JOIN OUR MAILING LIST

18 Mei 2016

Ons geliefde Bokke: ’n Nuwe era breek aan

Die Springbokke is nie net uitgelewer aan moeilike politieke tye wat voorlê nie – danksy ons koddige minister van sport, Fikile Mbalule se afdreigings- maar die nuwe Bok-afrigter, Allister Coetzee, het ook ʼn steil opdraande pad vorentoe.  OUPA RHOODIE wil dat Nuuskantoor-News Desk se lesers saamgesels oor die nuwe era wat nou op die Bokke wag.

Arme Allister

Ons weet almal dat ’n Springbokafrigter se kop 24/7 op ’n blok lê; al wat kort is die byl om die finale nekslag toe te dien en dan is dit kapoet en koebaai met die man aan die stuur. (…moet net nie staan en verloor nie, boetie…)

Nou wat maak Allister se veldtog dan nou soveel moeiliker as dié van sy voorgangers? Etlike faktore. Kyk ’n bietjie hier:

  1. Heyneke se filosofie en nalatenskap

Meyer het hom grootliks tot ervaring verbind. Op daardie grondslag het hy Habana, De Villiers, Fourie du Preez, Jannie du Plessis, Bismarck du Plessis, Victor Matfield, Beast Mtawarira en Schalk Burger, onder andere, by sy strategie betrek. Ons weet almal dat dit nie goed genoeg was nie.

Coetzee sal noodgedwonge van hierdie strategie moet afwyk, innoverend moet dink en minder ervare, maar meer talentvolle spelers in die diep kant ingooi…en hoop vir die beste.

Kortliks; Allister sal moet waag met jongelinge en ’n gebrek aan ervaring. Hierdie strategie, op sigself, is gevaarlik; maar Coetzee het waarskynlik geen keuse nie.

Die feit bly staan: Meyer se onbeholpenheid en oordrewe konserwatisme laat Allister met geen keuse nie: hy kan nie op dieselfde ervare spelers terugval nie -- hy moet ’n nuwe rigting inslaan.

Wat behels die “nuwe rigting”?

Eerstens sal Allister “voetballers” moet nader trek. Dis manne wat vernuf en balvaardigheid openbaar. Dis manne wat kan pypkan, aflaai, op hul voete bly en deel van die spel bly so lank as wat jy vra. Dis manne wat om ’n opponent kan hardloop, eerder as oor hom. Dit sal skrille kontras bied tot Meyer se gedagterigting van “krag is mag”.

Tweedens sal Allister, in die proses, hom minder moet steur aan die massa van spelers, veral onder die agterste sewe. Gewig en grootte kan nooit vernuf en vaardigheid vervang nie. Meyer wou dit nie glo nie en ek hoop en glo Coetzee sal.

Derdens, en hier lê die werklike knoop, sal Coetzee op die nommer van onervare spelers moet druk: die mislukking van ervaring (en massa) onder Meyer laat hom met geen keuse nie.

En die jongelinge sal moet uithaal en wys.

  1. Ons vertoning in Superrugby

Laat niemand jou iets anders vertel nie. Ons vertoning in Superrugby toon dat ons ligjare agter die Kiwi’s is. Ek hoef nie eens statistiek nader te trek om dit te bewys nie, want dit spreek vanself.

Vra jouself net hierdie enkele vraag: sal enige Suid-Afrikaanse span ooit met 50-17 wen teen enige Nieu-Seelandse span in Nieu-Seeland? (Dit was die telling teen ons beminde Leeus toe die Hurricanes ons op Ellispark besoek het).

Natuurlik nie. Nie in 2016 nie.

I rest my case.

  1. Politiek

Ons kan dit nie wegwens of ignoreer nie: die regerende party se onverbloemde beleid om sport (veral, skynbaar, rugby, atletiek, krieket en netbal) “demografies meer verteenwoordigend” te maak, is ’n nare werklikheid. Vergeet net vir ’n oomblik van die meriete van die argument, die Glock bly ferm teen Allister se kop.

Op hierdie gebied voel ek nogal heel gemaklik, hoewel ek weet dat oudstryders wat steeds glo dat rugby eintlik net vir groot, sterk wit Afrikaners bedoel is, met my sal verskil, en my daaroor selfs sal wil stenig.

My gemak hiermee spruit daaruit voort dat Coetzee met eerlike oortuiging spelers van kleur kan kies wat aan die geleerde minister van sport se “kwotas” sal voldoen. En hy sal dit kan regkry sonder om meriete of kwaliteit in te boet. Is dit nie juis wat ons altyd bepleit het en steeds op aandring nie? Dat ’n span “suiwer op meriete” gekies moet word!

  1. Verwagtinge

Daar’s nie tyd nie. Coetzee moet oor enkele weke reg wees met ’n span wat drie toetse teen die Iere moet speel en hulle móéet wen. Dit help nie hy protesteer dat hy met “spanbou” besig is met die oog op die Wêreldbeker twee jaar later nie. Die Suid-Afrikaanse publiek wil nou  wen en ons wil aanhoudend wen: newwermaaind “voorbereiding” en “spanbou”.

