede groot vernuf en veggees getoon. Ons het almal gewonder hoe Graeme Smith se plek gevul sou word, en hoewel Elgar in alle waarskynlikheid nooit in dieselfde asem as Smith genoem sal word nie, toon hy vasberadenheid soos die van Gary Kirsten wat hom nog ’n anker kan maak.

Nouja, Delhi lyk nie asof daar ’n ligpunt gaan wees nie, maar tog wil ek ’n beroep op al die ondersteuners aan tuisfront vra, en dit doen ek so ek so mooi en so nederig as wat ek kan: hou tog net die gesanik eenkant.

 Ons krieket is ’n dem stuk gesonder as ons rugby.

 

 

 

 

 

 

 

 

6 November 2015

Suid-Afrika net-net voor na eerste dag...

maar draaiers spel onheil

Die eerste dag van die langverwagte reeks tussen Indië en die Proteas was so opwindend soos net toetskrieket kan wees. Nadat Suid-Afrika die eerste twee sessies gemaklik gewen het en die tuisspan teen die planke gehad het, was dit die Indiese draaiers wat in die derde skof twee gevoelige houe ingekry het en ʼn opdraande stryd vir die Proteas se kolwers ingelui het.

Die dag is begroet met die slegte nuus dat Morkel, soos JP Duminy vroeër, nie bekikbaar was nie. Dit het die deur laat oopswaai vir die jong Labada om sy toetsbuiging op 20 jaar te kon maak.

Beide spanne het gewaag deur net 5 spesialis-kolwers in te span. Die boulaanval, aan albei kante is ook met 5 spesialiste op daardie front gelaai: die Proteas met drie naatboulers en twee draaiers en Indië met 2 naatbouler en 3 draaiers – nie onverwags nie.

Het ek gesê Suid-Afrika het met net 2 draaiers (Tahir en Harmer) begin? Watwou! Lank voordat Tahir tot die aanval toegetree het, het Amla die bal vir Elgar gegooi. Die wenkbroue het alom gelig. Hoekom ʼn deeltydse bybreker voor jou spesialis inspan?

Vra die baardman, want ek weet wraggies nie

Maar dat Hashim ‘n goue arm raakgesien het, weet almal nou: aan die einde van die Indiese beurt kon Dean Elgar met hierdie ongelooflike syfers spog: 8-1-22-4; ʼn boulvertoning wat die Indiese kolfrug behoorlik gebreek het.

Toe Kohli die loot wen, kon hy nie vir ʼn groter verjaarsdaggeskenk gevra het nie: almal het immers geweet dat die span wat eerste kolf ‘n enorme voorsprong bo sy teenstander sou bekom.  Want niemand wil laaste kolf op die Mohali-blad nie en ongeveer 400 lopies in sy eerste beurt moes die Indiese mikpunt wees.

Maar toe Philander vir Dharwan met die 9de bal van die beurt uithaal, kon jy dit voel: hier kom ʼn ding.

Al die Suid-Afrikaanse boulers het hul kant gebring: Steyn was dodelik en erg ongelukkig om nie ʼn paaltjie agter sy naam te kon skryf nie. Philander was beter as wat ek hom in ʼn lang tyd gesien het en sy 2/38 in 15 boulbeurte vertel die verhaal. Rabada kon nie vir ‘n groter vis in sy debuut gevra het as toe hy die Indiese kaptein (op sy verjaardag) vir net 1 lopie laat terugstap het nie: uitstekend deur Elgar vlakkerig in die dekke gevang toe Kohli ‘n Rabada-aflewering aan die bykant wou dryf en ‘n voorste rant bygeky het. Tahir het die stert afgemaai soos net hy kan en Elgar was Elgar: onvergeelik, onverbeterlik; en niemand was meer verras as hyself nie!

Rabada sal homself skop nadat hy Ashwin, met sy telling op 1, yskoud voor die penne betrap het en die skeidregter se vinger gekry het; net om te sien dat hy oorgetrap het en wat 163/8 sou en moes wees, was skielik 164/7.

Daardie blaps kos die Proteas waarskynlik 20 tot 25 lopies – dalk net noodlottig in ‘n wedstryd waar hoë telling nie verwag kan word nie.

Die Suid-Afrikaanse vreugde – om Indië vir net 201 op die eerste dag uit te haal – is erg gedemp met die verlies van beide Van Zyl en Faf voor die uitskeityd en na 20 sukkel-boulbeurte teen uitmuntende draaiboulwerk, het die Proteas op 28/2 gaan slaap.

Die eerste twee sessies op dag 2 gaan hierdie toets in ʼn bepaalde rigting stuur. Breek die Indiese draaiers vroeg deur en beperk hulle Suid-Afrika tot minder as 250, kan ʼn teiken van meer as 200 in die vierde beurt van die toets te veel wees om te bereik.

Skop Amla en sy oorblywende maats egter behoorlik vas, en slaag die Proteas daarin om 350 of meer aan te teken, sal Indië beswaarlik kan herstel. Op die skouers van Vilas, op 6, en Philander en Harmer na hom, rus ‘n enorme verantwoordelikheid as kolwers om Elgar, Amla en AB by te staan om ʼn beduidende voorsprong te bekom.

Erg onrusbarend egter, uit die besoekers se oogpunt, is die feit dat 9 van die 12 paaltjies wat op dag 1 geval het, deur die draaibalbouler ingepalm is. En na 12 boulbeurte tussen Ashwin (1/4 in 7) en Jadeja (1/7 in 5), bygestaan deur die akkuraatheid en gevaar van Amit Mishra se bybreke, sal die Suid-Afrikaanse kolwers hul storie moet ken.

Nadat die eerste drie sessies reeds 12 paaltjies sien val het, is die enigste sekerheid die feit dat hierdie toets nie die volle 5 dae sal voltooi nie. Verwag ʼn uitklophou, na die een of die ander kant toe, op dag 4, waarskynlik om en by teetyd.

Sal dit Amla wees wat sy onoorwonne rekord as Protea-kaptein gaan behou? Wag maar, en sweet saam met my.

Na die eerste drie rondes, wys my telkaart dat die Proteas ʼn voorsprong van 17 -13 geniet.

Hier volg my telkaart van hoe die geveg tot nou toe verloop het:

1ste ronde (1ste dag, 1ste skof)

Indië:               82/3

Gesien die feit dat Indië met die wen van die loot reeds voor die aanvang van die toets die eerste hou ingekry het, dat hulle die voordeel van die beste kolftoestande geniet het en waarskynlik in die omgewing van 90 tot 110 in die eerste skof verwag het (met die verlies van hoogstens 2 paaltjies), was die verlies van drie van hul top 5 in hierdie sessie, met ʼn kolftempo wat nooit beter as 3 per boulbeurt bereik het nie, deurslaggewend vir die Proteas se makilke oorwinning in die eerste ronde. Dit was na aan 7-3, maar nog nie; dit was ook beter as 6-4. Die besluit is toe:

Suid-Afrika 6.5                                   Indië 3.5

2de ronde (1ste dag, 2de skof)

Indie:               86/4 (168/7)

In hierdie sessie sit die Proteas hul goeie werk van die oggend voort en neem self seen meer paaltjie as in die eerste ronde. Onthou egter dat net twee van die vier topkolwers was en dat Rabada erg verbrou het met die foutbal. Het dit nie gebeur nie, was hierdie ronde maklik 7-3 in ons guns.

Suid-Afrika 6.5                                   Indië 3.5

3de ronde (1ste dag, 3de skof)

Indie:               33/3 (201)

Suid-Afrika:    28/2

Die Proteas raak gou genoeg van die Indiese stert ontslae om aanvanklik voor te loop in hiedie sessie, maar twee gevoelige slae (die verlies van 2 van ons top 5), swaai die skaal vinnig in Indië se guns.

