JOIN OUR MAILING LIST

Wie de hel?


Waaroor gaan dit nou eintlik?

Die hele idee van Nuuskantoor is niks anders nie as ʼn lekkerleeswebwerf waar enigeen kan kom kuier. Ons nooi jou om rustig terug te sit en lees aan ʼn potpourri van artikels en wetenswaardighede oor ons kuns en kultuur en ons mense se wel en weë. Natuurlik sal daar ook soms ’n bietjie omstrede harde nuus en onthullings wees wat ons ou volkie raak.

Nuuskantoor gaan met lag en ’n traan die dinge op Afrikaanssprekendes se pad, probeer meeleef. Daar is nie plek vir kleinlike politiekery of fanatiese randeiers in ons kantoor nie. Haatspraak en kwetsboelies is ook glad nie welkom hierso nie. Nog minder godsdienstige dwepers met al daardie snaakse samesweringsteorieë.

Kom ons hou die werf ʼn lekkerleeswebwerf en bly weg van die wêreld van trolle en bosluise.

Die redaksie van Nuuskantoor belowe om sy werf na wense te vee vir enige omgewenste indringers, maar sal sy lesers se hulp nodig hê om alles hier ordelik en binne die waardes van ordentlike mense se behoeftes te bestuur.

Nuuskantoor behou homself dus die reg voor om summier van ongewenste materiaal en kommentaar ontslae te raak en ongewenste elemente tot in die buitenste duisternis te verban.

Taalbeleid

Hoewel Nuuskantoor merendeels in Afrikaans publiseer sal daar tog sekere artikels en nuusbrokkies in Engels verskyn. Dit is veral in die Wyd en Syd se afdeling en waar daar ondersoekende artikels gepubliseer word en waar dit op ʼn wyer, internasionale mark gerig is. Daar kom lekker leesverhale, wat deur Suid-Afrikaners wêreldwyd uit die buiteland geskryf gaan word, en wat in Nuuskantoor gaan verskyn. Dié Suid-Afrikaners wil graag dat hul vriende en kenisse in hul nuwe aangenome lande ook die geleentheid kry om te lees wat hul van hul nuwe tuistes skryf.

Wie de hel sit agter Nuuskantoor?

De Wet Potgieter se produktiewe en soms omstrede loopbaan as joernalis skop af in 1975, kort voor die Soweto-opstande en Suid-Afrika se inval in Angola.

Hy werk aanvanklik as militêre korrespondent en misdaadverslaggewer vir verskeie koerante. In 1988 word hy as ondersoekende joernalis by die Sunday Times aangestel. Dié pos beklee hy vir sewe jaar en van daar skuif hy na Rapport, waar hy 11 jaar lank gereeld voorbladstories lewer.

Uit sy pen het daar reeds ’n hele paar opspraakwekkende boeke verskyn waarin hy feite, vreemder as fiksie, openbaar, onder andere Contraband, South Africa and the International Trade in Ivory and Rhino Horn, Totale Aanslag: Apartheid se vuil truuks onthul, Kwart voor ’n Bloedbad, Black Widow White Widow en Grusaam.

Hy is ook deurgaans besig met uitgebreide ondersoeke na internasionale misdaadsindikate wat ook mettertyd onthul gaan word.

De Wet woon in Centurion en na meer as 40 jaar is hy steeds ywerig aan die skryf. Nuuskantoor is sy nuutste uitdaging in die lewe.

 

 

 





Terug Terug na bo