Die positiewe

Hierteenoor, en net om die nuwe afrigter ’n rapsie beter te laat slaap, is daar darem heelwat positiewe dinge ook:

  1. Hy is ’n goeie afrigter. Niemand in die Republiek het die afgelope 10 jaar of wat beter gevaar op provinsiale vlak nie en hy was boonop lid van White se suksesvolle veldtog in 2007.
  2. As gekleurde sal die druk ietwat ligter op hom wees.
  3. Hy is uiters professioneel, beleefd en waardig.
  4. Hy is ewe vlot in drie tale en is ’n uitstekende spreker.
  5. Weens sy merkbare en onbetwisbare goeie opvoeding sal hy nooit die geliefde Springbokbaadjie oneer aandoen met histeriese en onvolwasse gedrag nie, ondanks sy klaarblyklike passie vir die spel en sy span.
  6. Die spelers respekteer hom.

Die span

Nou kom ons – uiteindelik – by ons leunstoel-“kenners” se heel lekkerste tydverdryf: die kies van ’n Springbokspan of –groep. In my keuses wat hieronder volg, het ek die volgende in ag geneem:

  1. Geen spelers met langtermyn-beserings is in ag geneem nie. Gevolglik is Marcell Coetzee, ons heel beste losvoorspeler (myns insiens) glad nie in die prentjie gehou nie.
  2. Ek het net ’n paar van ons oorsese spelers die afgelope paar maande dopgehou en vir doeleindes hiervan het ek my beperk tot die vorm van Dwayne Vermeulen, Johan Goosen en Francois Louw.
  3. Ek het prober om reputasie en geskiedenis heeltemal te ignoreer en om bloot op huidige vorm peil te trek.

Ek bespreek dan my keuses in elke posisie spoos volg:

15.       Hier is drie kandidate: Cheslin Kolbe (Stormers), Willie Le Roux (Haaie) en Warrick Gelant (Bulle). Ons weet almal wat Kolbe se “X-faktor” kan beteken. Aanhangers van Le Roux sal beweer dat hy ook daaroor beskik en dat hy boonop toetservaring het. Ek glo egter dat Le Roux swakker verdedig, swakker skop, minder betroubaar onder die hoë bal is en meer voorspelbaar is as Kolbe. Le Roux is boonop ’n ideale impakspeler van die bank af: as heelagter of vleuel. Gelant is ’n waardevolle belegging en met ’n rapsie meer ervaring, sal hy gouer eerder as later in die prentjie kom. Die naaste aan hierdie drie is waarskynlik SP Marais (Bulle).

14.       Geen speler het meer indruk op regtervleuel gemaak as Ruan Combrinck van die Leeus nie. Hy’t vaart, uitstekende voorgevoel, hy soek werk, sy verdediging is puik en hy kan ’n geleentheid “ruik”. Hy het min kompetisie. JP Pietersen, ondanks sy ervaring, lyk lui, belangeloos en huiwerig en sy ervaring is eenvoudig nie genoeg om hom in die prentjie te bring nie. Is sy dae getel? Travis Ismaiel (Bulle) moet fyn dopgehou word. Hy’s rou maar propvol talent.

13.       Aanvanklik het Francois Venter (Cheetahs) die grootste indruk gemaak, maar in die laaste paar weke het Jesse Kriel (Bulle) en Lionel Mapoe (Leeus) ook sterk na vore getree. Hier is ’n kopseer. Boonop is Juan de Jongh (wat ek op nr 12 bespreek) nie te versmaai op buitesenter nie. Johan Goosen speel tans uitstekende rugby in Frankryk, waar hy op 13 diens doen terwyl Dan Carter die rol van losskakel vervul. Watter beter leermeester het jy aan jou binnekant nodig? Ek het nog altyd baie van Goosen gehou en dit lyk my hy’t groot geword: hy kan dalk jou impakspeler wees wat 13, 12 en 10 van die bank af kan dek (Le Roux kan 15, 14 en 11 dek).

12.       Juan de Jongh (Stormers) lyk vir my aangewese hier. Sy besluitneming en bestuur op nommer 12 is uiters belangrik en sy ervaring en leierskapeienskappe op hierdie gebied is amper vanselfsprekend. Jan Serfontein (Bulle) is seker ook in die prentjie, maar ek het bedenkinge oor sy verdediging, dieselfde rede hoekom ek nie hier na Howard Mnisi (Leeus) kyk nie. Damian de Allende (Stormers) ? Tot op datum van hierdie skrywe is hy nie eens onder die top vyf nie en glad nie eens ’n skadu van die Springbok van 2015 nie. Hy was lank van die veld af en sal hard moet werk om sy vorm te herwin.