Suid-Afrika 4                          Indië 6

Samevattend:             SA                    IN

Ronde 1                      6.5                   3.5

Ronde 2                      6.5                   3.5

Ronde 3                      4                      6

Totaal                         17                    13

  

   

 

  

 

   

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

4 November 2015

NOU VIR DIE WARE JAKOB

Toetskrieket word nie verniet so genoem nie: dis die één formaat van die spel wat internasionale elftalle tot die uiterste beproef; die ware toets. Oor vyf dae kan jy die veranderlikes nooit voorspel nie en waar een sessie jou op die rand van ’n uitklophou-sege kan bring, kan die volgende een jou vroeë optimisme nét daar begrawe. OUPA RHOODIE doen verslag... op meer as een vlak.

Môre, in Mohali, begin die eerste van vier toetse tussen twee van die heel bestes. Dis dan wanneer Hashim Amla se Proteas die Indiërs dóér op die subkontinent aandurf. Maak julle reg: ons gaan bars, maar ek glo ook ons gaan nommer een bly.

Indiese kolfblaaie bly die grootste bondgenoot van ’n tuisspan wat sy tradisionele bende draaiers sal inspan om enige besoeker te mesmeraais. Verwag draai voor ete op die eerste dag.

Ons het hulle al verkeerd bewys, maar ingeburger in die Indiese psige is die opvatting dat Suid-Afrikaanse kolwers nie draaiballe behoorlik kan bemeester nie. En daarop sal hulle teer.

Of hulle heeltemal reg in daardie opvatting is, is seker debatteerbaar, maar dat Ravi Ashwin vir ons ’n bedreiging inhou, kan nie betwyfel word nie. En hy sal deur minstens Pujara en dalk ook ’n derde draaier bygestaan word.

Daarteenoor sal die Proteas hul eie tradisionele wapens inspan: drie naatboulers wat met vaart, swaai, beweging van die blad af en klimtol-hop die Indiese kolwers sal laat bontstaan, selfs op “dooie” Indiese kolfblaaie, maar nooit so doeltreffend soos op die Wanderers of Nuweland nie.

En hier begin ons dilemma. Speel ons met drie naatboulers en net een draaier? Onthou, Duminy is nie beskikbaar nie, en derhalwe sal Elgar (bybreker) en Van Zyl (medium naatballe) die aflos vir ’n enkele draaier moet voorsien. En die enkele draaier kan enigeen van Tahir, Piedt en Harmer wees.

Laasgenoemde is in die binnebaan, hoofsaaklik omdat hy, anders as die meer aanvallende Tahir, in staat is om een kant van die kolfblad toe te knoop om lopies te beperk. Piedt kan dit waarskynlik ook doen, maar nie een van die twee het daardie enkele onspeelbare bal in sy mondering waarmee Imran Tahir sy paaltjies bekom nie.

JP se gedwonge afwesigheid veroorsaak ’n verdere probleem: die kolflys moet versterk word ten koste van ’n bouler. Dit beteken dat Bavuma waarskynlik op 6 sal kolf en Vilas (wat die handskoene moet dra) op 7, wat net vier plekke vir boulers oorhou.    

Sou die wyse manne besluit dat ons met drie naatboulers en een draaier moet speel, sal dit waarskynlik Steyn, Morkel, Philander en Harmer wees.

Op sigself kan daar seker nie veel met daardie besluit skeel nie; trouens, verwag niks anders nie. Ek sou egter glo dat sterk oorweging aan Mamba Rabada se insluiting, ten koste van Philander, geskenk moet word.

Hoekom?

Vernon Philander het die ganse krieketwêreld op ’n hoop gejaag met sy fenomenale intreeslag op die toetsarena en hy bly een van my heel grootste gunstelinge in die Protea-opset. Sy 123 paaltjies (teen 22.13)  hou selfs vir Steyn (402 teen 22.48) ’n bedreiging in, sou hy lank genoeg in die toetsarena kon bly. Maar onthou: Philander is by uitstek ’n nuwebal-naatbouler wat nog nooit op groot vaart staatgemaak het nie. Hy kry sy beweging, met die nuwe bal, van die naat af: op ’n harde kolfblad. Proe hy nie sukses in sy eerste tien boulbeurte nie, word die naat afgesloof en speel die blad nie saam nie, word Vernon aansienlik minder doeltreffend. En dis presies waar Indiese blaaie hom nie pas nie.

Hoewel dit in ’n heel ander formaat van die spel was, het Rabada hom reeds op Indiese kolfblaaie bewys. Hy is sowat 15 kpu, gemiddeld, vinniger as Philander, hy maak nie soseer op naatbeweging (harder kolfblad, meer prominente naat) staat nie, hy pas uitstekend by sowel wedstryd- as omgewingsomstandighede aan, en hy’s koelkop-kalm.

Maar ek droom waarskynlik maar net. Philander sal speel en ek sal nie kla nie.

Sal ons wen?

Baie sal afhang van wie eerste kolf; met ander woorde, wie die loot gaan wen en die besluit sal neem om eerste slag te bied. Jy wil voorwaar nie op die vyfde of selfs die vierde dag in Mohali kolf nie – veral nie as Ashwin die bal in die hand het nie.

Die Proteas, egter, is nie verniet die wêreld se heel beste toetselftal nie: ons word nie sommer geklop nie. En kyk jy na ons topkolwers en topboulers se toetsgemiddeldes en jy vergelyk dit met die Indiese vyand, lyk dit amper vanselfsprekend dat Suid-Afrika die pyp sal rook:

 Kolwers:                  

SA                                                                               IN

 AMLA             52.48                                                   PUJARA                     49.28

 DE VILLIERS       52.09                                                         KOHLI             45.06

DU PLESSIS  51.55                                                   DHAWAN       44.563

 

Boulers:

PHILANDER   123 @ 22.13                                       ASHWIN         145 @ 26.44

STEYN                        402 @ 22.48                                       MISHRA           58 @ 35.98

MORKEL        218 @ 29.66                                       SHARMA        200 @ 36.51

Oordonderend in die Proteas se guns, op beide vlakke.

Maar, onthou: ons speel in Indië.

KRIEKET EN BOKS: ’N VREEMDE OOREENSTEMMING

In die goeie ou dae, toe boks nog boks was, het jy net sewe gewigsafdelings in die “wrede sport” gehad en net een wêreldkampioen in elk daarvan. En gevegte om wêreldtitels is oor 15 rondes beslis. Altyd. Nie twaalf, soos vandag nie.

Toe tref dit my eendag dat toetskrieket ook oor 15 “rondes” beslis word: drie sessies op elk van die 5 dae. Hoewel ’n “uitklophou” in die eerste ses “rondes” van ’n kriekettoets waarskynlik nie geplant kan word nie, het dit tog by my opgekom dat jy aan elke sessie punte kan toeken, en dan, as daar na vyf dae nie ’n wenner is nie en jy met die onbevredigende “onbesliste” einde sit, kan jy ’n oorwinnaar “op punte” aanwys: net soos in boks.

Maar selfs boksgevegte eindig heel dikwels gelykop. En dis omdat die puntetoekenning in boks nie ruimte laat vir meer as die volgende nie: wanneer dit min of meer gelyk lyk, word die telling as 10-10 aangedui. Indien een bokser beter as die ander was in ’n spesifieke ronde, is dit 10-9, en sou jy jou opponent op die vloer kry, raak dit 10-8, maar 10-7 of 10-6 bestaan nie in boks nie: nog minder 10-0.