11.       Lwazi Mvovo. Hier is ’n goor leemte. Mvovo (Haaie) is nie naastenby in dieselfde klas as die beste Kiwi-vleuels nie, maar ek kan werklik nie iemand anders in die nommer 11-trui sien nie. Hy is betroubaar onder die hoë bal, verdedig goed en beskik oor goeie voorgevoel en algemene balvaardigheid. Nie die grootse sneller nie, maar wie anders? Ek glo werklik ons moet nou begin om oor Bryan Habana se kop te soek na ’n linkervleuel.

10.       Elton Jantjies (Leeus) het eenvoudig nie sy gelyke in hierdie land nie – en ek sluit ’n fiks Handrè Pollard (Bulle) en Patrick Lambie (Haaie) in. Elton se lees van die spel, sy voorgevoel, sy tydsberekening en aflaai, is wêreldklas. Hy’s die generaal wat jy soek om ’n wedstryd te dikteer. En hy kan ook pale toe skop.

9.         Die oomblik as jy op Jantjies op 10 besluit het, volg jou nr 9 amper vanself: Faf de Klerk (Leeus). Die kombinasie tussen hierdie twee puik rugbyspelers is sodanig dat jy dit nie durf verbreek nie, De Klerk bied uitstekende diens aan sy losskakel: hy maak blitsig skoon en weet wanneer om sy nommer 10 te beskerm, wanneer om te skop en wanneer om te breek. Hierdie buksie is goud. Dis uiters moeilik om oor sy plaasvervanger te besluit, want daar is heelwat (redelike) goeie kandidate, maar na oorweging dink ek tog dat sy Leeu-spanmaat, Lionel Cronjé, dalk net die antwoord van die bank af mag wees. Rudy Paige (Bulle) is ook in die prentjie, maar nie voordat hy sy vorm van 2015 herwin het nie.

8, 7 en 6:         Ek gooi die hele boksemdaais bymekaar, want met ons oorvloed van gehalte-losvoorspelers, is dit eenvoudig onmoontlik om een spesialis vir elke posisie uit te sonder; selfs in die afwesigheid van Marcell Coetzee. Hier is my lys van manne wat volgens my in aanmerking moet kom:  Duane Vermeulen (Stormers), Warren Whiteley (Leeus), Francois Louw (Bath), Sikhumbuzo Notshe (Stormers), Jaco Kriel (Leeus), Lappies Labuschagne (Bulle), Arno Botha (Bulle), Siya Kolisi (Stormers), Nizaam Carr (Stormers), Schalk Burger (Stormers). Persoonlik glo ek dat die kaptein uit die geledere van Vermeulen, Whiteley en Louw moet kom, met Burger as die buiteperd.

4 en 5: Niemand is meer vanselfsprekend as die Stormers-paar Pieter-Steph du Toit en Eben Etzebeth nie. Albei is eenvoudig wêreldklas. Hulle natuurlike “opvolger” was verlede jaar se Speler van die Jaar, Lood de Jager (Cheetahs). Ek is jammer om dit te moet sê, maar Lood het vanjaar eenvoudig “verdwyn”: die vuur, die passie en die honger ontbreek duidelik. Franco Mostert (Leeus) speel tans beter rugby as enige slot in die land en die Bulle se RG Snyman lyk elke week beter.

3;         Wat doen jy as jy met die volgende vaskoppe spog: Frans Malherbe (Stormers), Julian Redelinghuys (Leeus), Marcel van der Merwe (Bulle), en Vincent Koch (Stormers)? (Dan het jy boonop vir Trevor Nyakane beskikbaar, wat aan beide kante kan druk).

2.         Adriaan Strauss (Bulle) is seker voor in die ry, maar Scarra Ntubeni (Stormers), Malcolm Marx (Leeus) en Bongi Mbonambi (Stormers) sal niemand in die steek laat nie.

1.         Ook hier is daar genoeg spelers van werklike gehalte: Nyakana( Bulle), Tenderai (Beast) Mtawarira (Haaie) en JC Janse Van Rensburg (Stormers) lyk na die voorlopers.

Hierbo het ek 42 spelers uitgesonder war ek glo naby aan die span behoort te wees. Net 23 kan egter gekies word en 19 sal moet vertrek.

Hier’s my span:

15        Kolbe

14        Combrinck

13        Mapoe

12        De Jongh

11        Mvovo

10        Jantjies

9          De Klerk

8          Vermeulen

7          Louw

6          Kolisi

5          Du Toit

4          Etzebeth

3          Malherbe

2          Strauss

1          Nyakana

 

16        Mbonambi

17        Redelinghuys

18        Mtawarira

19        Mostert

20        Botha

21        Cronjé

22        Goosen

23        Le Roux

Kwotas? Nee wat, glad nie ’n probleem nie. Ek het 7 uit 15 spelers van kleur in my beginspan en nog 2 op die bank. Wie gaan hieroor stry?

Iewers sê iets vir my dat Allister Coetzee se keuse nie veel hiervan gaan verskil nie.

Ek sien uit om te hoor van die talle ander wat met my sál verskil,

Laat hoor van julle asseblief!

 

 

 

 

 

 

Terug Terug na bo