Toe besluit ek – en ek pas dit al jare lank toe – om in elke sessie (lees “ronde”) punte uit tien vir elke span  toe te ken. Dus, jou span kan ’n sessie 10-0, 9-1, 8-2, 7-3 of 6-4 wen of verloor, en indien die sessie werklik eweredig sou wees, sal die telling 5-5 wees.

Die beoordeling van die punteverskil kan nie rigied wees nie. Jy kan byvoorbeeld nie beweer dat die boulspan wat vyf paaltjies in ’n sessie ingeoes het noodwendig daardie sessie met 10-0 of 9-1 of 8-2 gewen het nie. Dit al afhang van, onder andere, watter kolwers dit was wat uitgehaal is: die eerste vyf of die laaste vyf? Dan, hoeveel lopies is in die proses prysgegee? Vyftien of 75?  Dan, in watter konteks van die wedstryd: hoe belangrik was daardie paaltjie, gemeet teen die lopies wat prysgegee is en beoordeel na aanleiding van die wedstrydsituasie?

Al hierdie permutasies – en daar is nog talle waarop ek nie nou sal ingaan nie – maak hierdie “speletjie” uiters interessant, sodanig dat ek al dikwels gewonder het hoekom die ICC nie lankal ’n paneel beoordelaars by elke toetswedstryd kon aanwys om ’n “punte-oorwinnaar” na afloop van vyf dae se bloedsweet te kan aanwys nie. 

Nouja, kom ons doen dit, as hulle nie wil nie.

Ek sal my eie punte-toekenning na elk van die sessies in die volgende vier toetse in Indië weergee. Ek sal dit so ver moontlik logies probeer motiveer. Speel saam: laat my weet waar julle verskil en waarom.

Kom ons begin more in Mohali.

My televisie bly aan.

 

 

 

 

 

 

 

27 Oktober 2015

Proteas se dodelike drie D’s doof Indië se eendagdrome

De Kock, Du Plessis, De Villiers. Die drie name spel “nagmerrie” vir al wat ’n Indiese krieketspeler of –liefhebber is.  Nog nooit vantevore het so ’n klein aantal manne soveel vernietiging aangerig as wat hierdie drie Proteas Sondag vermag het nie. En dit op ’n krieketveld van die wêreld se grootste krieketnasie. OUPA RHOODIE doen verslag.

Die koerante het julle reeds vertel van die meeste van die rekords wat gespat het, maar ek sien nie dat daar gewig gemaak word van die feit dat Suid-Afrika nou vir die elfde keer uit 13 geleenthede ’n bepalende eendagwedstryd gewen het nadat die reeks vóór die laaste kragmeting gelykop was nie. ’n Eindstryd met ander woorde, is 11 uit 13 keer gewen om ’n reeks te beklink. Hoe’s daai?

 En niemand vertel jou dat die “chokers”-etiket ’n mite is nie, gesien in die lig van die feite hierbo. Ja, ons kon nog nie die Wêreldbeker buit nie, maar dit was telkens die gevolg van ’n bitter ongelukkige sameloop van omstandighede. Net een keer, toe ’n misverstand tussen Donald en Klusener tot ’n paniekbevange uithardloop aanleiding gegee het, kon jy praat van “chokers”.

En onthou julle hoe Nieu-Seeland, tot en met 2011, telkemale die knie in rugby se wêrldkampioenskap moes buig terwyl almal geweet het die Kiwi’s beskik eintlik oor die planeet se heel beste vyftiental?

Ook word die feit dat Suid-Afrika sy heel eerste eendagreeks-oorwinning in Indië behaal het, nie aan die groot klok gehang nie: Dit was ons sesde probeerslag, en van die vorige vyf het die gashere vier reekse gewen en een het gelykop geëindig.

Nou sê ek vir julle en ek soek iemand om met my te verskil: Die Proteas is die wêreld se beste eendagspan.

Nadat Amla soos ’n windhond begin het met 23 van 12 aflewerings en Suid-Afrika 44  vanaf die eerste vyf boulbeurte kon aanteken, het die Proteas ietwat “bedaar” met 29, 30, 39, 34, 33 en 31 in elk van die daaropvolgende segmente van 5 boulbeurte (as jy dit “bedaar” wil noem), sodat die telling na 35 boulbeurte op 240/2 gestaan het (de Kock is uit met die telling op 187 en Faf en AB was voor die penne).

Dhoni het toe besef: Hier kom perde! Dalk 350, miskien selfs 360...

En toe draai ons op 438/4, met 5-beurt segmente van 54, 73 en 71 in die laaste 15 boulbeurte: 198 lopies tussen 36 en 50!

De Kock was briljant, Du Plessis was op sy heel beste. En toe, soos Elsa Joubert sou sê, wat ons op die kaptein.

Ek kry steeds koue rillings by die aanhoor van die dreunsang “ABD, ABD, ABD” toe De Villiers kolfkampie toe stap. In Indië, mense. In Indië, waar krieket godsdiens-status geniet en hul eie voorste spelers onaantasbare ikone is.

En hier, in die gepakte Wankhede-stadion in Mumbai, bulder 50 000 stemme die naam van ’n Suid-Afrikaner uit...en dit ondanks die feit dat elke Indiër die plaaslike span wou sien wen.

Jy sien, die Indiese publiek ken hul krieket. Hulle weet maar te goed wanneer ’n werklike grote in hul midde is.

Eintlik hoort AB de Villiers nie op ’n krieketveld nie. Hy speel houe wat hy nie mag speel nie. Hy slaan sesse van balle wat goeie (sterflike) kolwers sou blok. Hy vertoon slaankrag wat nie bestaansreg het nie en wat niemand hom kan nadoen nie. Mense kan nie teen hom krieket speel nie.

Onse AB is ’n frats

 Almal weet dit, maar dis nodig om te herhaal: hy’s die heel beste eendagkolwer ooit. Ja, en ek weet van Viv Richards, van Tendulkar, Sangakkara,  Jayawardene en talle ander wat een of ander tyd aanspraak gemaak het om as die voorste eendagkolwer ter wêreld beskou te word.

AB is in ’n klas van sy eie. Heeltemal

Dis dan ook heel gepas dat sy naam twee keer verskyn wanneer daar van drie honderdtalle in een beurt in eendagkrieket gepraat word: Teen die Windies, vroeër vanjaar, was dit Amla, Riley Rossouw en AB; hierdie keer Quinton, Faf en AB. En dis die enigste kere wat drie honderdtalle ooit in een beurt in internasionale eendagkrieket aangeteken is.

Terloops, dis die sesde keer dat die Proteas meer as 400 aanteken: die meeste deur enige land.

Die tuisspan het moedig probeer en in ’n stadium het Rahane werklik gelyk of hy glo dit kon gedoen word. Na 25 beurte was Indië op ’n bemoedigende 172/4 wat behalwe vir die groter verlies aan paaltjies, nie sleg afgesteek het teen die Proteas se 176/1 in dieselfde stadium nie.

Watwou. Ons het nie net kolwers nie. Die gashere kon Mamba Rabada nie een keer in hierdie reeks behoorlik baasraak nie en sy 4/41 was weer deurslaggewend terwyl Steyn sy vorm geleidelik herwin het (ek was in ’n stadium bekommerd oor hom) en sy 3/38 moet die Indiese kolwers nagmerries gee met die oog op die vier toetse wat voorlê: die eerste op 5 November.

Fluit-fluit, my storie is uit

Maar wag, is hierdie soort wen nie tonekrullekker nie?

 

Kolwers

                                    Bte     NUN   LOPIES           HT                   GEM

De Villiers                 5          1          358                 127                 89.50

Du Plessis#               5          1          323                 133*              86.75

De Kock                     5          0          318                 109                 63.60

Behardien                 5          2          124                 35*                 41.33

Duminy                     3          0          65                   36                   21.67

Miller                         5          1          74                   33                   18.50

Amla                          5          0          89                   37                   17.80

# Faf se “nie uit nie” was “uitgetree beseer”. Dit het dieselfde gevolg as “nie uit nie” vir doeleindes van kolfgemiddeldes.

Boulers

                                    BB       LBB     LPS     PLT     GEM               EKON

Morkel                      30       1          132     7          17.46             4.40

Rabada                      47       1          241     10       24.10             5.13              

Steyn                         47       0          263     10       26.30             5.59  

Tahir                          46       2          258     7          36.86             5.61

Duminy, Behardien, Morris en Abbott het elkeen 1 paaltjie geneem.

 

 

 

 

 

21 Oktober 2015

Ons Proteas blom in Indië

Na die gestotter in Indore is ons blomme weer mooi op pad om die eendagreeks voor die tuisspan weg te raap. Volmaak was dit gewis nie, maar ons boulers doen meer as wat van hulle op die stowwerige Indiese oppervlaktes verwag kon word, en Sondag was hulle visiere só korrelvas ingestel dat die Indiese kolwers tot oorgawe gewurg is nadat die teiken maklik binne hulle bereik was.

Met die Proteas op 153/2 na 30 boulbeurte kon ons werklik ’n telling van 300 of meer te wagte wees en op 183/2 nog te meer. Maar De Kock was poegaai na sy prag honderdtal (welkom terug, Quinton!) en Faf, ook lekker moeg, het sy paaltjie weggesmyt. Toe AB boonop ook terugstap, het die Proteas in die bestek van nege Indiese aflewerings van 205/2 na 2010/5 gesteier.

Dit het mooi kophou van die betroubare Behardien gekos om ons verby 250 te druk en uiteindelik was 270 heel verdedigbaar op ’n stadige blad.

Morné Morkel – ons beste bouler tot dusver in hierdie reeks – was onverbeterlik en sy 4/39 van 10 was welverdiend. Die nuwe vonds, Kagiso Rabada, was ewe betroubaar en hoewel hy nie ’n paaltjie kon inpalm nie, kon die Indiese kolwers hom nooit baasraak nie en het hy ook, soos Morkel,  minder as vier lopies per boulbeurt afgestaan.

Die Swart Mamba

Van Rabada gepraat. Dis moeilik om nie liries te raak oor hierdie blinke nie  en soos ons twee dekades gelede vir Allan Donald as “White Lightning” gedoop het, verdien Rabada reeds ’n bynaam wat algemeen byval vind: ek het “Swart Mamba”/”Black Mamba” in gedagte, of, in kort, sommer net “Mamba”, want “Mamba Rabada” klink lekker op die tong. Laat my weet wat julle dink en kom met voorstelle indien julle beter het.

Met 72 lopies om die eerste paaltjie tussen De Kock en Miller, sal waarnemers seker glo dat die proefneming om met Miller pleks van Amla te begin, suksesvol was. Ek kan nie akkoord gaan nie. Die doel van die eksperiment was om Miller sy selfvertroue te laat herwin, verkieslik terwyl die bal harder is en dit die kolf vinniger tref.

Om dit ten koste van Hashim te doen (wat dan na nommer drie moes afskuif) is nie regverdigbaar nie. As aanvangskolwer geniet die baardman ’n kolfgemiddeld van 54; amper ’n ongehoorde gemiddelde in hierdie weergawe van die spel, en om jou beste aanvangskolwer in ’n vreemde posisie te laat instap ter wille van ’n moontlike herwinning van vorm van ’n sukkelende nommer ses kolwer, rym eenvoudig nie.

Miller se doodsteek

Miller se neiging om die bal met sy hande te ver voor sy lyf te “gaan haal”, was weer sy ondergang en ek was nie verbaas toe hy die wegbreekbal met die kolfrant in ’n vlak derdeman se hande (vir dáárdie rede daar geplaas) gekerf het nie. (Onthou ’n wegdraaier neem die bal weg van die  linkerhandse kolwer). Bring Albie Morkel eerder in op sewe, skuif Behardien op na nommer ses en jy los twee probleme op: die nommer ses kolwer en die vyfde bouler. Laat Miller sy vorm elders vind, soos De Kock moes doen toe hy ’n droogte beleef het, en skuif Amla terug na waar hy hoort.

Indië moes glo – met regverdiging – dat die teiken gemaklik binne hul bereik sou wees, en op 148/2 na 30 boulbeurte was ’n raps meer as ses lopies per boulbeurt in die volgende 20 nie te veel gevra nie: Kohli en Dhoni was immers op dreef en ingegrawe,

Maar toe draai Morkel, Tahir en Rabada die skroef vas en tien boulbeurte later (op 185/2 na 40) is net 37 lopies bygevoeg en die teiken skielik ’n heelwat moeiliker 8.6 per boulbeurt. Die druk het toegeneem en die Indiese kolwers het geswig.

Met die Proteas 2-1 voor in die reeks van vyf, is die druk nou vierkantig op Dhoni. Wen ons Donderdag in Chennai, is die reeks in die sakkie. 

En hoekom nie?

Met die T20 gewonne en die eendagreeks ook in die Proteas se guns beklink, sal die druk soveel groter op Indië wees om hul kant te bring in die belangrikste deel van die toer: die vier toetswedstryde wat wag.

Donderdag in Chennai is bepalend. Maar intussen blom ons Proteas in Indië.

Vir spangees so bietjie statistiek

Na 3 eendagwedstryde lyk die Proteas se voorslagkolwers en hul boulers se statistieke soos hieronder.

Let op die volgende: Duminy en Amla se swak gemiddeld moet niemand bekommer nie: daar’s  te veel klas en kwaliteit tussen daardie twee om bekommerd te raak.

Miller, glo ek is ‘n ander saak. Albie Morkel – wat uitstekend met die ouer bal boul – is nie die mees betroubare kolwer nie, maar sy portensiële plofkrag vergelyk goed met Miller s’n: en hy’s ons vyfde bouler.

Behardien se gemiddeld is natuurlik misleidend: hy was nog net een keer uit in drie beurte.

Morne Morkel troon uit bo die ander boulers met 7 paaltjies in 30 boulbeurte. Sy gemiddelde per paaltjie sowel as sy ekonomie-syfer is ook die beste onder die Protea-boulers.

Let op hoe ekonomies Mamba Rabada is: net Morkel doen beter as hy op daardie gebied. 

Kolwers

                                    Bte      NUN   LOPIES         HT                  GEM

Behardien                 3          2          86                    35*                  86.00

De Villiers                  3          1          127                 104*                63.50

Du Plessis                 3          0          173                 62                    57.67

De Kock                     3          0          166                 103                 55.33

Duminy                      3          0          65                    36                    21.67

Amla                           3          0          59                    37                    19.67

Miller                          3          0          46                    33                    15.33

 

Boulers

                                    BB      LBB    LPS    PLT    GEM               EKON

Morkel                        30        1          132     7          17.46              4.40

Tahir                           30        1          150     5          30.00              5.00

Steyn                          30        0          168     4          42.00              5.60

Rabada                      30        1          146     3          48.67              4.67

Behardien                 9          0          51        1          51.00              5.67

Duminy                      21        0          141     1          141.00            6.71

 

 

15 Oktober 2015

Oepsie-doepsie!

 

En daar val die apie van die berg af.

Kan iemand vir my vertel wat in die koppe van ons blomme aangaan?  Nou praat ek van die eendag-soort, nie die lotjie wat vyf dae lank moet blom nie – húlle ken hul storie heel goed, dankie. 

Maar so ’n stompsinnige selfmoord op ’n krieketveld, soos die wat die Proteas Woensdag in Indore gepleeg het, sien jy selde – en dit nadat ons net drie dae tevore gesien het hoe ons manne met die rug teen die muur moes baklei – en die oorwinning uit die kake van ’n waarskynlike nederlaag gegryp het. OUPA RHOODIE deel vandag pak slae uit, maar is nogtans positief oor die Proteas se spel.

Moenie van “choke” praat nie. Dít was dit allermins. Want indien jy minder as vyf lopies per boulbeurt moet aanteken – let wel, nie “jaag” nie – en dit op ’n hondmak blad, ’n snoekertafel buiteveld en ’n 50-meter grenstou, teen ’n boulaanval wat sonder sy grootste angel moes aantree, moet jy nie kom met ’n storie van “choke” nie.

Nee, ons kapitulasie met die kolf het voortgevloei uit voortvarende onverantwoordelikheid, ’n vet dosis roekeloosheid en – laat ek dit maar uitkry – swak leierskap.

Want as jou kaptein NIE vir jou gesê het om kalm te bly en bloot met enkellopies voort te gaan nie (die swak balle tussenin bied altyd geleentheid vir ’n grenshou)  het hy sy plig versaak en indien hy jou WEL gewaarsku het en jy nie geluister het nie, dwing hy nie die nodige gesag af nie.

Amla en De Kock het soos orkane afgeskop – ses lopies en selfs meer per boulbeurt in die eerste vyf.  Toe spring Hashim teen die blad af om ’n 21-jarige linksdraaier te probeer bykom. Waarom? Toe  die mannetjie hom sien kom, word die bal buite die wegpen geplant -- kort van ’n lengte -  en met die draai wat die bal nog verder van die wegpen af neem, was die oudste bybreek-truuk in die boek te veel vir Amla en kon Dhoni eenvoudig die res doen. Koebaai. En ’n klop op die skouer vir Patel.

‘n Mens sou wou glo dat die oorblywende ses van die Proteas se kolwers hieruit sou leer. Alles behalwe: vier van die ses (De Kock, Du Plessis, De Villiers en Duminy) het hul eie graf gegrawe terwyl Miller met ’n uitstekende bal uitgehaal is en Behardien deur ’n onervare Indiese skeidsregter uitgegee is toe sy kolf nooit naby die bal was nie.

Van De Villiers se ondergang kan daar half versagtend gesê word dat dit ’n briljante vangskoot van Kohli geverg het. Helaas, die luglangse hou in die rigting van die dekveld was steeds onnodig.

Duminy behaal groot sukses met sy veeghou na skerpby wanneer hy linksdraaiers en ortodokse bybrekers trotseer. In beide gevalle speel hy natuurlik saam met die draai van die bal, maar om dwars oor die lyn te speel (wat hy ook noodwendig moet doen) is altyd riskant en toe hy Woensdag te laat is met die hou is hy pens-en-pootjies betrap. Poegaai.

JP is ’n uitstekende eksponent van die reguit dryfhou. Miskien moet hy daaraan herinner word. Met beide die halfweg en halfby redelik diep wanneer die draaiers boul, is daar van feitlik elke bal ’n enkellopie beskikbaar; ’n reguit kolf is al wat nodig is.

Miller se plek in die span is nou reeds geruime tyd in gevaar en die wedstrydsituasie toe hy Woensdag inkom om te kolf,  was ideaal om hom in te grawe en ’n kampioenbeurt te speel.

 Maar krieket bly maar ’n ongenaakbare spel: Yadav boul die bal van die wedstryd wat Miller vorentoe trek en net effens van die naat af wegbeweeg. Miller moes speel na die aflewering, die rantjie van die kolf is bygekom en Miller was weg.

Toe word Behardien uitgegee....ek sê mos dié spel is wreed.

Ons nuwe boulheld, Kagiso Rabada, het heel handig met die kolf gelyk – beslis tegnies beter toegerus as Steyn, wat bo hom in die kolfvolgorde geplaas word. Rabada se eerste grenshou deur die dekke was een van die heel beste houe van die dag. Hoekom lyk linkerhandse kolwers altyd meer grasieus as die regshandiges wanneer hulle die bal deur die dekveld dryf?

Vroeër het Suid-Afrika uitstekend geboul en hul die ondersteuning in die veld was eerste klas.

Maar ’n paar besluite op die veld het my (en almal met wie ek hieroor praat) heeltemal gefoemfaai.

● Imran Tahir.

Imran se eerste sessie is besonder goed en toe AB hom na ses beurte afhaal (daarmee is daar nie ’n probleem nie) lees sy syfers indrukwekkend: 6-0-18-1. Dit was na afloop van die 25ste boulbeurt van die Indiese beurt.

Daarna, met die aanbreek van die 36ste beurt, bring hy Immy terug en toe ons voorste draaier in die 40ste beurt nóg ’n paaltjie inoes (sonder om ’n lopie in daardie beurt af te staan), lees sy syfers nog beter: 9-1-26-2.

Met Khan nou in beheer van die Indiese kolwers, sy ritme en akkuraatheid volmaak, kan jy nie wag vir die 42ste beurt nie: want dan sou Immy sy tiental voltooi – en dalk nog ’n paaltjie by sy totaal gevoeg het.

En toe doen AB die onverklaarbare: hy haal Imran Tahir uit die aanval uit! Al ooit gehoor van ’n ou wat uit ’n boulaanvaal onttrek word nadat hy ’n wicket maiden geboul het en hy boonop slegs een verdere boulbeurt kon afstuur? Wel, nou het jy.

By die aanvang van die 45ste boulbeurt gooi De Villiers die bal vir Tahir. Nóú, besluit die kaptein, is dit tyd vir die bybreker om sy laaste boulbeurt af te stuur, en dit nogal van die teenoorgestelde kant as vanwaar die arme man sy vorige drie  (3-1-8-1 ) geboul het!

Dis ’n verstommende stukkie kapteinskap.

Wat sou volg, was absoluut voorspelbaar: Tahir staan 16 lopies af en hy eindig met 2-42 vanaf sy tien boulbeurte.

● Duminy/Behardien: die vyfde bouler.

Almal weet die Proteas het net vier voorslagboulers en dat tien boulbeurte tussen Duminy en Behardien afgestuur moet word om die rol van die “vyfde bouler” te voltooi.

Behardien boul een boulbeurt vroeg in die beurt en staan vier lopies af. Dis heel skaflik.

Duminy word ’n lang sessie gegun, maar almal kan sien dat hy geen hond haaraf maak nie en toe hy sy agtste beurt voltooi het (en Behardien steeds net die enkele beurt), lees sy syfers erg beteuterd: 8-0-42-0.

En wat doen die kaptein toe die 43ste boulbeurt aanbreek? Hy gee die bal vir Duminy! Ses balle later voltooi JP die “vyfde bouler” sy skof: 9-0-59-0, met Behardien op 1-0-4-0.

Voorwaar vreemd.

Maar, nou-ja, dis g’n tyd vir pessimisme nie, mense. Hierdie elftal bly ’n goeie span – en hy sal Indië nog na medisyne laat gryp.

Kyk maar.

 

 

 

  

 

 

ARGIEF

 

TOE WURG DIE CHOKERS DIE INDIËRS

AB, Immy en Kagiso: vat vyf, manne! En vat dit in enige volgorde, want tussen julle drie brekers is dit amper onmoontlik om die blinkste uit te kies.

Chokers? Sondag op Kanpur se Green Park het AB de Villiers en sy makkers presies die teenoorgestelde etiket vir ons Proteas verwerf: wenners van nêrens, skryf OUPA RHOODIE.

Want as Indië ooit ’n wedstryd in die sakkie gehad het, en as Suid-Afrika se kanse al ooit donkerder was, was dit in Sondag se eerste van vyf eendagwedstryde tussen hierdie twee bulspanne.

Kom ons begin by AB. Met die telling op 104/2 in die 24ste boulbeurt, het hy ingestap en dinge het allermins rooskleurig gelyk. Paaltjies in die bank, ja, maar ’n tempo van heelwat minder as vyf per boulbeurt het jou laat dink aan ’n telling in die omgewing van 260 of 270 – nie genoeg op ’n blad wat weinig vir die boulers gebied het nie.

Toe ons na 30 beurte op 139/2 staan, het selfs 270 buite bereik begin lyk en op 194/2 na 40 (Faf is intussen uit) was 300 in niemand  se gedagtes nie.

Watwou! Toe trek die wêreld se heel beste eendagkolwer los: eers moker ons 44 in die vyf boulbeurte tussen die 41ste en die 45ste en toe ’n kolossale 65 van die laaste vyf.  Die onderskatte Behardien, wat hom in die 46ste boulbeurt by sy kaptein kom voeg het en toe 35 van net 19 balle bygedra het, het ’n groot aandeel daarin gehad dat ons 109 van die laaste tien boulbeurte kon aanteken, met insluiting van ’n ongelooflike 86 van die laaste ses!

Terloops, nadat Behardien kom kolf het, het hy negentien van die oorblywende 29 balle getrotseer en AB net tien.

Toe AB sy honderdtal van 73 balle vanaf die laaste bal van die beurt met ’n middebaan-ses vier (en terselfdertyd die Proteas se 300-tal laat pryk), was dit storieboek-gepas en met die hoogste telling ooit op Green Park sou jy wou glo ons Blomme was veilig.

Toe draai die wedstryd.

Nadat Morkel die sukkelende Dhawan vroegerig moes laat terugstap, het Rahane hom by Sharma kom voeg en saam het die twee die Proteas se kanse geleidelik laat kwyn.

Na 20 boulbeurte was die Indiërs reeds 21 lopies (d.w.s. meer as een lopie per boulbeurt) voor die Suid-Afrikaners en na 30 was die voorsprong reeds 37 (176/1 teen die Proteas se 139/2).

Sharma het intussen sy honderdtal bereik en toe hy Rahane (60 van 82) in die 34ste boulbeurt verloor, was die tuisspan steeds stewig op pad: 191/2, met Kohli nou voor die penne en meer as 15 boulbeurte oor.  

Ons weet almal dat wanneer Sharma aan die gang kom, teken hy nie net ’n honderdtal aan nie: hy kry ’n grote. So was dit ook Sondag toe hy sy 150-tal van net 133 balle bereik.

Kohli is intussen uit en MS Dhoni het hom op 214/3 (met 10 boulbeurte oor) by Sharma kom voeg.

Met die aanbreek van die 47ste boulbeurt staan Indië op 269/3 en met Sharma op 150 en Dhoni reeds onheilspellend ingegrawe, kort hulle 35 van vier boulbeurte. In daardie stadium het Imran Tahir en Dale Steyn elk een boulbeurt oor en Rabada twee. Toe Tahir nader geroep word om sy laaste boulbeurt af te stuur, het jy die benoudheid duidelik begin voel: die groentjie, Kagiso Rabada sou die 48ste en 50ste boulbeurte moes waarneem, met Steyn toevertrou met die voorlaaste beurt tussenin. Was dit AB se plan, wonder jy, of het hy sy somme verbrou?

Na nege vrugtelose boulbeurte – waarin die Indiese kolwers nooit ongemaklik teen hom gelyk het nie – begin Immy sy laaste beurt met Sharma aan die ander kant. Die vlug van die bybreker flous Sharma pens en pootjies. In daardie stadium moes hy die bal waarskynlik so groot soos ’n spanspek gesien het. Hy speel vroeg en skenk die maklikste denkbare vangkans aan die bouler. Nou voeg die gevaarlike Raina hom by Dhoni, kry twee van Imran se eerste bal, daarna een en toe Dhoni ook ’n enkellopie van Tahir se vierde bal aanteken, moet Raina weer slag bied.

Dit was die “verkeerde een”: die googly, die bal waarmee ons bybreker al sóveel van sy paaltjies ingeoes het.  Raina het gesloeg na ’n bal wat hy duidelik verkeerd gelees het, die bal het in na hom gedraai pleks van weg van hom af, die borand  van sy kolf het die bal hoog die lug ingestuur en JP se veilige hande het dit op diephalfby  ingewag.

Skielik, na een boulbeurt van Tahir, het 269/3 verander na 273/5.

Nog 31, met drie boulbeurte oor en steeds is Indië stewig in die saal...die Proteas is mos in elk geval “chokers”. Of hoe?

Vertel dit vir ’n twintigjarige kind met die naam Kagiso Rabada. Toe hy die bal by AB neem om die laaste boulbeurt te begin, was Dhoni en Binny steeds daar en was Indië slegs elf lopies duskant die wenteiken.

Na drie Rabada-aflewerings is dit 297/5 nadat Dhoni twee en een en Binny een van elk onderskeidelik aangeteken het en die tuisspan kort sewe lopies van drie balle. Met Dhoni daar, sekerlik ’n maklike teiken.

Toe tref Rabada die kol. Dis ’n bal wat Dhoni met suiwer vaart klop, en toe MS wil haak, is hy laat en word ’n boonste rant getref vir Kagiso om die res self te doen.

Nog sewe word van twee balle benodig...en Rabada bly koelkop, kry Binny op soortgelyke wyse as sy kaptein voor hom, staan een van sy laaste bal af en Suid-Afrika behaal ’n oorwinning wat hy nooit beskore was nie.

AB se beurt was skouspelagtig, verstommend en noodsaaklik, Tahir se twee paaltjies was onontbeerlik en het die deur oopgemaak en Rabada se laaste boulbeurt het van ’n wyse ou krieketkop op ’n bloedjong lyf getuig om die Proteas deur die deur te laat bars en die Indiërs te verpletter.

Rabada gaan nog baie vir ons beteken. Hy beskik oor ’n pragtige, vloeiende aksie wat hom groter beheer bied en terselfdertyd minder vatbaar vir beserings maak. Hy is boonop blitsig (om en by 150kpu), bestendig en op sy temperament het ek reeds gewys. Mense, en die outjie is net twintig jaar oud!

Die tabel hieronder vergelyk die twee spanne na elke vyf boulbeurte en toon duidelik hoe Indië se voorsprong algaande groter geword het en ook dat hulle tot en met die 45ste boulbeurt elke “sessie” van vyf boulbeurte elk “gewen” het.

Die laaste vyf boulbeurte, in ons kolfbeurt sowel as ons boulbeurt, was die verskil tussen twee baie sterk mededingers.

Let ook op die feit dat Suid-Afrika besonder swak tussen die 15de en 25ste boulbeurte met die kolf gevaar het (twintig en agtien in die twee vyfbeurtsegmente; gemiddeld 3.8 per boulbeurt). Wat kommerwekkend oor hierdie syfer is, is die feit dat dit juis in ’n stadium was waartydens Dhoni van Binny en Raina gebruik moes maak om sy “vyfde bouler” se tien boulbeurte te voltooi.

Net soos Indië, het  Suid-Afrika ook net vier voorslag-boulers in sy geledere gehad en moes AB tien boulbeurte tussen Duminy en Behardien inryg. Tussen hierdie twee het die Proteas 74 lopies prysgegee – heeltemal te veel.

Binny se syfers is ook misleidend: hy is eers aan die einde deur AB gestraf toe hy noodgedwonge moes boul nadat Ravichandran Ashwin (Indië se voorste draaier) beseer is en nie eens die helfte van sy kwota kon boul nie.   

Maar, nou-ja, moenie dat ons met te veel tegniese bespreking hierdie lekker wen bederf nie!

Statistiek

BB                  RSA                IND                             VOORSPR

5          23/0                23        26        26/0                IND     3

10        48/1                25        33        59/1                IND     11

15        75/1                27        31        90/1                IND     15

20        95/1                20        26        116/1              IND     21

25        113/2              18        19        135/1              IND     22

30        139/2              26        41        176/1              IND     37       

35        164/3              25        18        194/2              IND     30

40        194/3              30        20        214/3              IND     20

45        238/4              44        44        258/3              IND     20

50        303/5              65        40        298/7              RSA    5

● Na afloop van elk van die nege 5-boulbeurt sessies wat die laaste sessie voorafgegaan het, het Indië ‘n voorsprong bo Suid-Afrika geniet.

● In die eerste ses van daardie sessies (m.a.w. tot na ad flop van die 30ste boulbeurt) het Indië sy bestaande voorsprong vergroot.

●Dit het tot gevolg gehad dat die tuisspan na 30 boulbeurte 37 lopies voor die Proteas was – gemiddeld 1.2 lopies per boulbeurt meer as die Suid-Afrikaners – met ‘n ekstra paaltjie in die bank (176/1 teenoor 139/2).

●Indië het 46 van die laaste 5 boulbeurte benodig – met 7 paaltjies staande. Dit het op sy beurt beteken:

1) dat hulle slegs 2 lopies meer moes aanteken as wat hulle sonder verlies van ‘n paaltjie in die sessie tussen die 41 ste en 45ste boulbeurt aangeteken het; en (44/0); en2)  dat hulle ‘n verlangde kolftempo van 4 lopies per boulbeurt MINDER as die Proteas moes handhaaf omdat hulle 20 lopies voor was met 5 boulbeurte oor.

●In die Suid-Afrikaanse beurt het AB en Behardien 29 balle van die laaste 5 boulbeurte oorgehad nadat JP vanaf die eerste bal van die 46ste beurt uit is. Behardien, vars voor die penne, het ‘n ongelooflike 35 van sy 19 balle gemoker (treftempo 184.2). En AB? Wel, hoe klink 30 van 10 (treftempo 300)? Die antwoord is eenvoudig: jy kan geen kolwer ter wereld met AB de Villiers vergelyk nie.

Die man is ‘n frats!

 

 

 

Raai by wie het die Georgiërs leer rugby speel?

Met Georgië wat in vanjaar se Rugbywêreldbeker ewe braaf hulle man teen die All Blacks gestaan het, het ALITA STEENKAMP Wynie Strydom se boek, Wynie: My Bloed is Blou, nadergetrek om te sien wat hy alles oor die Bulle se 2004-toer na hierdie land vertel. Hiermee twee kort uittreksels uit die boek.

In hierdie storie vertel Wynie van die wedstryd teen Georgië se nasionale span waar die skeidsregter skoon “trigger happy” geraak het.

Op toer in Georgië

“Oor hierdie toer kan ek byna ’n hele boek skryf aangesien daar soveel dinge op hierdie toer gebeur het. In 2004 het Georgië die Bulle uitgenooi om ’n wedstryd daar teen hulle te kom speel. Georgië, wat vroeër deel was van die USSR, is ’n Oos-Blokland wat in 1991 onafhanklikheid gekry het. Nadat ons hierdie uitnodiging ontvang het, het die bestuurspan besluit om dit ons voorseisoen-oefenkamp vir die Curriebeker te maak. Ons het Georgië gevra vir nog twee ekstra wedstryde en daaroor was hulle al te bly. Daar was nog ’n doel met hierdie toer en dit is dat ons afrigters, Heyneke Meyer, Mike Bayley, John Williams, John McFarlan, Johann van Graan, Vlok Cilliers en Basil Carzis, Georgië se afrigters so ’n bietjie touwys moes maak en opleiding gee.

’n Skare van 50 000?

Ons het ’n fantastiese ontvangs in Georgië gehad en die mense het uit hul pad gegaan om ons welkom te laat voel. Sondag 20 Junie 2004, om 18:00 het ons die derde wedstryd van die toer teen Georgië se nasionale span gespeel. Die keer in Tibilisi. Die sportmotor, Willem Strauss, wat ons gehelp het om die toer te reël, het gesê by hierdie wedstryd gaan die paviljoene volgepak wees, hy verwag ten minste 50 000 toeskouers. Met ons aankoms by die veld het ek Willem gebel. Die ander lede van die bestuurspan het om my gestaan en ek het my selfoon se luidspreker aangesit. “Willem, jy was reg oor die aantal mense wat by hierdie wedstryd opgedaag het, hier is maklik 50,” het ek vir hom gesê. “Genuine Wynie? 50 000 mense!” het hy opgewonde geantwoord.  “Nee Willem,”  sê ek toe vir hom,  “nie 50 000 nie. Net 50.” Agterna het ons baie lekker daaroor gelag. Daar was darem meer as 50, ongeveer 5000 mense. 

Hierdie was ’n baie opwindende wedstryd maar oor heel ander redes as die gewone. Tien minute in die wedstryd in het ons reeds 15 strafskoppe teen ons gehad. Ek weet nie of daardie skeidsregter al ooit ’n reëlboek onder oë gehad het nie. Ons kon net nie speel nie en elke liewe ding wat die spelers doen, was beboet met ’n strafskop. Net voor rustyd het die skeidsregter heeltemal “triggerhappy” geraak en hy het links en regs geelkaarte begin uitdeel. Nadat hy sy tweede geelkaart uitgedeel het vir ’n oortreding wat eintlik nie eers ’n strafskop verdien het nie, het Anton Leonard, die kaptein, dit heeltemal verloor en hy sê toe vir die skeidsregter in “Frans”: “For F...sake Ref!!!” Hierop het die skeidsregter vir Anton gesê: “I understand that. I understand For F...sake” en net daar het Anton ook ’n geelkaart gekry. Die volgende oomblik het hy die rustydfluitjie geblaas. Die rustydtelling was 8 - 8, maar dis te verstane indien jy na die aantal strafskoppe kyk. Die manne is moedeloos na die kleedkamer toe. Daar het nog byna tien minute met net 12 spelers op die veld voorgelê.

’n Boer maak ’n plan

Ons was glad nie gelukkig oor die toedrag van sake nie. Ek het tydens rustyd na die skeidsregter gegaan en alhoewel die kommunikasie moeilik was, het ek vir hom gesê ons span gaan nie ná rustyd terug op die veld as ons net met 12 man moes speel nie. Hy het eers ’n bietjie gehum en ha maar uiteindelik toestemming gegee dat ons drie ander spelers in die manne wat geelkaarte ontvang het, se plek mag opsit.

Ek het sommer besluit dit is twak die en dieselfde drie spelers teruggestuur. Om Anton minder herkenbaar te maak, het ek vir hom ’n ander trui laat aantrek en ’n kopband om gebind. Na tien minute het die skeidsregter aan my beduie dat ek maar die drie “oortreders” mag terugbring. Nee wat, het ek vir hom gesê, hierdie drie is eintlik beter as die drie wat op was, ons los hulle sommer op die veld. Tussen al die omstrede beslissings deur wen die Bulle die wedstryd met 35 - 11.

Dit was nog nie die einde van die opwinding daardie aand nie. Ná hierdie wedstryd is die Bulle genooi vir ’n onthaal en ’n biermaatskappy van Georgië het die aand geborg.

’n Kompetisie van ’n ander aard

Tydens die funksie het hulle vir my kom sê Georgië se bierdrink-kampioen is daardie aand een van die eregaste en hulle wil graag ’n kompetisie hou. Een van ons spelers moes teen hulle bierdrink-kampioen aan ’n kompetisie deelneem om te sien wie kan die vinnigste drink.

Die spelers het voorgestel dat ons vir Danie Rossouw moet nomineer as die Bulle se verteenwoordig. Die ouens het ses literglase bier op ’n tafel neergesit en Danie en die Georgiër het aangetree. Elkeen moes sy drie glase bier so vinnig as moontlik afsluk. Wanneer jou eerste glas leeg is moes jy dit eers op jou kop omkeer voordat jy die volgende een begin drink.

Ek het na Georgië se bierdrink-kampioen se bou gekyk en presies verstaan waarom hy die kampioen was. Daardie man was groot! Hy was twee keer Danie Rossouw se grootte en Danie is nie die kleinste outjie wat ek ken nie.

Die skeidsregter het afgetel en die manne het hulle eerste glas bier gevat. Die Georgiër het skaars sy tweede een klaar gemaak, toe sit Danie Rossouw sy derde leë glas neer. Onder groot applous van die span, en die Georgiërs, is Danie gekroon as die bierdrink-kampioen van die aand. Die arme bierdrink-kampioen van Georgië het so skaam gekry oor die manier waarop hy verloor het, hy het daar en dan in sy kar geklim en huis toe gery. Hy het seker lank daarna nog sy wonde gelek.”

Tommy Smook vertel van die wedstryd in Georgië waarin Wynie self uitgedraf het.  Tommy was tydens daardie toer die Bulle se spandokter .

Die Golden Oldies pak mekaar

“Met ons Georgië-toer het ons elke aand wanneer ons saam met die bestuurspan van Georgië gekuier het, gereeld rugby gesels. Een van Georgië se bestuurspanlede was soort van hulle nasionale hero gewees want hy het op sy dag vir die nasionale span vleuel gespeel. Almal het toe begin gesels oor die dae wat hulle self gespeel het en nadat hierdie oudvleuel gehoor het hoeveel oudrugbyspelers daar in ons bestuurspan was,  het hy toe begin karring aan ons bestuurspan. Hy wou hê dat ons ’n “Golden Oldies” wedstryd moes reël waarin ons twee bestuurspanne kragte kon meet.

Heyneke wou aanvanklik niks weet dat ons so ’n wedstryd speel nie en het gesê ons gaan net met beserings sit. Maar hoe meer daar oor hierdie wedstryd gepraat is, hoe meer het die ouens begin dink dat dit dalk baie lekker kan wees om weer ’n bietjie rugby te speel.

Uiteindelik was almal, behalwe Heyneke, omgepraat om dit te doen en baie opgewonde oor die idee.

’n Belangrike voorwedstryd

Die wedstryd word toe beplan vir die dag wat die Bulle teen Georgië se nasionale span speel en dit sou sommer dan die hoofvoorwedstryd wees. Uit die aard van die saak sou dit ’n vriendskaplike wedstryd wees. As spandokter het ek self nie gedink dat dit die beste idee is nie, maar ek wou ook nie die manne se geesdrif demp nie en ek het besluit ek sal maar my deel van die kantlyn af doen. Voor die tyd sou ek help met die strapping en na die tyd, indien daar enige skete en pyne is, sou ek ook maar weer dokter waar ek kan.

Die hele wedstryd is eintlik beplan terwyl ons lekker gekuier het en ek weet nie of die ding ooit mooi nugter bedink is nie. Uiteindelik het die manne toe die span gekies. Om die waarheid te sê, dit was nogal ’n goeie span met manne soos Johann van Graan, Vlok Cilliers, John McFarland,  Mike Bayley Basil Carzis, John Williams en Wynie. Vlokkie kon nog boonop goed skop ook so hy was omtrent ’n aanwins. Om ons span volledig te maak, sou die Georgiërs vir ons spelers leen.

’n Voorspelling oor Heyneke word waar

Voor die wedstryd het ons ’n hele okkasie daarvan gemaak en Wynie het selfs reëlingsbriefies vir almal wat sou speel gegee. Daarop is al die reëlings van die dag presies aangedui. In die spankamer in die hotel het Wynie vir Heyneke Meyer aangekondig en hy het gesê hy het hierdie spesiale afrigter uit Suid-Afrika gekry wat nog eendag sekerlik die Springbokspan gaan afrig, om spesiaal vir ons die truie te oorhandig. Daarna het Heyneke ’n speech gemaak. Met sy spanpraatjie, het Wynie grappenderwys gesê dat dit ’n baie belangrike wedstryd is, vir die meeste van ons ’n eerste internasionale wedstryd. Ons doen dit nie net vir mekaar nie, ook nie net vir die Bulle nie, maar ons doen dit ook vir Suid-Afrika. Wynie het geëindig met: "As jy voel jy is bang vandag, moet dit nie vir my sê nie want ek is nog banger.”

Die manne was heel opgecharge vir hierdie wedstryd en die atmosfeer later in die kleedkamer was kookwater. Ons het nogal moeite gedoen met al die strapping want hierdie manne het lanklaas rugby gespeel en die strapping is oral aangebring om beserings te voorkom. Voor die tyd het hulle elkeen ’n glasie “Energade” gekry en toe hulle dit down, het hulle agtergekom dat dit Red Heart en Coke was. Die  Georgië-spelers wat in ons span was, se asem was byna weggeslaan met hierdie “energiedrankie” maar daarna was hulle behoorlik warm vir hierdie wedstryd. Eintlik het almal dit baie lighartig opgeneem en alles was in ’n goeie gees.

Nadat die wedstryd begin het, het ek gou besef hierdie was nie ’n goeie plan nie en daar was sommer gou baie beserings. Op ’n punt het Georgië soveel beserings gehad, hulle kon nie verder speel nie want hulle was een man kort. Ons span was net te sterk vir hulle. Hulle kaptein het toe na ons toe gekom en gevra dat ons vir hulle van ons spelers moet leen. Johann van Graan het ingestem en een van hulle truie aangetrek en aan hulle kant gaan speel.

Die beseringspook tref hard

Nadat hierdie ruiltransaksie het dit effe beter gegaan met Georgië. ’n Minuut ot twee voor die eindfluitjie moes blaas, het Wynie gereed gemaak om ’n bal te vang. Johann, in die opponente se kleure, het op hom afgestorm.  Wynie het vir hom geskreeu: “Johann, ek gaan jou dummie, jy tackle my nie!”, maar dit was te laat. Die volgende oomblik het Johann vir Wynie platgeduik en Wynie het net daar bly lê, met twee gekraakte ribbes.

Dit was nie net Wynie wat seer gekry het nie. Mike Bayley het sy hamstring geskeur en John McFarland moes ook voor die tyd af weens rum-vergiftiging. Heyneke wou hom doodlag en het nie simpatie gehad nie. Jy ken mos die gevoel wanneer iemand vir jou na die tyd sê: “Ek het jou mos gesê!”

Ek moes toe meer pleisters en pille en verbande uitdeel as wat ek aanvanklik gedink het. In die vliegtuig op pad terug huis toe, was Wynie baie stiller as gewoonlik. Ek dink sy ribbes was vrek seer en hy het selfs moeilik asemgehaal.  Die ander manne was ook maar styf en seer.  Dit was glo die laaste keer wat enige bestuurspan probeer het om weer rugby te speel. Gelukkig het hulle hierdie eerste en enigste wedstryd ver gewen.”

Wynie, My Bloed is Blou – Wynie Strydom met Alita Steenkamp is by jou naaste boekwinkel beskikbaar.

Zebra Press ISBN 978-1-77022-770-5

Terug Terug na bo